Die gebruik van pariteitspryse vir bemarkingsbesluite

1107

January 2017

Die gebruik van pariteitspryse vir bemarkingsbesluite

imageLUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom: Graan SA

Pariteitspryse word gewoonlik aangewend wanneer markanalises en prystendense bestudeer word. Dit is immers belangrike konsepte – veral in die Suid- Afrikaanse markkonteks en die werking van die plaaslike mark.

Dit dien ook as maatstaaf en riglyn om die tendense in die mark te analiseer – wat kan bydra tot beter besluitneming met die oog op bemarking. ‘n Goeie vertrekpunt vir die gebruik van in- en uitvoerpariteitspryse is om vertroud te raak met die betekenis van hierdie konsepte en hoe dit in die plaaslike mark inpas.

Wat is in- en uitvoerpariteitspryse?

In- en uitvoerpariteitspryse is konsepte wat gebruik word wanneer daar verwys word na die pryse van produkte wat van een bestemming na ‘n ander in- en/of uitgevoer word. In kort beteken dit eintlik net dat ‘n invoerpariteitsprys die prys sal wees wat die invoerder van die produk sal betaal om die spesifieke produk op ‘n spesifieke plek gelewer te kry.

Hierdie prys sluit die verskeie kostes verbonde aan die aankoop van die produk in – wat vanaf die aankoopprys van die produk tot en met die vervoer-, hanterings-, finansierings- en versekeringskostes om die produk op ‘n sekere plek te kry, insluit.

Die uitvoerpariteitsprys aan die ander kant, is die pryse wat ontvang sal word wanneer die produk na ‘n sekere bestemming uitgevoer word. Die uitvoerpariteitspryse is dus die prys wat ontvang sal word, met die kostes wat in ag geneem moet word, reeds afgetrek.

In Suid-Afrika wissel die gemiddelde jaarlikse mielieproduksie in normale jare tussen 11 miljoen ton en 12 miljoen ton. Dit oorskry egter die plaaslike verbruik van mielies – wat gemiddeld so rondom 10,5 miljoen ton per jaar is.

Wat dit beteken, is dat Suid-Afrika in normale jare meer mielies produseer as wat plaaslik verbruik word, daarom word Suid-Afrika in sulke gevalle genoodsaak om ander bestemmings te vind vir die mielies wat nie plaaslik verbruik word nie en dan moet die mielies uitgevoer word.

Wanneer mielies uitgevoer word, beteken dit dat Suid-Afrika met die internasionale mark moet meeding om mielies internasionaal verkoop te kry. Dit beteken dan dat Suid-Afrikaanse pryse nader aan uitvoerpariteitspryse verhandel en in die meeste gevalle grootliks in lyn is met internasionale pryse.

As plaaslike produksie om een of ander rede, soos byvoorbeeld die droogte, minder is as wat die plaaslike verbruik is, word Suid- Afrika genoodsaak om mielies in te voer en sodoende die tekorte wat plaaslik ontstaan, aan te vul.

Dit sal veroorsaak dat die plaaslike pryse dan nader aan die invoerpariteitsvlakke verhandel. Die pariteitspryse kan dus gesien word as die bandwydte waartussen die plaaslike pryse die meeste van die tyd verhandel – met die uitvoerpariteitspryse aan die onderkant, terwyl die invoerpariteitspryse as die boonste band dien (Grafiek 1).

‘n Pariteitsprys is die pryse van die fisiese produk wat gelewer word by ‘n spesifieke bestemming. Die pariteitspryse wat bereken word, moet dus sover moontlik die pryse van die spesifieke bestemming waarvandaan die produkte ingevoer en/of waarnatoe dit uitgevoer word, weerspieël. Dit sal verseker dat prystendense met mekaar korreleer.

Die spesifieke pryse van sekere markte met wie Suid-Afrika handel dryf, is egter nie altyd geredelik beskikbaar nie en daarom moet daar na ander alternatiewe gekyk word om internasionale vergelykbare pryse te verkry.

Die “pariteitspryse” van witmielies (Grafiek 2) word byvoorbeeld bereken met die Amerikaanse witmieliepryse as basis. Dit dien meer die doel van ‘n internasionale vergelykende prys siende dat daar nie witmielies van die VSA af ingevoer word nie, maar wel van Mexiko af. Die pryse toon steeds ‘n goeie vergelykbare tendens – wat tot ‘n groot mate dieselfde doel kan dien as die normale pari teitspryse.

