Bedryf gesels oor werkbare paspoortsisteem

Gepubliseer: 6 Junie 2022

130
Dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsings­koördinering, Graan SA

Binne die graanwaardeketting is daar nou al vir ’n ge­ruime tyd gesprekke en besprekings rakende ’n graanpaspoortsisteem. In die graanbedryf is dit nie iets nuuts nie – kanola en gars het reeds sisteme in plek.

Die verskil is dat dié twee gewasse uniek is met ’n enkelkopersisteem. As dit by ander gewasse kom, is dit baie meer kompleks. Daar is nie suksesvolle generiese sisteme in die internasionale mark nie – dit is meestal geskoei op nismarkte.

Hoekom is daar soveel druk vir ’n paspoortsisteem?
Die wêreldtendens is dat verbruikers toenemend wil weet wat hulle eet, hoe dit vervaardig is en of dit veilig is. Verbruikers is al hoe meer bewus van wat hulle eet en begin al hoe meer vereistes stel. Dit beteken die vervaardigers van voedsel en dierlike voedings­produkte is onderhewig aan sisteme en oudits om bewyse te lewer wat die vrae vanaf die verbruiker beantwoord.

Binne die graanbedryf is die uitdaging dat naspeurbaarheid uiters moeilik is omdat dit ’n groot/losmaatproduk is asook ’n stapelvoedsel. Wat dit verder bemoeilik, is die feit dat sodra graan by byvoorbeeld ’n silo gelewer word, die spesifieke besending sy identiteit verloor. Voedselsekerheid gaan nie net oor beskikbaarheid nie, maar bestaan uit drie komponente, naamlik veiligheid, beskikbaarheid en bekostigbaarheid.

Wat is onder bespreking enwat wil bereik word?
Aanvanklik was die gesprek en bespre­kings bloot om dwarsdeur die waardeketting aan al die voedselveiligheidwetgewing te voldoen. Dié wetgewing is egter redelik drakonies. Om bloot ’n dokument af te teken wat sê dat aan wetgewing voldoen word, skep risiko’s en baie grys areas vanuit ’n regsoogpunt. Dus het die waardekettingrolspelers onlangs bymekaargekom en op die volgende werkswyse ooreengekom:

  • Die bedryf doen reeds baie werk deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) om graangewasse te monitor en seker te maak dat Suid-Afrikaanse graan van hoë gehalte en veilig is. Hier kan byvoorbeeld spesifiek na mikotok­­sien­vlakke verwys word. Volgens die moni­te­ringsresultate produseer Suid-Afrika­ veilige graan en oliesade van goeie gehalte.
  • Elke gedeelte van die waardeketting gaan ondersoek instel en evalueer waar die risiko’s lê en waar die verskillende voedsel­veiligheidwetgewing spesifiek op hul bedryf van toepassing is. Dit sal dan gebruik word om ’n sisteem saam te stel.
  • Die doel van die sisteme is nie vir polisiëring of waarborge nie, maar meer vir bewusmaking van goeie praktyke.
  • Dit moet ’n maklike, eenvoudig uitvoerbare sisteem wees wat gereeld hersien moet word.

Wat beteken dit vir die produsent?
By Graan SA se Kongres vanjaar is dit weer bevestig met die volgende mandaat: Produsente wil verantwoordelik wees en moet veilige voedsel produseer; ’n sisteem moet in plek kom waar van toepassing op produsente en waar produsente beheer het.

Graan SA het, soos ooreengekom in die bedryf, die verskillende wetgewing gaan evalueer en dit duidelik gemaak dat daar nie bloot net op al die wetgewing afgeteken kan word nie. Dit sal onverantwoordelik wees en baie van die wetgewing is nie direk op produsente van toepassing nie.

Wat is die wetgewing en wat is die voorstel?
Tabel 1 toon die wetgewing waaraan daar deur die waardeketting voldoen moet word asook die vereistes vanaf verbruikers.

Betreffende produsente is die heel belangrikste wetgewing rakende voedselveiligheid die bekende Wet Nr. 36 van 1947. Dié wetgewing word gebruik om veral die insetomgewing van graanprodusente te reguleer. Voordat enige insette, veral kunsmis en landbouchemikalieë, gekommersialiseer word, moet dit volgens Wet Nr. 36 goedgekeur word. Deel van die reguleringsproses is om aan die verskeie voedselveiligheidwetgewing te voldoen.

Die produsent se toediening word ook gereguleer volgens Wet Nr. 36. Dit beteken as ’n produsent sy insette toegedien het vir die doel waarvoor dit geregistreer is asook volgens die etiket, is die produksie van graan en oliesade veilig en voldoen dit aan die wetgewing soos in Tabel 2 uiteengesit.

Graderingsregulasies
Die graderingsregulasies is die volgende aspek van belang. As daar voldoen word aan die graderingsregulasies, dan word daar voldoen aan dié wetgewing en regulasies (Tabel 3).

Volgens die meer algemene wetgewing wat nie tans gereguleer is nie, is dit die verantwoordelikheid van die produsent of die vervoerder om seker te maak dat middele wat gebruik word om grane te vervoer, skoon is en dat daar nie kontaminasie van skadelike middels, ander grane of humus is nie. Hierdie afdelings val dus onder goeie praktyke van die produsent se kant.

In kort, deur te voldoen aan Wet Nr. 36 van 1947, goeie praktyke rakende vervoer van graan te volg en deur die graderingsregulasies, kan ’n produsent verseker dat voedsel veilig geproduseer is en aan die meerderheid van die voedselveiligheidwetgewing voldoen. Die meeste van die opbergers het dié reeds deel van hul opbergings- of aankoopkontrakte gemaak. ’n Paspoortsisteem gaan bloot net meer bewusmaking skep oor wat presies Wet Nr. 36 behels en wat goeie praktyke is om veilige voedsel te produseer. Dit help sodoende ook om vir die verbruiker te wys dat Suid-Afrikaanse graan- en oliesadeprodusente verantwoordelik is betreffende veilige voedselproduksie. Figuur 1 is ’n grafiese voorstelling van hoe daar op die einde aan voedselveiligheidwetgewing voldoen word.

Figuur 1: Skematiese voorstelling van voedselveiligheidvoldoening

Die res van die waardeketting moet nog voorstelle indien rakende hulle spesifieke bedrywe en hoe hulle aan die wetgewing voldoen. Dié is nog alles onderworpe aan onderhandelinge en kan moontlik nog ’n wyle neem voor dit as ’n werkbare oplossing gesien word. Nietemin was daar reeds baie vordering, spesifiek as daar gedink word aan die drakoniese voorgestelde sisteme waarmee onderhandelinge begin het.