Paniek, ruolie en die wisselkoers se impak op kunsmismarkte

Gepubliseer: 17 April 2020

1652
Corné Louwsenior ekonoom, Graan SA corne@grainsa.co.za

Internasionale markte is baie deurmekaar. Groot olieproduserende lande se “oorlog” vir markaandeel en die beheermaatreëls om die koronavirus se verspreiding wêreldwyd te bekamp, het markte op hol.

Binne slegs ’n paar weke het die ruolieprys met 51% gedaal, terwyl die rand gedurende dieselfde tydperk met tot soveel as 20,6% verswak het. Hoe raak dit kunsmispryse? Aangesien meer as 80% van Suid-Afrika se kunsmisbehoeftes ingevoer word, gaan die verswakking in die wisselkoers beslis tydelik – én dalk langer – ’n impak op plaaslike kunsmispryse hê. Wanneer behoort ’n uitermatig laer ruolieprys kunsmispryse egter weer afwaarts te druk?

Fundamentele faktore wat die kunsmismark beïnvloed
Die wisselkoers
Die rand het vanaf Februarie 2019 tot Februarie 2020 met 8,7% teenoor die dollar verswak. Omdat Suid-Afrika meer as 80% van sy kunsmisbehoeftes invoer, beteken dit dat invoere heelwat duurder plaasvind as verlede jaar dieselfde tyd. Die effek hiervan word in Tabel 2 aangetoon.

Grafiek 1 toon die rand/dollar-wisselkoers en die Brent-ruolieprys oor tyd. Die dramatiese verswakking in die wisselkoers en die skerp daling in die ruolieprys die afgelope paar weke kan duidelik in die grafiek gesien word.

Grafiek 1: Die rand/dollar-wisselkoers en die Brent-ruolieprys oor tyd.

Internasionale kunsmispryse in dollarwaarde
Pryse van alle internasionale kunsmisgrondstowwe het in dollarterme die afgelope jaar skerp gedaal (Tabel 1). Die wisselkoers het egter vanaf Februarie 2019 tot Februarie 2020 met 8,7% verswak – ’n swakker rand beteken invoere kos duurder.

Internasionale kunsmispryse in randwaarde
Tabel 2 toon internasionale kunsmispryse in randwaarde aan. Internasionale pryse van ammoniak, ureum, DAP en kaliumchloried het met onderskeidelik 10,7%, 1,4%, 17,3% en 16,9% gedaal.

Tabel 3 toon aan wat in die afgelope maand met internasionale kunsmispryse gebeur het. Vanaf Januarie tot Februarie 2020 het pryse van ammoniak, ureum en DAP met onderskeidelik 4,6%, 6,1% en 11,6% gestyg, terwyl kaliumchloried met 1,3% gedaal het.

Plaaslike kunsmispryse
Tabel 4 toon gemiddelde plaaslike kunsmispryse oor ’n jaartydperk aan (pryslyspryse). Uit die tabel is dit duidelik dat, behalwe vir kaliumchloried, plaaslike prystendense redelik goed korreleer met die van internasionale pryse in randwaarde.

Dit is egter nie die pryse wat belangrik is nie, maar die persentasieverandering. Internasionale pryse is gebaseer op pryse in internasionale hawens en plaaslike pryse is gebaseer op gemiddelde pryslyspryse.

Tabel 5 toon aan wat die afgelope maand met plaaslike kunsmispryse gebeur het. Behalwe vir KAN het grondstofpryse redelik toegeneem vir Maart, met die rand wat steeds aan die verswak is.

Verwagtinge vir die res van 2020
Wanneer die fundamentele faktore in die kunsmismark in ag geneem word, kan verwag word dat kunsmisproduksie steeds hoër as die verwagte vraag vir die res van 2020 sal wees. Die skerp daling in die ruolieprys behoort energiekoste oor die algemeen laag te hou, wat veral stikstofpryse in bedwang kan hou. Vir die plaaslike mark is die sterkte van die rand teenoor ander geldeenhede baie belangrik. Hoe verder die rand verswak, hoe duurder raak invoere. Uit ’n fundamentele oogpunt beskou, kan internasionale kunsmispryse dus sywaarts beweeg of selfs daal, maar die wisselkoers sal bepaal of hierdie dalings in die plaaslike mark deurgegee kan word.

Die korona-effek
Paniek as gevolg van die koronavirus en die maatreëls wat lande in plek stel om die verspreiding daarvan te beperk, skep egter tans ’n heel nuwe dinamiek. In China het aanlegte sedert Januarie gestaan en die agterstand wat so veroorsaak is, sal nou ingehaal moet word. Dit kan hewige bottelnekke veroorsaak. Plaaslike maatskappye noem reeds dat die lewertyd (van bestelling tot arrivering van voorraad) aansienlik verleng is.

In Europa het van die lande hul aanlegpersoneel gevra om tuis te bly om die verspreiding van die virus te beperk, wat voorsieningsprobleme kan veroorsaak. Hoe lank markte geaffekteer gaan word deur die impak van maatreëls om die koronavirus internasionaal te bekamp, is moeilik om te voorspel.

Met goeie beplanning is plaaslike maatskappye egter van mening dat daar nie voorsieningsprobleme in die kunsmisbedryf hoef te wees nie. Paniekaankope kan egter tydelike tekorte veroorsaak.