Medics-weidings wat werk

Gepubliseer: 13 April 2023

660
Dr Johann Strauss, Direktoraat Plantwe­tenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou Rens Smit,
Direktoraat Plantwe­tenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Weiding in die vorm van medics (Medicago spp) vorm deel van menige Swartland-plaas se produksiestelsel en ook tot ’n mindere mate in die Suid-Kaap in die omgewing van Caledon en Riviersonderend. Medics is die versamelnaam vir verskeie tipes van dié peulplant. Polymorpha (Medicago polymorpha), truncatula (M. Truncatula), “snail” (M. scutellata) en littoralis (M. littoralis) is almal voorbeelde en daar is verskeie kultivars binne hierdie groepe beskikbaar.

Die oorgrote meerderheid van die medics-tipes verkies gronde met ’n neutrale tot alkaliese pH (pH 6,5 tot 8,0) wat kleierige en klei-leemgronde insluit. Daar is wel tipes wat bietjie suurder gronde kan hanteer. Medics is ’n eenjarige peulplant wat uitstekende weiding in die winter in die Wes-Kaap verskaf. Dit vergelyk goed met lusern wat voedingswaarde betref, maar die kans is kleiner dat dit vee sal laat opblaas as lusern.As peulplant het medics die vermoë om stikstof uit die atmosfeer in die grond te bind deur die simbiotiese verhouding met Rhizobium-bakterieë. Dit is belangrik om te onthou dat medics-saad met die korrekte bakterieë geënt moet word om te verseker dat stikstof wel gebind word. Indien die enting suksesvol was, is daar die volgende jaar biologiese stikstof vir die opvolggewas beskikbaar, wat in die meeste gevalle koring is. Die stikstof wat gebind word, word ook nie alles op een slag vrygestel nie en daar is oor tyd ’n stadige opbou van biologiese stikstof in die grond.

Wisselboustelsel
Medics maak onkruidbestuur binne ’n wisselboustelsel meer effektief aangesien grasonkruide, soos raaigras, tydens die weidingsjaar bestuur kan word en dus die druk op die koringjaar verlig. As gevolg van die feit dat diere die weiding gebruik, kan onkruid ook op hierdie manier beter en goedkoper bestuur word. Dit dra alles by tot verlaagde insetkoste oor tyd en ondersteun die volhoubaarheid van koringproduksie.

In teenstelling met lusern wat meerjarig is, is medics ’n eenjarige weiding. Die voordeel wat die gewas wel het, is die feit dat dit effens hardskalig is. Wanneer medics dus gevestig is en peule na blom gevorm word, is die peule en die saad binne die peule effens hardskalig. Dit beteken daar moet eers ’n mate van verwering deur die omgewing of deur die spysverteringskanaal van diere plaasvind voordat die saad kan ontkiem. Indien medics dus goed gevestig en bestuur word, bestaan die moontlikheid dat daar elke jaar daarna ’n sekere persentasie van die saad sal ontkiem (rofweg so 20%) en die weiding self hervestig. Die kamp waarop die medics gevestig is, kan dus gelos word om self te hervestig in die jaar nadat koring verbou is. Dit bring die insetkoste met medics as deel van die stelsel af oor tyd.

Vestiging
Dit is wys om goeie, gesertifiseerde saad te gebruik wanneer medics die eerste keer gevestig word. Die plantdigtheid is gewoonlik tussen 10 kg/ha en 15 kg/ha. Dit kan ’n enkeltipe wees of – nog beter – ’n mengsel van verskillende aangepaste tipes vir die omgewing. Met ’n mengsel van verskillende tipes en groeiseisoenlengtes kan die produsent sekerder wees van ’n goeie eenvormige stand deur die hele seisoen. Soos met alle ge­wasse is dit belangrik dat grond­regstellings gedoen word in die kampe waar die medics gevestig gaan word. Medics beskik oor besonder fyn saad en moet dus redelik vlak geplant word, verkieslik nie dieper as 25 mm nie.

Aanvanklike bestuur (jaar 1 en 2)
Wanneer die medics gevestig word, kan die produ­sent grasonkruide gedurende die eerste jaar beheer. ’n Ligte beweiding later in die seisoen, maar voor blom, is voordelig. Daar moet net in gedagte gehou word dat genoegsame saad geproduseer moet word om toekomstige hervestiging te verseker. Dit is dan ook een van die voordele van ’n medics-weiding. Slegs 20% of minder van die saad in die peultjies ontkiem elke jaar, aangesien die saad hardskalig is. Dit is belangrik dat daar koring of ’n ander grasgewas die jaar daarna geplant word om te help om moontlike breëblaaronkruide te beheer en sodoende die druk op die daaropvolgende medics-jaar te verlig.

