Rig só ´n sonplaas vir eie gebruik op

Ig du Plessis, direkteur, Sonfin

2064

Sonstelseltegnologie word beskou as een van die min hernubare laekoolstofhulpbronne wat ’n wesenlike bydrae tot wêreldwye elektrisiteitsbehoeftes kan maak. Die grootste voordeel van sonenergie is die oorvloedige beskikbaarheid van die energiebron in Suid-Afrika. Verder is dit volhoubaar, omgewingsvriendelik, hernubaar en heeltemal gratis.

Tipes Eskom-aansluitings
Daar is twee tipes Eskom-aansluitings, naamlik lae volt en medium volt. Die verskil tussen ’n laevolt- en ’n mediumvoltaansluiting is dat die aansluitingspunt vir eersgenoemde aan die 400 V-kant van die kragverskaffer se transformator is en vir laasgenoemde aan die
11 kV- of 22 kV-kant.

’n Laevoltaansluiting vereis dat Eskom ’n begrotingskwotasie opstel, wat sowat drie tot vyf maande neem om uitgereik te word. Die sonstelsel se grootte is beperk tot ’n maksimum van 350 kWp, of dit wat Eskom toelaat gebaseer op die grootte van die transformator by die aansluitingspunt.

Vir ’n mediumvoltaansluiting word ’n kosteberamingsbrief deur Eskom verlang, waarna die kliënt ’n begrotingskwotasie kan aanvra. Die hele proses kan tussen 18 maande en vyf jaar neem.

Registrasie by NERSA
Vir ’n sonstelsel kleiner as 1 MW moet daar ná Eskom-goedkeuring om registrasie by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) aansoek gedoen word. Registrasie behels ’n eenmalige registrasiefooi van R200. Stelsels groter as 1 MW moet gelisensieer word, wat ’n nog omslagtiger en duurder proses beteken.

Hoe om die proses te begin
Die proses begin deur twaalf maande se rekeninge te stuur na info@sonfin.co.za. Gebaseer hierop stel Sonfin ’n beraming op, wat bepaal hoe groot die sonstelsel moet wees. Die beraming sluit ’n finansiële analise in asook ontledings om te bepaal of ’n laevolt- of mediumvoltverbinding lewensvatbaar en bekostigbaar gaan wees.

Hierna moet Eskom genader word om uit te vind of die betrokke areanetwerk die bykomende krag kan akkommodeer. Eers met ’n skriftelike Eskom-goedkeuring en NERSA-registrasiesertifikaat in die hand is die produsent gereed om ’n sonstelsel op te rig en Eskom-aansluiting te bewerkstellig.

Kontak Chris Schutte vir enige navrae by 072 102 6979 of info@sonfin.co.za of besoek www.sonfin.co.za.