August 2017

DRS ANNELIE BARNARD en VICKI TOLMAY, LNR-Kleingraan, Bethlehem

LNR-Kleingraan het onlangs ‘n baie suksesvolle beplanningsvergadering gehou, waar rolspelers van oor die hele land byeengekom het. Hierdie vergadering word elke jaar aangebied om aan die kleingraanbedryf die geleentheid te bied om insae te verkry in die nuutste navorsing wat by LNR-Kleingraan gedoen word.

Afgevaardigdes van die Wintergraantrust, verskeie universiteite, die nasionale en provinsiale Departemente van Landbou van die onderskeie provinsies, die Landbounavorsingsraad, instansies soos Graan SA, Grain Farmer Development Association (GFADA), Technology Innovation Agency (TIA), die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL), die Kamer van Bakwese, die Meulenaarskamer, die Verbruikersraad en nog vele ander, het vergader om die aktiwiteite van LNR-Kleingraan onder die loep te neem.

Die doel van die vergadering is om die navorsingsbehoeftes van die bedryf te identifiseer, om navorsing te koördineer en om te verseker dat die navorsingsfokus van LNR-Kleingraan behoeftegedrewe en in lyn is met dié van die totale kleingraanwaardeketting. Die klem het veral op behoefte-gerigte navorsingsprojekte, koördinering tussen die verskillende rolspelers, koste-effektiewe dienslewering en navorsingsdienste aan die kleingraanbedryf geval.

Tydens hierdie vergadering is daar verslag gelewer oor die vordering met huidige navorsingsprojekte, terwyl sewe nuwe navorsingsprojekte voorgelê is. Hierdie navorsing sluit in:

  • Nuwe virusse in koring.
  • Die effek van swamdoders op blaarsiektes, opbrengs en kwaliteit van koring in die Wes-Kaap.
  • Molekulêre bepaling van onkruiddoderweerstand – die nuwe projek sal fokus op breëblaaronkruide sodat die diens wat tans ten opsigte van grasonkruide gelewer word, verder uitgebrei kan word.
  • Effek van onkruiddoders op verskillende koringkultivars en om moontlike opbrengsverliese wat mag voorkom, te bepaal.
  • Om chemiese en genetiese beheer van Karnal Brand en Fusarium te bepaal.
  • Om Russiese koringluis-weerstandbiedende teelmateriaal vir die toekoms te bewaar sodat plantetelers toegang daartoe sal hê.
  • Om materiaal met weerstand teen meeldou te ontwikkel. Sodanige materiaal moet steeds van goeie kwaliteit wees sodat plantetelers hierdie materiaal kan gebruik om beter kultivars daar te stel.

Navorsing ten opsigte van kiemplasma-ontwikkeling, kultivarontwikkeling, produksiepraktyke en plantbeskerming van die afgelope jaar is geëvalueer en gemeet teenoor internasionale standaarde. Die komitee het die projekverslae eenparig goedgekeur en die voorlegging van nuwe navorsingsbehoeftes ondersteun.

Verteenwoordigers van GFADA en TIA het ook geleentheid gehad om voorleggings te maak ten einde die vergadering oor hul aktiwiteite in te lig.

Die verteenwoordigers van die onderskeie onderafdelings van die kleingraanbedryf het ‘n mandaat aan LNR-Kleingraan verskaf om voort te gaan met hierdie tipe navorsing en om bestaande vennootskappe selfs verder te versterk.

Publication: August 2017

Section: Relevant