NAMPO Kaap 2019 was ’n reusesukses. Die groei word nie net gemeet aan die bykans 30% meer betalende besoekers deur die hekke nie, maar ook aan die toename in saketransaksies wat Bredasdorp NPC en Graan SA as die projekvennote, opgewonde maak.
Landbouers van oor die land en in besonder die graan-, vee- en uitvoerbedrywe van die Wes-Kaap is trots op die positiewe waarde wat vanjaar se NAMPO Kaap op Bredasdorp Park aan die suidelikste punt van Afrika ontsluit het. Tussen 4 en 6 September het vele produsente en hul gesinne, talle plaaswerkers en waardekettingrolspelers asook duisende verbruikers te midde van sagte, graanvriendelike reëns wat by tye geval het, kennis geneem van die landbou.
2019 oortref alle verwagtinge
Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, is hy tevrede. “Ons het baie groei gesien in die vennootskap tussen Graan SA en Bredasdorp NPC. Ons vertroue in mekaar is daar – die vraag is of die infrastruktuur kan bybly by die groei. Die getalle wys dat die produsente en ander mense hou van wat hulle sien en tydens die skou kan leer.”
Henk Aggenbach, voorsitter van die NAMPO Kaap-beplanningskomitee en Chrystal van Wyk, HUB van Bredasdorp NPC, meen NAMPO Kaap 2019 was ’n 100%-verbetering teenoor die afskopjaar, wat in 2018 reeds hul verwagtinge oortref het. “Wat verblydend is, is die talle besoekers uit die vrugte- en wingerdwêreld asook mense wat van ver af gekom het, soos wildkopers vanuit Musina in Limpopo en uitstallers uit Pretoria,” sê Henk.
“Donderdagmiddag was meer as die helfte van John Deere se voorraad uitverkoop en Claas het baie van hul groot trekkers en stropers verkoop. Meer as 30 bakkies is Woensdag hier verkoop. Dit geld ook vir verskeie ander handelaars. Op dag een al moes speelgoedhandelaars meer voorraad aanvra en van die kleiner stalletjies het Donderdag R30 000 en meer omset per dag geniet. Natuurlik bou almal ook kontakte en opvolgleidrade. Ons gemeenskapkosstalletjies, ondersteun deur besighede soos Spur en Moerse Padstal op Napier, het besonder goed gedoen en ons is dankbaar.”
Trekpleisters by NAMPO Kaap
“Vanjaar het die Watersentrum, wat in 2018 skaars voete gehad het, talle besoekers gelok wat herhaaldelik ingeloer het. Binne ses maande gaan die eerste demonstrasie-akwakultuurboerdery op Bredasdorp Park gevestig word as ’n opleidingsentrum vir instansies in vertikale landbou, wat studente sal vestig en markte vir hul produkte help ontwikkel.”
Jannie sê die balans tussen die regte uitstallers en die behoeftes van besoekers bly ’n prioriteit in die toekenning van stalletjies. “Dit is ’n fyn balans en sou iemand onttrek, is dit nie so dat die volgende naam op die waglys bloot goedgekeur word nie. Ons moet die graan-, vee-, vrugte-, wingerd-, blomme- en ander bedrywe van die Wes-Kaap deurentyd balanseer. Deur ferm reëls verseker ons gehalte. Dus kom daar jaarliks eintlik maar min nuwelinge by, maar bestaande uitstallers innoveer en bring onverwagte nuwighede na die volgende NAMPO Kaap.”
As ’n gassjef tydens die vroueprogram, sê Herman Lensing, kosredakteur van Sarie, dat “dit wonderlik is om tyd saam met die hartklop van die ekonomie deur te bring.” As ons die kosprodusente respekteer en beter hanteer, kan ons kos soveel meer geniet. Mense stap deur supermarkte en gooi sakke boontjies, mielies, uie of aspersies in die kosmandjie, maar dink nooit aan die mense daaragter nie. Daar is so baie mense wat elke dag op hul knieë en op genade boer vir wie ons nooit sien of voor dankie sê nie.”
Jannie voorsien nie dat NAMPO Kaap ’n formele handelskou word nie. Hy meen egter dat aktiewe deelname van die vrugte- en wingerdbedrywe internasionale uitstallers en kopers kan lok. “Ek hoor hier is Afrika-kliënte wat NAMPO Kaap kies vir al hul aankope, maar die uniekheid van die Wes-Kaap kan vanuit Europa en selfs verder ook deelname lok.”
Ontwikkeling en uitbreiding
Henk is dankbaar vir die suksesvolle opkomendelandbouprogram. “Ons en Graan SA het besluit om aanstaande jaar ook die graanbedryf by die veekomponent vir opkomende landbou te voeg. In 2020 sal hulle, waarskynlik vanaf 8 tot 11 September, ook deel kan wees van die nasionale Merino Classic wat tydens NAMPO Kaap aangebied word.”
Jannie sien die aanbied van NAMPO Kaap as waardetoevoeging asook erkenning van Graan SA aan sy “gewaardeerde Wes-Kaapse lede en betalers van die vrywillige heffing” en bedank hulle vir die kans om dienste aan produsente te lewer.
“Ons ploeg terug in die gemeenskap, netwerk met sake-afsprake en doen besigheid. Hier kan produsente kom moed skep. Ons het nie nou geld nie en moet eers veilig speel, maar ons sien wat hier op die park staan en kan optimisties planne maak. Ons wil boer, ons gaan boer en ons sal boer!” sê Henk.
April 2016
ALZENA GOMES, skakelbeampte: Graan SA en foto's: ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain
Graanprodusente, landbourolspelers, akademici, rege ringsamptenare en belanghebbendes het op 2 en...