Groter rol vir dr Marinda in landbounavorsing

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 12 Junie 2020

1244

Dr Marinda Visser het al diep spore in landbounavorsing getrap. Hoewel sy sedert Mei 2020 ’n opwindende nuwe pos by die Universiteit van Pretoria (UP) beklee, is haar verbintenis met Graan SA geensins verbreek nie. SA Graan/Grain het met Marinda gesels oor haar loopbaan en die pad vorentoe.

As plantpatoloog was landbounavorsing altyd ’n belangrike deel van haar werk. Die ondervinding wat sy as navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR) en aan die stuur van die regulatoriese handel- en beleidsomgewing by die destydse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye opgedoen het, het haar voorberei vir die belangrike rol wat sy by Graan SA sou speel.

Sy het sedert 2012 as Graan SA se bestuurder: Bedryfsdienste onverpoosd gewerk om vennootskappe in die graanbedryf te versterk. In haar latere rol as hoof van graannavorsing was haar visie om beleid en kapasiteit te verbeter deur skakeling en samewerking tussen Graan SA, die regering, die privaat sektor en universiteite te bevorder.

Dit was veral die werk wat sy en Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA) gedoen het om ’n vertrouensverhouding met die regering te ontwikkel, wat vir haar as hoogtepunt uitstaan. “Binne hierdie vennootskap kon ons strategiese kwessies namens die graanprodusent na die tafel bring. Ons is dankbaar vir die Departement van Wetenskap en Innovasie se befondsing van beide kommersiële en ontwikkelingslandbouprojekte wat vanuit hierdie vertrouensverhouding kon spruit. As ek die hoogtepunte in ’n neutedop moet saamvat, is dit beslis die goeie verhoudinge wat nog lank staande sal bly,” vertel sy.

Dr Marinda Visser doen verslag oor graannavorsing by vanjaar se Graan SA Kongres.

Hoewel Marinda haar Graan SA-baadjie verruil het vir ’n bestuurspos by UP, gaan sy steeds betrokke bly. “Graan SA het ’n kontrak met die universiteit gesluit, waarin hulle onderneem om van my tyd uit te koop sodat ek my steeds kan beywer vir graannavorsing wat tot voordeel van Graan SA-lede en die bedryf kan strek.”

Volgens Jannie het Marinda in haar tyd by Graan SA verseker dat navorsing ’n prioriteit bly en dat daar behoorlike kapasiteit is om die volhoubaarheid van graanproduksie en voedselsekerheid te handhaaf. “Dit was baie uitdagend om al die probleme te hanteer en boonop nuwe verhoudings en vennootskappe te bou. Haar nalatenskap sal nog vir die geslagte wat kom ook tot voordeel wees. Graan SA wens haar alle sterkte toe met die verbreding van haar professionele loopbaan,” voeg hy by.

Marinda vertel dat sy opgewonde is oor haar rol by UP waarin sy onder meer betrokke sal wees by die opbou en bestuur van Innovation Africa@UP se landbouportefeulje. “Dit gaan vir my heerlik wees om suiwer op die wetenskap te fokus en om op ’n groter skaal by landbounavorsing betrokke te wees.”

Oor die toekoms van landbounavorsing is sy optimisties dat strukture na die Covid-19-pandemie versterk kan word vir selfs beter samewerking tussen die privaat sektor, die regering, universiteite en instansies soos Graan SA. Befondsing en kapasiteit sal hiervoor versterk moet word. “Daar is baie werk wat binne landbounavorsing gedoen moet word en dit gaan noue samewerking vereis,” voeg sy by.