Agri SA-kongres gee groen lig vir omskakeling

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 Desember 2021

1188

Toestemming is deur die pas afgelope Agri SA-kongres in Oktober gegee dat Agri SA na ’n niewinsgewende organisasie omgeskakel mag word. Dit volg na deeglike oorweging en ’n geruime tyd van wye konsultasie met alle belanghebbende partye.

Die proses
“’n Proses ingevolge waarvan Agri SA advies ingewin het oor die beste regsentiteit waarbinne lede in die toekoms kan assosieer, is reeds in 2016 van stapel gestuur,” het Annelize Crosby, hoof: Regsen Grondsake by Agri SA, gesê. “Daar is destyds al besluit dat die organisasie, wat tans funksioneer as ’n vrywillige vereniging met ’n grondwet, behoort om te skakel na ’n niewinsgewende maatskappy.

“’n Konsepmemorandum van inkorporasie is gevolglik voorberei, maar die proses is eers op ys geplaas ten einde verdere ondersoek te doen na die implikasies en veral die finansiële impak van so ’n stap.

“Dit het onder meer ondersoeke na die belasting- en personeelimplikasies en die koste verbonde aan die oordrag van die Agri SA-gebou na ’n ander entiteit ingesluit. Die Agri SA-grondwet is egter wel as ’n tussentydse maatreël gewysig deur die algemene raad te vervang met ’n raad van direkteure,” het sy bygevoeg.

Volgens Annelize is daar tydens ’n direksievergadering op 17 September 2020 besluit om ’n grondwethersieningskomitee in die lewe te roep. Die doel van hierdie komitee was die volgende:

  • Om krities na die bestuurstruktuur van Agri SA te kyk deur aandag te skenk aan bestaande kwessies en uitdagings en om moontlike verbeterings voor te stel.
  • Om konsultasie en insette te verkry vanaf alle Agri SA-strukture en affiliasies vir aanbevelings aan die direksie en om ’n toekomstige bestuurstruktuur te stel.
  • Om bystand te verleen in die opstel van ’n memorandum van inkorporasie of ’n grondwet (welke ook al van toepassing mag wees).
  • Om bystand te verleen met opleiding en die implementering daarvan.

“Na hierdie dieptekonsultasie en deeglike oorweging het die grondwethersieningskomitee aanbeveel dat Agri SA na ’n niewinsgewende maatskappy moet omskakel en ’n konsepakte van oprigting is aan affiliasies voorgelê vir insette en goedkeuring. Dit is in opvolg hiervan dat Agri SA se kongres gedurende Oktober 2021 die omskakeling goedgekeur het,” het Annelize gesê.

Annelize Crosby

Die pad vorentoe
Die omskakeling tree egter nie onmiddellik in werking nie, maar waarskynlik eers in Mei 2022 ten einde saam te val met Agri SA se finansiële jaar. Die eerste direkteure sal die persone wees wat by die pas afgelope kongres in leierskapsposisies tot die direksie verkies is. Alle bates en laste sal na die nuwe maatskappy, bekend as Agri SA niewinsgewende maatskappy, oorgedra word.

“Indien die raad van Agri SA op enige stadium voor die ontbinding om enige rede mag glo dat die ontbinding van Agri SA en die totstandkoming van die Agri SA-maatskappy sonder winsoogmerk, nie wesenlik dieselfde finansiële voordele sal bied aan die lede van Agri SA as die huidige struktuur en samestelling nie, sal die omskakeling nie plaasvind nie,” aldus Annelize.

Motivering vir aanbeveling van omskakeling van Agri SA na niewinsgewende maatskappy

  • Die maatskappy is ’n goed gereguleerde, moderne ondernemingsvorm wat ’n groot mate van erkenning by die regering, skenkers en die besigheidswêreld geniet. Die bepalings van die Maatskappywet bring sekerheid ten opsigte van alle aspekte van die bestuur van ondernemings wat as maatskappye geregistreer is.
  • Daar is baie leemtes in Agri SA se grondwet, wat dikwels onsekerheid en verwarring veroorsaak. Sodanige onsekerheid sal tot ’n groot mate uitgeskakel word indien die organisasie omskakel na ’n niewinsgewende maatskappy waar alle aspekte wat nie spesifiek in die akte van oprigting (AvO) gereël word nie, deur die Maatskappywet ondervang word of te vinde is in die gemenereg. Die maatskappy word seker die algemeenste aangewend as ondernemingsvorm.
  • ’n Maatskappy het ’n afsonderlike regspersoonlikheid van sy lede, wat beteken dat lede nie verantwoordelik is vir skuld en verpligtinge van die maatskappy nie en dat die maatskappy in eie naam bates besit en kan dagvaar en gedagvaar word.
  • Die Maatskappywet bevat duidelike voorskrifte oor onder andere hoe ’n maatskappy bestuur moet word, hoe die belange van minderhede beskerm kan word en hoe verslagdoening moet geskied.
  • Agri SA is tans geregistreer as ’n niewinsgewende organisasie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). ’n Niewinsgewende maatskappy kan egter ook by SAID aansoek doen vir belastingvrystelling.
  • ’n Niewinsgewende maatskappy kan lede hê, maar het nie aandeelhouers nie. Indien Agri SA sou omskakel na ’n niewinsgewende maatskappy, sal die affiliasies van Agri SA die lede van die maatskappy wees.
  • Lede hoef self nie maatskappye te wees nie. Dit sal dus nie nodig wees vir Agri SA se affiliasies wat vrywillige verenigings is om ook om te skakel na niewinsgewende maatskappye nie.