August 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

Gewasproduksiestelsels het oor tyd dramatiese veranderings beleef, waarvan die grootste by bewerkingstelsels te bespeur is. Aanvanklik is grond betreklik vlak bewerk, maar oor tyd en met die koms van trekkers is die grond al hoe meer en dieper bewerk.

Bewerking was oorspronklik daarop gemik om onkruide te beheer. Die 2 m-rye wat geplant is met die oog daarop om onkruid meganies in die rye te kon beheer, is vir baie mense in landbou nog vars in die geheue.

Die bekendstelling van onkruiddoders soos parakwat en dikwat in die 1960’s het aanleiding gegee tot die begin van bewaringsbewerkingstelsels – iets wat gewasverbouingstelsels vir ewig verander het. Vandag is die holistiese benadering, wat alles omsluit en insluit, verseker die rigting om te volg.

Gewasverbouingstelsels
Gewasverbouingstelsels word nog hoofsaaklik volgens grond­bewerkingstelsels geklassifiseer en gevorm. Dít is waar die grootste veranderinge oor tyd voorgekom het. Dink maar aan die rip-op­die-ry-, spoorverkeer- of geenbewerkingstelsel – om ‘n paar te noem. Vir ‘n gewasverbouingstelsel om te slaag, moet die stelsel die natuurlike hulpbronne in ag neem en moet in harmonie met die natuurlike hulpbronne geproduseer word.

As die natuurlike hulpbronne, wat reën, grondtipe en die gronddiepte insluit, die potensiaal van 4 ton besit, moet daarvolgens bestuur word. Die gewasverbouingstelsel moet ook die bestuur van risiko’s insluit en aanspreek. Diversifikasie is ‘n gepaste manier om risiko te verskans – wisselbou het boonop ‘n positiewe effek op die stelsel. Ongelukkig vereis diversifikasie ‘n heelwat hoër mate van bestuursvaardigheid en kapitaal.

Wins per eenheid sal altyd belangrik bly. Die gewasverbouingstelsel moet ook die hoogste langtermynwins vir die produsent verseker. Dit beteken dat die rendement verkry, op elke inset bereken moet word en dat produsente pryse en hoeveelhede van insette moet kan bepaal en kan beplan.

Om nie oor tyd aan te pas en te verander nie, is die begin van die einde. Produsente moet aanpasbaar wees ten einde nuwe tegnologie in te span en te verander soos wat die vraag na produkte verander.

Bewerkingstelsels
Intensiewe grondbewerkingsaksies gee aanleiding tot die degradering van grond as hulpbron – en gevolglik ook die potensiaal van die grond. Produsente moet daarom besef dat grondbewerking ‘n sensitiewe aksie is wat met groot omsigtigheid benader moet word.

Die primêre doel van grondbewerking is:

  • Om groeitoestande te bevorder;
  • onkruid te beheer;
  • kompaksie op te hef;
  • vermenging van kunsmis en kalk met die grond te bewerkstellig; en
  • waterbestuur.

Indien grondbewerking verkeerd ingespan word, sal dit nie net negatiewe effek op die finansiële sy van boerdery hê nie, maar ook op die chemiese, fisiese en biologiese aspekte en eienskappe van die grond. Grondstruktuur en prosesse soos infiltrasie, deurligting, grondfauna-aktiwiteit en geakkumuleerde organiese materiaal word negatief beïnvloed.

Oor tyd het ons besondere groot verskuiwings in bewerkingstelsels gesien en beleef. In die 1960’s was die ploeg sekerlik die belangrikste implement en almal het dit gebruik. In die 1970’s – en veral in die 1980’s – het die gebruik van beitel- en skeurploeë na vore getree. Veral in die watertafelgronde het die gebruik van tandemskeurploeë met spoorverkeer ernstig posgevat.

Hierdie stelsels het ten doel gehad om die deklaag van die grond sover moontlik te behou en winderosie sodoende onder beheer te hou. Tog dink ek die groot verandering het gekom bloot omdat dit goedkoper as die konvensionele stelsels was en omdat die opbrengs nie noodwendig laer was nie. Finansies het derhalwe die verandering teweeg gebring.

Genoemde veranderings het tog ook ander voordele vir boerderye ingehou. Waterafloop en grondverlies is die prosesse wat die negatiefste invloed op grondpotensiaal het. Die vestiging van deklaagbewerking en die gebruik van tandimplemente het hierdie saak dramaties verander. Grondkompaksie is ook verminder, die afbreek van organiese materiaal is verlaag en die grond se waterretensie-eienskappe is verbeter.

Hierdie verandering in die bewerkingstelsels het ook nie sonder uitdagings gekom nie. Blaarsiekte, meer insekte, hoë bestuursvereistes en die aanskaf van nuwe toerusting wat binne die stelsel aangepas is, was van die uitdagings wat oorkom moes word.

Verminderde en deklaagbewerking het ook heelwat voordele vir die boerderygemeenskap teweeggebring. Die grootste hiervan was dat die hoeveelheid diesel wat verbruik is, dramaties afgeneem het. Wind- en watererosie is verminder en beheer en die stelsel het die saadtelers gedwing om die kultivars aan te pas om by die bewerkingstelsels te pas.

Ten einde hierdie stelsel te maak werk, het al die rolspelers in die bedryf hande gevat en die insette vir die stelsels só aangepas dat dit die beste resultate vir die stelsel opgelewer het. Gelukkig maak die finansiële lewensvatbaarheid van die stelsel ook sin.

In Tabel 1 word die resultate van ‘n proef op Cedara (wat oor elf jaar gestrek het) getoon. Hierdie resultate toon ‘n groot variasie tussen die verskillende stelsels. Volgens hierdie inligting is daar met die eerste oogopslag beduidende verskille tussen die stelsels, maar wanneer dit fyner ontleed word, is dit duidelik dat as al die kostes ingesluit is, daar nie werklik groot verskille is nie.

Verminderde bewerking
Verminderde bewerking het ‘n paar beginsels wat nagekom moet word: Die grond moet verkieslik so min as moontlik versteur word en die grondbedekking moet ten minste 15% van die oppervlakte beslaan – hoe meer, hoe beter.

Hierdie deklaag verminder die effek van wind- en watererosie en verhoog die grondvoedingstatus deur die afbreek van die plantreste. Sekerlik die belangrikste voordeel is die bestuur en vermindering van grondverdigting.

Buiten hierdie voordele, stel verminderde bewerking ook hoër eise aan produsente. Dit sluit kultivarkeuses en gewaskombinasie in, wat weer geïntegreerde pes-, plaag- en onkruiddoderprogramme vereis. Tydigheid raak al hoe belangriker, omdat die gebruik van verkeerde chemiese middels nie so oorkomelik is as wat die geval met meganiese foute is nie.

Die meeste van hierdie inligting is verkry uit die LNR se Mielie-inligtinggids (MIG) vanaf 2002 tot 2016. Vir navrae kontak die outeur by 082 759 2991.

Publication: August 2018

Section: Focus on