September 2016
Beste Grootneef,
Kyk, die laaste week in Julie was die Vrystaat ‘n Kaap van storms. Die wind het alkant toe gewaai, met hael- en kapokbuie tussen-in. Net om te wys die winter is nog baas! Eintlik was die wind in daardie paar dae net stil vir die oomblik wat sy rigting verander het. Dan het die wind weer met mag en mening om die hoeke gefluit. Die weerhaan op die kerk se dak het nie geweet van herwaarts of derwaarts nie. Nes hy sy sit gekry het, moes hy anderkant toe mik om die wind sy sin te gee.
Maar na die bittere koue, het die reënmeter gespog met ‘n hele 27 mm wat in die onweer geoes is. Die veld is nou lekker nat en sal mooi uitloop wanneer die somer aanklop.
Na die droë somermaande, is almal se weiding maar skraps. Buurman sê sy veld is nou so kort gevreet, dat veldbrande hom nie vanjaar sal pla nie…Ou Neef, as dit tog net kan aanhou reën. Die aarde om ons het reën so bitter nodig. Die turfgronde wys dit met diep barste al kant toe. Jy kan jou kierie halflyf indruk, voor jy die bars se bodem raak. Dit is diep droog.
Ou Neef, as jy so kyk, is ons hele land maar ‘n gekraakte plek. Die barste van verdeeldheid loop diep en wyd. Soms weet mens nie of die barste in die samelewing ooit weer sal heg nie. Maar so het elke geslag sy eie krake oorkom – van die vroegste tye af. En op ‘n manier het wysheid nog altyd na bo gedryf om die heethoofde van die afgrond weg te hou.
Soos reën vir ‘n nuwe seisoen nodig is om die turfgronde se barste te heel, is strome van insig en kalmte nou vir ons land en sy mense nodig vir die seisoen ná die verkiesing.
Die anderdag loop ek deur die ou bloekombos. Daar staan ysters van drie ge slagte wat wag om weer gebruik te word. Oupa Willem het gesê jy bêre ‘n yster nie vir tien jaar nie – dan kry jy dit weer nodig. Nou staan die ou goed maar daar rond, toegerank deur katbosse. Die naaf van ‘n ou bokwa met enkele speke wat na bo wys, die wa-band lankal vort. ‘n Ou damskrop. ‘n Deel van ‘n hooihark en ‘n eenskaarploeg. Twee meulstene leun teen ‘n witbloekom. Alles wat vanmelewe met ‘n os getrek kon word, staan nou hul winters en aftel. Die Olimpiese vlam van vinniger, beter en hoër het nie vir die ou implemente bly brand nie.
En dis die uitdaging van ons tyd, om ongeag omstandighede of lamsakkige burokrate, die barste in die sisteem te oorbrug met nuwe planne. Ons mag nooit een oggend wakker word as twee meulstene onder ‘n bloekombos nie. Ons moet altyd twee apps voor die res bly.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.
Publication: September 2016
Section: Features