Die woord “wiskunde” ontlok gemengde gevoelens by vele mense. Sommige onthou dit as ’n vak vol uitdagings, terwyl ander dit as ’n noodsaaklike hulpmiddel vir die lewe beskou. Ongelukkig bestaan daar steeds die stereotipering dat wiskunde slegs vir “slim” mense bedoel is. In skole word leerders wat wiskundige geletterdheid neem soms onregverdig as minder begaafd beskou. Die werklikheid is egter dat elke mens daagliks met wiskundige konsepte werk, dikwels sonder om dit eers raak te sien.
Landbou is een van die sektore waar wiskunde elke dag sigbaar is. Boerdery is veel meer as die plant van gewasse en die versorging van vee. Dit is ’n beroep wat op bere-
keninge, metings, beplanning, ontleding en probleemoplossing berus. Elke suksesvolle boerdery gebruik daagliks wiskundige denke. Daarom het produsente ’n unieke geleent-
heid om nie net voedsel te produseer nie, maar ook om hul werkers en die volgende generasie wiskundig te bemagtig.
Boerdery is wiskunde in aksie
Moderne boerdery is waarskynlik een van die mees wiskunde-intensiewe beroepe wat daar is. Produsente bereken voortdurend hoeveel saad per hektaar geplant moet word, hoeveel kunsmis toegedien moet word, hoeveel water deur besproeiingstelsels gelewer moet word en hoeveel voer elke dier benodig. Hulle vergelyk markpryse, bereken wins-
marges en neem besluite op grond van waarskynlikhede en risiko’s.
Dit is nie net die produsent wat hierdie wiskunde gebruik nie. Plaasvoormanne, vee-
werkers, trekker- en besproeiingsoperateurs werk daagliks met getalle. Hulle meet afstande, tel voorraad, monitor waterverbruik en bereken hoeveel materiaal benodig word vir bepaalde take. Die kennis is reeds daar. Die uitdaging is om mense te help besef dat hulle reeds wiskunde gebruik en om daardie vaardighede verder te ontwikkel.
Wanneer werkers verstaan dat die berekening van ’n besproeiingskedule of die bepa-
ling van ’n voerrantsoen eintlik toegepaste wiskunde is, begin hulle die vak in ’n nuwe lig sien. Wiskunde word dan nie langer iets wat slegs in ’n klaskamer gebeur nie, maar iets wat elke dag waarde toevoeg op die plaas.
Voorbeeld 1:
Die dieseltenk hou 10 000 liter diesel. Diesel kos R30/liter. Wat kos dit om die dieseltenk vol te maak?
Voorbeeld 2:
Daisy, ’n jerseykoei, gee gemiddeld soggens 7 liter melk en saans 9 liter melk.
Kolkop, ’n frieskoei, gee gemiddeld soggens 10 liter melk en saans 5 liter melk.
Watter koei gee die meeste melk?
Die geleentheid om werkers te bemagtig
Een van die grootste bates van enige plaas is sy mense. Wanneer werkers beter kan bereken, interpreteer en beplan, verbeter produktiwiteit en besluitneming. Wiskundige geletterdheid dra nie net by tot beter werksprestasie nie, dit bou ook selfvertroue.
Produsente kan op eenvoudige maniere bydra tot hierdie ontwikkeling. Kort opleiding-
sessies kan aangebied word waarin werkers leer hoe om opbrengsberekeninge, begrotings of basiese finansiële beplanning te doen. Selfs iets so eenvoudig soos die verduideliking van renteberekeninge, skuldbestuur of huishoudelike begrotings kan ’n betekenisvolle verskil maak.
Werkers bestuur hul huishoudings dikwels met beperkte hulpbronne. Sterker nume-
riese vaardighede help hulle om beter finansiële besluite te neem, spaardoelwitte te stel en skuld te bestuur. Wiskundige geletterdheid word dus nie net ’n werksvaardigheid nie, maar ’n lewensvaardigheid.
Die belangrikste belegging: werkers se kinders
Hoewel die ontwikkeling van werkers belangrik is, lê die grootste geleentheid dalk in hulle kinders. In landelike gebiede word kinders van ’n jong ouderdom af aan boerdery blootgestel. Hulle sien trekkers, besproeiingstelsels, pakhuise en veekrale, maar ver-
staan nie altyd die wetenskap en wiskunde wat daaragter lê nie.
