May 2017

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Plaaslike produksie-insette wat in die graan- en oliesadebedryf gebruik word, word hoofsaaklik ingevoer. Alle landbouchemikalieë, die meeste landboumasjinerie, meer as 80% van ons kunsmisgebruik én ons brandstofpryse word op invoerpariteit bereken.

Internasionale insetpryse en die wisselkoers het daarom ‘n groot impak op die vorming van plaaslike insetpryse. Die tydsberekening ten opsigte van die tyd wat invoere plaasvind en die wisselkoers  wat geld, is derhalwe bepalend. Een ding is seker: Die volatiliteit in die wisselkoers maak beplanning van aankope ‘n groot uitdaging.

In hierdie artikel word gefokus op internasionale kunsmispryse en hoe die wisselkoers ‘n impak het op die manier waarop dit in die plaaslike kunsmismark deursyfer.

Internasionale kunsmispryse in dollarwaarde
Omdat meer as 80% van Suid-Afrika se kunsmisbehoeftes ingevoer word, het internasionale pryse en die wisselkoers ‘n groot impak op plaaslike kunsmispryse. Behalwe vir kaliumchloried, het kunsmisgrondstowwe internasionaal oor ‘n jaartydperk gestyg (Tabel 1).

Die wisselkoers
Die wisselkoers het vanaf Maart 2016 tot Maart 2017 met 15,8% versterk – ‘n sterker rand beteken ingevoerde goedere kan goedkoper ingebring word. Die wisselkoers het egter vanaf 24 Maart vanjaar tot 10 April vanjaar weer met 12,3% na R13,92 verswak, ná die Kabinetskommeling en kredietafgraderings plaasgevind het. Grafiek 1 illustreer wat op ‘n daaglikse basis oor ‘n jaartydperk met die wisselkoers gebeur het. Gedurende hierdie tydperk was die rand op sy swakste op R15,91 teenoor die dollar en op sy sterkste op R12,40 – dit verteenwoordig ‘n versterking van 22,1% in die waarde van die rand. 

Internasionale kunsmispryse in randwaarde
Tabel 2 
toon internasionale kunsmispryse in randwaarde. Uit die tabel is dit duidelik dat die versterking in die wisselkoers ‘n be duidende rol kan speel in hoe internasionale pryse in die plaaslike mark kan deursyfer. Internasionale kunsmispryse het in randwaarde jaar-op-jaar tussen 1,4% en 24,6% gedaal – hoofsaaklik as gevolg van die versterking in die waarde van die rand.

Plaaslike kunsmispryse
Tabel 3 
illustreer gemiddelde plaaslike kunsmispryse (pryslyspryse). Uit die tabel is dit duidelik dat plaaslike pryse nie naastenby tot dieselfde mate as internasionale pryse in randwaarde gedaal het nie.

Kan dit moontlik aan die wisselvalligheid van die wisselkoers toegeskryf word? Alhoewel die wisselkoers op ‘n gemiddelde basis sterker as ‘n jaar gelede is, maak die volatiliteit van die rand op ‘n daaglikse basis besluitneming ‘n groot uitdaging. Dit kan heel waarskynlik verduidelik waarom plaaslike pryse nie tot dieselfde mate as internasionale pryse in randterme gedaal het nie.

As gevolg van die groot hoeveelhede kunsmis wat ingevoer word, moet produsente steeds internasionale kunsmispryse in randwaarde gebruik om met kunsmismaatskappye te onderhandel. Dit is nie die pryse wat belangrik is nie, maar die persentasie verandering.

Internasionale pryse is gebaseer op pryse in internasionale hawens en plaaslike pryse is gebaseer op gemiddelde pryslyspryse.

Publication: May 2017

Section: On farm level