Winsgewendheid; invloed bly ons teiken

Gepubliseer: 3 Mei 2022

911

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

By verskeie geleenthede die afgelope paar maande het ons telkens bevestig dat die hooffokus van Graan SA die winsgewendheid van graan- en oliesaadprodusente is – met ons doel om dit te help bevorder om sodoende volhoubare plaaslike produksie te verseker.

Die sukses hiervan is onderhewig aan ’n legio aksies, funksies en ondersteuning wat ons as die graanbedryf moet vervul om ’n impak te kan maak. ’n Wesenlike deel hiervan word bepaal deur Graan SA se vermoë om belang­hebbendes in die voedselwaardeketting, maar veral die regering van die dag, te beïnvloed. Om egter te “beïnvloed”, moet daar verstaan word. Dit is nou agtergrondskennis en die vermoë om te verstaan wat vir ons as ’n land, maar spesifiek vir die breër ekonomie, belangrik is om te kan groei.

Hoewel die term voedselsekerheid deesdae lukraak rondgegooi word, is dit van kardinale belang dat almal – veral die regering en Jan Publiek wat die wer­kersklas insluit – deeglik besef dat veilige en genoegsame voedsel vir almal bekos­tigbaar moet bly om die land vorentoe te neem. Landbou het, veral gedurende die afgelope twee jaar, die ekonomie besonder goed ondersteun en gedra. Die realiteit is egter dat stagflasie (’n era met stadiger ekonomiese groei, hoër inflasie en werkloosheid asook stygende rentekoerse) heel waarskynlik vir ons om die volgende draai lê en loer. Die navigasie hierdeur gaan beslis nie maklik wees nie!

Tydens ons vorige Hoofbestuursvergadering het personeel en hoofbestuurs­lede die geleentheid gehad om koppe bymekaar te sit en mooi te besin oor die grootste uitdagings wat graan- en oliesaadprodusente in die gesig staar. Die groep van ongeveer 50 passievolle individue is in vyf groepe verdeel om oor graanproduksie-uitdagings en -oplossings te dinkskrum en dit was eenvoudig ongelooflik om die eensgesindheid in die terug­voer te sien. Ek het dadelik besef dat dié uitkomste die fondasie moet vorm van ons toekomstige strategie. Met ’n groot kontingent van personeel wat die uitdagings daarna terug by die kantoor verder gaan uitpak het, is die basis vir ons pas afgelope strategiese beplanningsessie neergelê.

Die uitkoms hiervan, nadat ons die bal behoorlik rondgeskop het, was duidelik: Maak seker dat die produsent op die grond winsgewend en volhoubaar is. Aangesien dit verskeie funksies vereis, is die vermoë om te beïnvloed ongelooflik belangrik. Graan SA is in ’n groot mate soos ’n katalisator in ’n chemiese reaksie wat gebruik word om die reaksie op ’n bepaalde wyse te versnel (of in sommige gevalle te vertraag of selfs te voorkom) sonder om self deur die reaksie verteer te word. Nou is die vraag: Hoe rat ons Graan SA om sinvol en met impak te kan beïnvloed? Wel, dié visie sal ek binnekort in ’n aparte hoofartikel deel en ek sien uit na die betekenisvolle bydrae wat die voorstelle in ons organisasie teweeg kan bring.

Van reaksie gepraat: As ’n sportnasie weet ons om punte aan te teken, moet daar ’n vol, fikse en gemotiveerde span op die veld wees wat die spelreëls, wat ook oor tyd verander, die hoof kan bied. Toeskouers wat mekaar op die paviljoene vermaak se invloed is dikwels gering. Alhoewel dit nie altyd maklik of lekker is nie, is dit tog al telkens bewys dat verandering goed kan wees.

’n Voorbeeld hiervan is die paspoortsisteem vir grane en oliesade wat op die horison kop uit­steek. Dit sal vir seker reg benader moet word om betekenisvol en werkbaar te wees, maar ek sien ’n magdom onbedoelde voordele wat hieruit kan spruit, sou ons die sisteem reg ontwikkel en bestuur.­ Net soos hoogtelyne op trekkers se GPS-kaarte en die monitering van brande op veiligheidskameras byvoorbeeld nie die aanvanklike doelwitte van sulke sisteme was nie, voorsien ek dat diegene met ’n oopkopbenadering dalk meer eie voordeel sal trek as die voedselverbruiker wat op die paspoort begin aandring het. Geleenthede word elke dag aan ons gebied, maar om dit raak te sien, moet ons ontvanklik wees vir alle moontlikhede.

Mooi bly en geniet die plaas!