PAMPOENE BRING HOOP vir gemeenskap

1338

August 2016

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Wie ken nie die bekende liedjie van Anton Goosen waar hy sing van “Pampoene op die dak…” nie? Twee jong produsente van Bultfontein kon hierdie jaar, ten spyte van die droogte, ook met ‘n lied in die hart, juis oor pampoene, rondloop.

Mnre Heinrich Botha en Dirk Gouws, reeds vriende van skool af, het einde verlede jaar uit desperaatheid en moedeloosheid omdat hulle weens die droogte nie mielies kon plant nie, besluit om op 20 ha pampoene, onder die bietjie besproeiingswater wat beskikbaar was, te plant. Min het hulle besef dat die pampoene nie net ‘n hupstoot vir hulle kontantvloei sou gee nie, maar ook hoop vir ‘n gemeenskap sou bring.

Almal leer van pampoene

Insetmaatskappye se landboukundiges in die omgewing (wat soos die produsente eint lik ook net mielies ken), het by die projek be trokke geraak. Juis omdat daar dié jaar feitlik geen mielies geplant is nie, was dit iets om op te fokus en hulle het een keer ‘n week saam met die produsente by die pampoenlande bymekaar gekom, waar die pampoene geïnspekteer, blaarontledings ge doen en koppe bymekaar gesit is (en geleer is) oor pampoene.

Met oestyd is deeltydse arbeiders op Bultfontein in diens geneem en dit is toe dat dié produsente eers besef het hoe die droogte ook dié mense in die informele woonbuurt (township) geraak het. Buiten dat werk baie skaars was, was die span arbeiders aan die begin so swak dat hulle skaars ‘n sak pampoene van die land kon laai; dit is toe dat Heinrich en Dirk besef het dat dit van honger is wat hulle so swak is. Hulle het begin om die tydelike arbeiders daagliks kos te gee en kon na ‘n week duidelik die verskil in hulle pro duktiwiteit sien.

Die twee vriende het toe bewus geraak van hoe ‘n groot behoefte daar aan voedsel in die informele woonbuurt is en het pampoene aan onder andere ‘n ouetehuis en ‘n kleuterskool geskenk. Trane van dankbaarheid het die twee jong manne se harte geruk. Hulle het begin om op ‘n weeklikse basis pampoene aan behoeftige mense op die dorp af te laai. Volgens mnr Anton Botha, Heinrich se pa, het die pampoeneprojek ook bygedra om die plaasarbeiders se moraal hoog te hou en hulle positief te hou in die moeilike omstandige dié jaar. “Hulle het gesien watter verskil die pampoene wat hulle op hulle plaas plant, aan die mense op die dorp met wie dit swaar gaan se lewens maak. Hulle is trots daarop dat hul hande werk iemand anders kon help.

“Ek is ook baie trots op Heinrich en Dirk. Die twee jong manne het nie gaan sit en negatief geraak en moed opgegee oor die droogte nie. Hulle het positief gebly en die projek vol entoesiasme aangepak. Ek glo hulle het waardevolle lewenslesse hieruit geleer,” het Anton gesê.

Mark vir pampoene

Weens die droogte in die land, was daar ook ‘n groot tekort aan pampoene en die twee produsente het pampoene aan verskeie markte in die Vrystaat en Gauteng gelewer. Hulle het ongeveer 1 600 sakkies per hektaar afgehaal.

PAMPOENE BRING HOOP vir gemeenskap

Publication: August 2016

Section: Relevant