Dit is hier waar produsente ’n enorme verskil kan maak.
Leerders vra jaarliks: “Wanneer gaan ek ooit hierdie wiskunde gebruik?” Die antwoord is dikwels reg voor hulle oë. Elke hektaar wat geplant word, elke kalf wat geweeg word en elke tenk water wat gebruik word, bevat praktiese voorbeelde van wiskunde.
Wanneer kinders op ’n plaas sien hoe oppervlakte bereken word om saadbestellings te bepaal, hoe grafieke gebruik word om reënval te monitor of hoe tegnologie opbrengs-
data ontleed, begin wiskunde sin maak. Die vak kry betekenis omdat dit met die werk-
like wêreld verbind word.
Die krag van blootstelling
Uit my eie ervaring as ’n hoërskoolwiskunde-onderwyser weet ek dat leerders beter leer en verstaan wanneer hulle die relevansie van wat hulle leer, kan raaksien. Produsente hoef nie gekwalifiseerde onderwysers te wees om hierdie verskil te maak nie.
Hulle kan plaasbesoeke vir plaaslike skole organiseer. Hulle kan werklike data beskik-
baar stel vir skoolprojekte. Hulle kan vir leerders wys hoe GPS-tegnologie, presisieboer-
dery en moderne landboumasjinerie gebruik word. Hulle kan selfs eenvoudige kompetisies aanbied waarin leerders opbrengste, koste of waterverbruik bereken.
Sulke ervarings maak ’n blywende indruk. Dit wys kinders dat wiskunde nie net ’n vak is wat geslaag moet word nie, maar ’n hulpmiddel wat deure oopmaak.
Produsente as rolmodelle
In heelwat landelike gemeenskappe is produsente van die mees gerespekteerde entrepreneurs en leiers. Jongmense luister wanneer suksesvolle volwassenes oor hul werk praat.
Wanneer ’n produsent vir ’n groep leerders sê: “Ek gebruik elke dag wiskunde om belangrike besluite op my plaas te neem,” dra daardie boodskap dikwels meer gewig as wat enige handboek kan.
Produsente kan ’n nuwe verhaal oor wiskunde help skep. In plaas daarvan dat kinders die vak met vrees of mislukking assosieer, kan hulle dit begin verbind met entrepre-
neurskap, tegnologie, innovasie en sukses.
’n Klein belegging met groot opbrengste
Die ondersteuning van wiskunde hoef nie duur te wees nie. ’n Produsent kan pryse vir wiskundekompetisies borg, ekstra klasse ondersteun, vakansiewerkgeleenthede aan leerders bied of belowende jongmense mentor. Selfs gereelde gesprekke oor hoe berekeninge op die plaas gebruik word, kan belangstelling wek. Die belangrikste is nie die grootte van die belegging nie, maar die konsekwentheid daarvan. Soos enige saad wat geplant word, neem die resultate tyd om sigbaar te word, maar die opbrengs kan enorm wees.
Landbou van die toekoms
Die landbousektor verander vinnig. Vandag benodig die sektor nie net produsente nie, maar ook data-ontleders, landbou-ekonome, ingenieurs, tegnoloë, agronome en spesialiste in presisieboerdery. Al hierdie beroepe berus op ’n stewige grondslag van wiskunde. Wanneer produsente help om wiskundige belangstelling en vermoëns te ontwikkel, belê hulle nie net in individue nie. Hulle belê in die toekomstige volhoubaarheid van die landbousektor self.
Elke produsent weet dat ’n oes vandag begin met saad wat maande gelede geplant is. Dieselfde geld vir die ontwikkeling van mense. Wanneer produsente hul werkers en hulle kinders help om selfvertroue in wiskunde te ontwikkel, kweek hulle meer as vaardighede. Hulle kweek geleenthede, waardigheid en hoop.
Wanneer produsente in mense se wiskundige vermoë belê, produseer hulle nie net voedsel vir vandag nie, maar hulle help om die kundigheid te kweek wat môre se landbou gaan dra. Die nalatenskap van ’n produsent is dalk nie net wat uit die grond groei nie, maar ook wat in die gedagtes van mense ontkiem. Produsente kweek nie net kos nie – hulle kan ook die volgende generasie probleemoplossers, entrepreneurs, onderwysers, ingenieurs en landbouleiers kweek. Dié oes sal veel verder strek as die grense van enige plaas.

















