August 2018
Beste Grootneef
Die dae is nog koud en winderig, met die Augustuswinde wat tolbossies oor die vlaktes jaag. Saans gaan lê die wind en dan tooi die laaste sonstrale die westerkim in ‘n goud-rooi skildery. Wat is die mens…
Ou Neef, ‘n koöperasiestoor bekoor met elke besoek; met geure van melasse, soutblokke en voer. Draad en pale lê gestapel, reg om ingespan te word. Krippe en hekke staan gereed om gelaai te word – almal wil graag plaas toe gaan. Met mossies in die balke wat in die halfdonker van die stoor rondvlieg, op soek na ‘n plek om nes te maak.
‘n Koöperasiestoor was van kindsbeen af vir my ‘n plek van verwondering – eers later sou ek leer dat die betaalslag vir die paar goedjies op die bakkie die ervaring so effe bederf.
Ou Neef, ‘n hele stoor vol boeregoed laat my ook terugdink aan die smous wat destyds by die plase omgery het – ‘n hele negosiewinkel op wiele! So een keer per maand het die ou afgeleefde Chev-bakkie die omgewing se plaaspaadjies besoek en by die statte aangedoen. Die vrouens het mekaar geroep en die kinders het uit alle rigtings nader gedraf wanneer die Chev sy draai gemaak en onder ‘n bloekom gaan stop het.
Want as die smous die bakkie se klappe oopgevou het, het hy ‘n hele nuwe wêreld ontsluit. In die laaitjies en rakkies van die bak was naalde en garing, rolle bruin en diepblou lappe, twak, snuif, meel, stampmielies, droëbone in ‘n mudsak wat op ‘n skaal afgeweeg is, kondensmelk, suiker en koffie. En houers vol suurklontjies, vrypepermente en chappies! Twee vir ‘n sent. Met ‘n silwer 5c-stuk kon jy skatryk daar wegstap – ‘n broeksak vol soetgoed.
Die smous het geduldig elkeen se bestelling hanteer. Van die vrouens sou ‘n hele paar keer weer in die tou gaan staan om te koop – in afwagting op die kleingeld wat hul met elke transaksie sou uitkry. Die smous het met ‘n stil glimlag elkeen se bestelling – groot of klein – hanteer. Of die kleingeld reg of verkeerd was, sal niemand weet nie, maar almal was tevrede met die negosieware en transaksie.
Wanneer almal opgekoop was, het die smous die klappe begin toevou en met ‘n wuif afskeid geneem. Die ou Chev-bakkie is snorkend die bult uit. Die vrouens het partykeer nog ‘n tydjie verwyl en gesels en dan met hul stringetjie kinders begin aanstap huis toe. Die week se opwinding was verby.
Die smous was op sy manier die venster van hoe dit buite ‘n plaashek gelyk het – met nuus van buurplase en wat anderkant die dorp gebeur. Die smous het vir baie jare gekom en gegaan. As jy weer sien, het hy by die statte uitgeslaan en met die vrouens se vrolike geroep het die kinders nader gedraf om grootoog ‘n soet meevallertjie af te wag.
Die Chev is een Augustusmiddag laat daar weg. Die wind het die dag baie stof uitgewaai. Maar ons het die smous en sy bakkie nooit weer gesien nie. Soms wonder ons wat van hom geword het. Dalk siekte of dood? Of dalk het hy net aanhou ry tot in ‘n nuwe geweste. Sy aardse goed was immers op wiele. Of dalk het hy net moeg geraak om twee stukkies soetgoed vir ‘n stuiwer te verruil.
Maar op sy stil manier het die smous die wêreld anderkant ‘n plaashek vir kinders kom wys.
Groete op die Oosgrens!
Publication: August 2018
Section: Features