Saadpryse vir nuwe seisoen warm uit die oond

Gepubliseer: 3 Junie 2021

3271

Corné Louw
Senior ekonoom, Graan SA,
corne@grainsa.co.za

Ikageng Maluleke
Landbou ekonoom, Graan SA,
ikageng@grainsa.co.za

Afhangende van die plantestand, maak saad as produksie-inset tussen 10% en 17% van ’n mielieprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Gegewe uitstekende navorsing in genetika en tegnologie, bly saad een van die belang­rikste insette om opbrengste en produktiwiteit in die graanbedryf te verhoog.

Dit is daarom van kritieke belang dat produsente die regte kultivars kies, met inagneming van prys, opbrengspotensiaal en risikoverspreiding. Produksiewins­gewendheid teenoor die hoogste opbrengs moet teen mekaar opgeweeg word.

Deurlopende insetprysmonitering is een van die belangrike take wat Graan SA namens sy lede verrig. Die monitering van saadpryse – nie net jaarliks nie, maar oor tyd – is een van hierdie funksies. Graan SA poog om saadpryse so deursigtig moontlik te maak en kompetisie in die saadbedryf te bevorder om te verseker dat sy lede kompeterende pryse betaal.

Naas kunsmis is saad ’n somergraanprodusent se grootste insetkoste. Al is dit dus nie die grootste nie, is saadpryse beslis die koste waarmee graanprodusente die meeste worstel.

Kultivars verskil van mekaar ten opsigte van een of meer van ’n verskei­denheid eienskappe en elkeen het ’n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word. Die volgende is belangrike riglyne wat by kultivarbeplanning oorweeg moet word:

  • Moet nooit ’n staatmakerkultivar binne een seisoen met ’n nuwe of onbekende een vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ’n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ’n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër en laer potensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Saadpryse
Mieliesaadpryse het vir die 2021/2022-produksieseisoen gemiddeld met 3,3% gestyg. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 3,7% gestyg; graansorghumsaadpryse met 3,6% en sojaboonsaadpryse met 2,6%. ’n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produsenteprysindeks (PPI). Vir 2021 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 4,2%. Op ’n gemiddelde basis het saadpryse dus in lyn met produksiekoste-inflasie gestyg.

Sien Tabel 1 tot Tabel 4 vir prysvergelykings in rand tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgrootte en saadbehandeling.

Riglyne met die aankoop van saad
Daar is ’n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan wanneer hulle saad aankoop:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, byvoorbeeld 18 kg-, 20 kg- of 25 kg-sakkies of pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings met 150 000 en 180 000 pitte per sakkie en by sojabone 140 000 pitte per sakkie.
  • Nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ’n nuwe kultivar loop nie!
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe asook siekte- en plaagweerstand van ’n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word.
  • Maak seker tydens aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes voldoen (ook dit wat op die sakkie staan), veral ten opsigte van eenvormige pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeenkultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die prys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Almal wat die saad hanteer, moet ook GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en dit van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ’n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir korting waar moontlik. Verskeie maatskappye het korting­s­trukture vir volume-aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad
Saadmaatskappye waarborg nie die kwaliteit van saad indien die saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ’n geregistreerde chemiese verskaffer, wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. In die geval waar ’n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die ontkieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet Nr. 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie reeds behandelde saad aankoop nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ’n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: ’n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie óf ’n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas mag word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ’n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie en dat ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting gedek word. Dit mag ook nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en dit moet binne sewe dae van mekaar geplant word.