Dié wisselboustelsel met lusern, mielies en skape wérk

3136
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Mense verander dikwels slegs as hulle uit hul gemaksone gedwing word. Mnr Willie Roux, ’n produsent op die plaas Lorenco in die Reitz-omgewing, is geen uitsondering nie.

Willie was in die verlede ’n koringprodusent, maar met die daling in die winsgewendheid van koring het hy dringend ’n verandering in sy boerderystelsel benodig. Merino-skape, lusern asook mielies het vir dié verandering gesorg.

Sedert hierdie wisselboustelsel op die plaas geïmplementeer is, het die inkomste gestabiliseer. Die gewone landbouprobleme het nie verdwyn nie, maar die impak daarvan is aansienlik kleiner. Die wolinkomste is ’n goeie randverskanser en daar is nog altyd ’n premie op die skaapvleispryse wat die inkomste in lyn hou met koste.

Komponente komplementeer mekaar
Dié boerderystelsel se verskillende komponente komplementeer mekaar. Lusern is ’n hoëwaardeweiding wat nie net goeie vleis produseer nie, maar ook ’n positiewe wisselbou-effek op die daaropvolgende mielievertakking het.

Alles in hierdie stelsel moet só bestuur word dat die lusern maksimum opbrengste lewer, wat dan deur vee in vleis en wol omgesit moet word. Die beginsel wat dié stelsel laat werk, is tydigheid. Wanneer die lusern produseer, moet dit deur diere wat waarde kan toevoeg, benut word. Nieproduserende diere moet op laekosteweiding gehou word. Voervloeibeplanning is dus belangrik.

Vestiging van lusern
Vir Willie is die vestiging van die lusern uiters belangrik, omdat dit vir ten minste ses jaar goed moet produseer. Daar word dus seker gemaak dat die grond waarop die lusern geplant gaan word, die regte potensiaal het en dat die grondchemie reggestel is voor die weiding gevestig word.

Die volgende kan as riglyne gebruik word vir lusern om goed te produseer: pH (water) 6,5, P:30 DPM en K:100 DPM. Willie noem dat lusern suksesvol verbou kan word op grond wat op lang termyn meer as ’n 3 ton-potensiaal het. Dis belangrik om seker te maak dat die voedingstatus voldoende is. Beplan om kalk te strooi en om fosfaatregstellings te doen – moet nie hier probeer spaar nie. Dit gaan die lusernproduksie benadeel wat weer ’n negatiewe effek op diereprestasie en wins het.

Willie probeer sy lusern einde Maart in diepbewerkte lande wat onkruidvry is, te vestig. Dit is belangrik dat daar nie grondverdigting in die profiel is nie. Die lusernwortels moet so diep as moontlik die grond indring sodat die opgegaarde vog maksimaal benut kan word.

Die saad word in 90 cm-rye en teen ongeveer 5 kg/ha geplant. Hy poog om die saad so vlak as moontlik te plaas en hy hoop op reën binne vyf dae na plant vir die lusern om te ontkiem en goed te vestig. “Maak seker wat die weervoorspelling sê voordat jy plant – ’n ligte reëntjie na plant verseker goeie opkoms,” sê hy.

Om die lusernsaad vas te trap, is belangrik vir ontkieming. As die jong lusern groei, word dit ses maande later na blom vir die eerste keer bewei. Dit kan soms gebeur dat die lusern nie goed gevestig is nie – maak dus seker dat dit eers suksesvol gevestig is voor van die ou lusern omgewerk word.

Beweiding
Die bestuur van die lusern in die beweidingfase is belangrik. Ongeveer 150 kg 2:1:4-bemesting word jaarliks toegedien. Die bane tussen die rye word gereeld diep losgemaak sodat dié gedeelte die vog kan opvang en die skaappootverdigting opgehef kan word. Die bewerking help ook dat die onkruid in die bane onder beheer bly.

Gras dring egter maar later die lusern binne. Willie het wel agtergekom dat die gras goed teruggesit word as die lusern in jaar vyf of jaar ses met ’n skotteleg gesny word. Die lusern herstel vinnig en groei weer sodat nog ’n paar jaar se beweiding verkry kan word.

Lamtyd
30 ha lusern wat in drie 10 ha-kampe verdeel is, word gebruik om 200 ooie en hul lammers vanaf September tot einde Maart van weiding te voorsien. Hierdie ooie lam in September op kort oulandsgras waarna hulle na die lusern skuif. Die ooie en hul lammers bly op die lusern tot en met speen in Maart.

Na speen gaan die ooie óf op veld óf op die oulandsgras totdat oesreste beskikbaar raak. Die gespeende lammers word na staande mielies verskuif totdat hulle op omtrent 50 kg geslag word.

Aanpassing
Die aanpassing van die ooie vanaf die weiding na die lusern is belangrik. Willie sorg dat die ooie aan die begin geleidelik van die weiding na die lusern oorgaan. Opblaas is altyd ’n moontlikheid en daarom word geen honger skape op die lusern gejaag nie. Die skape wei die lusern redelik skoon voordat hulle na die volgende kamp verskuif word. Die lusern kry ongeveer ses weke rus voordat dit weer bewei word.

Weimielies
Sodra die ooilammers gespeen is, word hulle na weimielies verskuif. Hier is opblaas weer ’n probleem. Willie doseer die lammers met Lacticon om suurpens en opblaas te verhoed. Die aanpassing van die diere is van kardinale belang om verliese te voorkom.