Hoe kan pariteitspryse gebruik word?

Deur pariteitspryse met Safex-pryse te vergelyk, kan daar vinnig vasgestel word waar die huidige plaaslike prysevlakke lê. Is dit redelik aan die hoë kant – wat by invoerpariteitsvlakke sal wees – of is dit aan die lae kant – wat by uitvoerpariteitsvlakke is?

Dit is ook ‘n goeie aanduiding rakende die moontlike risiko in die mark in terme van prysbewegings. In die meeste gevalle wanneer die pryse naby aan die invoerpryse verhandel, is die moontlikheid van verdere skerp prysstygings redelik beperk.

Daar is egter baie ander faktore wat ‘n rol in die prysbewe gings speel. Dit moet noukeurig saam met pariteitspryse oorweeg word. Aan die ander kant wanneer die pryse nader aan die uitvoerpryse verhandel, is die moontlikheid van verdere skerp prysdaling redelik beperk.

Die gebruik van pariteitspryse vir bemarkingsbesluite

In beide hierdie gevalle is dit duidelik dat die pryse vir ‘n kort ruk met ‘n piek bo die invoerpryse en onder die uitvoerpryse verhandel. Die mark sorteer homself egter weer uit en die pryse begin weer in lyn te verhandel met die pariteitspryse.

Die pariteitspryse kan ook waardevolle inligting bied wanneer bemarkingstrategieë oorweeg word. Dit dui op moontlike risiko in terme van prysebewegings wat in die mark kan voorkom. Grafiek 3 toon die wit- en geelmieliepryse tesame met die berekende in- en uitvoerpariteitspryse vir lewering in Julie 2017.

Die Julie 2017-termynpryse verhandel tussen die in- en uitvoerpariteitspryse. Daar is nog heelwat onsekerhede in die mark oor watter kant toe die pryse nader aan die tyd behoort te beweeg. Wat wel daardeur vasgestel kan word, is die moontlike prysrisiko in die mark.

Indien die produksie gunstig is vir die seisoen en ‘n goeie oes realiseer, kan die pryse nader aan die uitvoerpariteitsvlakke verhandel. Uit Grafiek 3 kan vasgestel word dat die moontlike afwaartse prysrisiko tussen R450/ton en R500/ton is. Dit kan dus in die oorweging van bemarkingstrategieë gebruik word.

Sou ‘n bemarkingsopsie, soos byvoorbeeld ‘n put-opsie, jou R200/ton kos, kan jy deur R200/ton te spandeer jouself teen ‘n moontlike R500/ton afwaartse prysrisiko beskerm. Die potensiaal vir opwaartse beweging in die mark – gegewe die scenario in Grafiek 3 – is ongeveer R450/ton.

As die mark opwaarts na die invoerpariteitsprys beweeg, word die R200/ton bemarkingskostes met die opwaartse beweging van die mark gedek. Dit kan ook handig gebruik word wanneer ingewikkelde bemarkingstrategieë vir prysrisikobestuursdoeleindes gevolg word.

Sommige strategieë kan, in kombinasie met mekaar, pryse binne ‘n sekere bandwydte laat beweeg – waardeur die pryse verkieslik nie moet gaan nie. Die gebruik van pariteitspryse kan tot ‘n groot mate suksesvol aangewend word om die prysvlakke waarteen die strategieë uitgevoer moet word, te bepaal.

Ten slotte

Die gebruik van in- en uitvoerpariteitspryse is maar net een van vele instrumente wat gebruik kan word vir die bepaling van prystendense. Daar is ook waardevolle inligting daarin opgesluit – wat op verskeie maniere aangewend kan word vir bemarkings- en verskansingbeplanning.

Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat ander faktore saam met pariteitspryse in aanmerking geneem moet word om die prentjie in konteks te sien. Deursigtige inligting in die mark is van uiterse belang ten einde goeie bemarkingsbesluite te neem.

Elke individu se voorkeure in terme van inligting wat gebruik word, verskil en elkeen gebruik wat vir hom goed werk. Op die ou einde is die hoeveelheid relevante inligting en die akkurate interpretasie daarvan, die deurslaggewende faktor wanneer dit by die neem van akkurate bemarkingsbesluite kom.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.

Publication: January 2017

Section: On farm level