Weidingsbestuur (jaar 3)
Die jaar na koring word die medics gelos om uit die saadbank te hervestig. Indien die saadbank nie sterk genoeg was na die vesti­gingsjaar nie, kan dit dalk nodig wees om die weiding bietjie te versterk deur in te plant, maar dit behoort nie nodig te wees nie. Na die tweede medics-jaar (jaar 3 van rotasie) behoort daar egter oorgenoeg peule te wees indien die weiding reg bestuur is. Navorsing op Langgewens-navorsingsplaas in die Swartland het aangetoon dat daar ten minste 500 kg peule/ha moet wees om goeie hervestiging te verseker. Die peulhoeveelheid per hektaar moet egter fyn dop­gehou word, want as dit onder 500 kg begin daal, kan dit beteken dat daar ingesaai moet word. In die proewe op die medics-koring-stelsels is daar van die kampe wat in 1996 gevestig is wat nog geensins hervestig is nie.

Wanneer medics-weidings goed bestuur word, kan dit ’n produsent se stikstofbemestingsrekening beduidend verminder. Binne die langtermynproewe op Langgewens is die kunsmis al gesny tot tussen 20 kg/ha en 30 kg/ha vir koring en tot 40 kg/ha vir kanola na medics.

Holistiese benadering tot die bestuur van medics
Medics is ’n multifunksionele gewas en moet dienooreenkomstig bestuur word. As medics slegs as weidingsgewas bestuur word, gaan dit niks meer as net nog ’n weidingsgewas wees nie. Daar moet gestreef word om weiding, stikstof, diversiteit en afwisseling van chemie uit die medics-jaar te kry. Indien die medics oorbewei word, gaan die meeste van hierdie gewas se voordele verlore.

In medics wat goed bestuur word en waarvan die stand goed is, kan skape gebruik word om onkruide te beheer. Die onkruide wat in medics voorkom, moet ook verstaan word om die spesifieke on­kruid te teiken. Jong raaigras word byvoorbeeld deur skape verkies bo medics, mits die medics ’n goeie stand het. Terwyl die raaigras nog jonk is, kan skape in groot troppe, maar vir ’n baie kort periode (of baie groot kampe ’n bietjie langer) op die medics gesit word. Die skape word dan na die volgende kamp geskuif sodra die raaigras gevreet is en die medics nog nie veel bewei is nie.

Sodra die raaigras begin blom, verkies die skape die medics bo die raaigras en moet die strategie dus verander. Op hierdie stadium werk vinnige hoëdrukbeweiding – of bloot meer skape per hektaar – beter. Omdat die medics dan al sterker is, kan die skape langer in ’n kamp bly. Op Langgewens word die skape elke dag geskuif en later in die jaar, as die raaigras ouer raak, slegs een keer per week. Skape word nie gesien as ’n plaasvervanger vir chemie nie, maar eerder ’n addisionele biologiese beheermiddel teen onkruide.

Let ook op die welstand van die grond en mikrobes. Die medics moet stikstofbindende mikrobes op hulle wortels asook ander mikrobes in die grond van voedingstowwe voorsien. As die medics oorbewei word, gaan die mikrobes afgeskeep word. Hier kan dekgewasse wat ingesaai word in die medics ’n groot rol speel. Dit kan gebruik word om addisionele diversiteit en weiding te verskaf. Die gebruik van ’n dekgewas saam met die medics word al suksesvol in verskeie medics-koring-stelsels in die Swartland gebruik. Dit is gewoonlik ’n goedkoop mengsel wat ingesaai word. Dit gee vinniger en vroeër voer en help om die medics kans te gee om te hervestig. Dit spaar ook op die aanvanklike chemiekoste van on­kruidbeheer, aangesien die skape die meeste van die onkruid ook vreet. Die produsent kan dan net sorg dat geen onkruid aan die einde van die seisoen saad produseer nie.

Gevolgtrekking
Produsente wat hul medics goed bestuur, sal die vrugte pluk met insetbesparing asook hoër graanopbrengste en kwaliteit.

Medics verskaf uitstekende weiding in die winter in die Wes-Kaap.