Verskans jou só teen brandskade en -eise

Johan Terblanche, brandbeskermingsbeampte, Goudveld Brandbeskermingsvereniging

2009

Vure ontstaan dikwels as gevolg van nalatigheid, maar soms is dit nie die geval nie. Dit maak egter nie saak hoekom die vuur ontstaan het nie, daar is gewoonlik skade en dikwels sal ’n persoon iemand anders vir dié skade verantwoordelik wil hou.

Hoe verskans jy jou teen eise?

  • Die belangrikste is om ’n opbetaalde lid van die brandvereniging in jou area te wees.
  • Jou brandbane moet in plek wees – al op die plaasgrense en rondom die werkershuise, asgate en plaaswerf.
  • Jy moet die nodige brandbestrydingstoerusting hê met opgeleide werkers wat beskermende klere dra.
  • Maak seker dat werkers ook by die Ongevallekommissaris geregistreer is, sou hulle beseer word tydens ’n brand.
  • Sorg dat jy beskermingsdekking het as deel van jou landbouversekeringspolis. Brandbluskostes en verspreiding van brand is ’n moet, asook aanspreeklikheid van ongeveer R15 miljoen tot R20 miljoen.
  • Daar moet gelamineerde noodplanne vir jou plaas beskikbaar wees vir elke werker asook die familielede van die eienaar, met die volgende besonderhede daarop:
    • Die eienaar se selfoonnommer.
    • Brandbeampte se selfoonnommer.
    • Bure se selfoonnommers.
    • Wie die vuurvegter moet laai, wie moet bestuur en wie moet gaan help.
    • Wie die hekke op die plaasgrense moet oopsluit vir hulp van buite.
    • Waarheen die vee gejaag moet word waar dit nie kan brand nie
  •  Wees daagliks bewus van die vuurgevaarindeks vir die dag.

Vereistes vir brandbane
Volgens die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet Nr. 101 van 1998) rus daar ’n plig op elke grondeienaar op wie se grond ’n veldbrand kan ontstaan en versprei na aangrensende grond, om aan sy kant van die grensdraad ’n brandbaan te hê.

Die wet sê duidelik dat ’n brandbaan vry van enige brandbare materiaal moet wees. Neem kennis dat ’n brandbaan wat met ’n bossiekapper gesny is, nie tel nie, want die vuur kan nog steeds oorkruip. Die brandbaan moet breed genoeg wees om ’n redelike kans te hê om te voorkom dat die veldbrand verder versprei as jou eiendom.

As die gras weerskante van die brandbaan 1 m hoog is, moet die baan 3 m wyd wees, en as die bosse 2 m hoog is, moet die brandbaan 6 m wyd wees. Die brandbaan se eintlike doel is om ’n beheerde teenbrand terug te maak na die vuur toe. Dit kan slegs gedoen word onder beheer van ’n ervare brandmeester met genoeg produsente met vuurvegters as ondersteuning.

Hoe word ’n brandbaan gemaak?

  • ’n Brandbaan kan skoongebrand word deur middel van ’n beheerde brand wat gemaak word deur ’n Working on Fire-span en vuurvegters. Die grootste voordeel hiervan is dat die brandbaan al in Augustus begin groen uitloop, terwyl die veldgras nog brandbaar is.
  • ’n Brandbaan kan geskraap word, wat dan ook vroeër groen sal word.
  • Die baan kan ook gedis word – dit is maklik en werk goed. Die nadeel is egter dat die grondversteuring lei tot onkruidgroei. Die graswortels sterf ook af en gronderosie kan plaasvind.
  • ’n Brandbaan kan vroeër in die seisoen doodgespuit word met onkruiddoder, maar dan moet die dooie materiaal later gebrand word.
  • Gevestigde brandbane kan ook gereeld deur die jaar gesleep word met ’n groep swaarvragmotor- of laaigraafbande.

Eskom – voorkoming van brande
Dit sal tot jou eie voordeel wees om heeltyd op die uitkyk te wees vir defekte op die Eskom-lyne wat oor jou eiendom loop. Hierdie defekte kan die oorsake wees van veldbrande op ’n ongeleë tyd. Let op na voëlneste wat op die lyn gebou word en aan die brand kan slaan en grond toe val.

Let ook op na enige takke wat met ’n stormwind aan die lyn kan raak. Stukkende isolators en ander defekte moet by Eskom (086 003 7566) aangemeld word. Kry ’n verwysingsnommer wat bewaar moet word.

Wat om te doen as die brand ontstaan het by ’n Eskom-lyn
Doen die volgende in dié volgorde:

  • Sper die area waar die brand begin het met waarskuwingslint af en sorg dat niemand die area betree nie – nie eers Eskom-personeel nie.
  • Neem foto’s en kry getuies wat saam met jou sien wat jy sien, sonder om binne die afgesperde area te beweeg.
  • Laat weet die veldbrandontleder.
  • Stel jou brandbeskermingsbeampte in kennis.
  • Laat weet dan die Eskom-kontaksentrum by 086 003 7566 en kry ’n verwysingsnommer wat veilig bewaar moet word vir eise na die brand.
  • Dit is baie belangrik dat niemand die afgesperde toneel mag betree voordat die veldbrandontleder nie die bewyse gefotografeer en verklarings geneem het nie. Eers dan mag Eskom die toneel kom vertrap met hul personeel en vragmotors om die fout te herstel.
  • Brandslaners moet nie direk onder ’n kraglyn vuur blus nie omdat elektriesevonkspronge grond toe kan plaasvind as gevolg van die hitte.

Wat om te doen nadat die vuur geblus is

  • Maak ’n lys van die persone wat gehelp het.
  • Maak ’n lys van die tyd wanneer die brand gerapporteer is, wie die persoon was wat eerste gereageer het en wat hy waargeneem het.
  • Kry moontlik belangrike foto’s wat geneem is in die hande.
  • Skat die grootte van die brand.
  • Dien die brandverslag in by die brandbeampte.
  • Monitor die gebrande area deur die nag vir 24 uur na brandblus, want die wind kan veroorsaak dat ’n vuur weer opstaan en in ’n ander rigting brand. Kyk uit vir gloeiende stompe en miskoeke.

Veldbrandontleding na ’n brand
Indien ’n brand op jou grond begin het of van ’n buurman af oor jou grond beweeg het, doen eerder ’n veldbrandontleding en bêre dit vir die dag as iemand wel besluit hy wil eis of as jy besluit jy wil eis. Onthou: ’n Eis verjaar eers na drie jaar.

As die versekering jou eis repudieer of ’n buurman na twee en ’n half jaar besluit hy wil nou eis en daar is nie ’n volledige verslag van die brand nie, dan sit jy met die gebakte pere. Eise kan miljoene rande beloop. Versekeringsmaatskappye repudieer eise ook baie makliker as daar nie veldbrandondersoeke gedoen is nie.

Kundiges is beskikbaar om te help met bogenoemde aspekte. Kontak Johan Terblanche by 082 954 3160 of by johanrusmysiel@gmail.com.