Merino’s
Willie glo dat die Merino die ideale skaap is om hierdie stelsel ten beste te benut. Merino’s vreet nie so gulsig nie en daarom is opblaas nie so ’n groot probleem nie. Die skape moet nog steeds gereeld besoek word om dié wat potensieel kan opblaas, te help.

As gevolg van die hoë kwaliteit van die voer is die diereproduksie op lusern aansienlik hoër as op die veld, maar dit kom teen ’n prys. Dit is noodsaaklik om te verseker dat die beste moontlike diereprestasie vanaf die lusern verkry word.

Die skape op Willie se plaas word hoofsaaklik vir drie eienskappe geselekteer, naamlik vrugbaarheid, groeivermoë en fynwolproduksie. Om gunstige bruto marges te realiseer, is dit noodsaaklik om soveel as moontlik vleis per jaar te verkoop. In dié stelsel is dit moontlik om ’n speenpersentasie (lammers gespeen/ooie gedek) van meer as 100% te handhaaf.

As die ramlammers ’n massa van tussen 25 kg en 30 kg bereik, word hulle vanaf die ooie bemark. Gewoonlik is die lammers dan ongeveer drie tot vier maande oud. Die ramlammers word vir ongeveer R1 200/kop verkoop. Die ooilammers word almal teruggehou en op weimielies grootgemaak.

Skeerstelsel
Die skape is in ’n agtmaandeskeerstelsel en die wolopbrengs en -gehalte is goed. Die boerdery is bekend vir die fyn wol van hoë gehalte wat geproduseer word. Dit word ook gewoonlik teen ’n beter prys verkoop en dra sodoende by tot die goeie marges wat verkry word. Tydens September verlede jaar se wolveiling is die beste lyne vir ongeveer 20% beter as die gemiddelde pryse verkoop.

“Versteekte” inkomste
As die lusern omgewerk en mielies geplant word, is daar nog ’n versteekte inkomste wat volg. Die mielie-opbrengste na die lusern is vir die volgende paar jaar goed. Daar word met sukses ’n addisionele 1,5 t/ha sonder bykomende koste vir ten minste drie jaar gestroop. Dié ekstra inkomste verhoog die winsgewendheid van die stelsel aansienlik.

Bestuur
Dis belangrik dat die diere deurentyd goed bestuur word. Die skape ontvang reg deur die jaar lek wat by hul produksie aangepas is. Willie het oor tyd sy eie mengsel saamgestel. Die ooie ontvang tydens lam ’n produksielek, in die somer ’n fosfaatlek en in die winter ’n winterlek. Ten einde die lammers so goed as moontlik te laat groei, kry hulle vanaf drie weke tot met speen ’n kruipvoer.

Lusern wat produseer sonder diere om dit te bewei, maak nie sin nie. Willie besef die belangrikheid van ’n goeie entingsprogram. Die skape word teen bloutong en bloednier geënt en haarwurm, rondewurm en neuswurm word aktief beheer. Ten einde brandsiekte te voorkom, word die skape na elke skeer gedip. Deur hierdie program te volg, word die meeste onnodige vrektes verhoed.

In sulke intensiewe stelsels is dit belangrik dat inwendige parasiete goed beheer word. Die ooie moet soveel as moontlik melk produseer sodat die lammers so goed as moontlik kan groei. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat ’n groot hoeveelheid diere op ’n klein oppervlakte gehou word.

Wanneer die diere gedoseer word, moet die aktiewe bestanddeel van die middels ook gereeld afgewissel word. Weerstandige parasiete is beslis ’n uitdaging en alles moontlik moet gedoen word om weerstandigheid te voorkom. Die stelsel help ook self om die weerstandigheid te beheer. Sodra die lusern met mielies vervang word in die wisselboustelsel is daar lang tye waar daar geen skape op die lande is nie en sodoende word die parasiete goed onder beheer gehou.

Diefstal
Diefstal en ongediertes bly ’n probleem. Van die skape in die trop dra skaapnekbande wat gekoppel is aan ’n selfoon om alarm te maak. Willie het ’n sekuriteitsfirma aangestel wat elke nag die diere en sommer die plaaswerf ook oppas. Indien die skaapalarm afgaan, gaan die sekuriteitswag na die trop. As daar ’n ongedierte is, word dié deur die veiligheidswag verdryf of indien nodig, geskiet. Hierdie stap het ook die veediefstal taamlik onder beheer gebring en dit dra verder by tot die plaas se sekuriteit.

Arbeidskoste
Om maklik met die skape te kan werk, help om die arbeidskoste te beheer. Willie gee verantwoordelikhede aan die werkers en poog om hul sterkpunte te optimaliseer. Die bou van ’n drukgang vir die skape het bygedra om die enting en dosering vinnig af te handel. Een van die werkers het ’n eenvoudige plan gemaak om gewone verskuifbare hekkies te gebruik om ’n stewige, verskuifbare drukgang te maak. Voorwaar ’n goeie hulpmiddel!

Winsgewendheid
Die winsgewendheid van dié stelsel is die belangrikste aspek vir Willie. Dit moet meer winsgewend as die gewone stelsels wees om volhoubaar te bly. Vir die afgelope paar jaar was die skaapstelsel winsgewend. Dit het die mieliestelsel op ’n hektaarbasis met ongeveer 300% oortref. Ten spyte van die huidige seisoen se daling in vleispryse word steeds verwag dat die skaapstelsel die mieliestelsel met ongeveer 270% gaan oortref. Gegewe die syfers maak dit beslis sin om só ’n stelsel te implementeer.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of Willie Roux by 082 783 9400.