Die jongste nuus oor voertuie

Gepubliseer: 12 November 2026

47
Chery Grootman kom vroeg in 2027.
Gerrie Smit, motorjoernalis en
SA Graan/Grain
-medewerker

Chery Suid-Afrika is tans een van die topvervaardigers in Suid-Afrika en bou selfs van hulle produkte in die voormalige Nissan-fabriek naby Pretoria. Groot nuus is dat sy nuwe KP 31 in Suid-Afrika as die Chery Grootman verkoop sal word.

Volgens die maatskappy is dié naam gekies vir sy Suid-Afrikaanse agtergrond; dit verteenwoordig iemand wat respek afdwing, wat verantwoordelikheid aanvaar en wie se mening ernstig opgeneem word.

Die Grootman sal vroeg in 2027 in Suid-Afrika be­kendgestel word, en sal deur ’n 2,5-liter-turbodieselenjin met inprop- hibriede tegnologie aangedryf word. Hierdie enjin sal 350 kW en wringkrag van 800 Nm lewer en ’n reikafstand van 100 km in volle elektriese modus moontlik maak. Daarby kan die battery ook gebruik word om kamptoerusting en ander gereedskap te laai. Die Grootman se sleepkapasiteit is 3 500 kg.

Verdere besonderhede, soos pryse, spesifikasies en die samestelling van die reeks, sal nader aan die vrystellingsdatum bekendgemaak word.

GWM P300-bakkie nou met hibriede ondersteuning.

Great Wall Motors (GWM) het pas ’n inprop- hibriede weergawe by sy gewilde P300-reeks gevoeg. Die P300-reeks is onder die topvyf- gewild­ste bakkies in Suid-Afrika.

Die GWM P300 2,0 T Hi-4-T PHEV 9HAT is die eerste geëlektrifiseerde weergawe in die P-reeks en kombineer die vermoë om alledaagse take te verrig sonder om werkverrigting of veldryvermoë prys te gee. Dit is ’n veelsydige oplossing vir dié wat op soek is na die doel­treffendheid en verfyndheid van ’n elektriese voertuig gekombineer met die veldryvermoë wat op ’n plaas nodig is.

Sy tweeliter-turbopetrolenjin word ondersteun deur ’n litiumioon­battery met ’n reikafstand van tot 115 km indien slegs die elektriese modus gekies word. Hierdie petrolenjin lewer 180 kW en het wringkrag van 380 Nm. Die elektriese kragbron voeg 130 kW en 495 Nm by. Dit maak maksimum kraglewering van 310 kW en 750 Nm moontlik. Die enjin word aan ’n outomatiese ratkas met nege gange en vierwielaan-
drywing gekoppel.

Die prys van die P300 PHEV is R914 900. Dit sluit ’n waarborg van sewe jaar of 200 000 km en ’n diensplan van sewe jaar of 75 000 km in.

Toyota Land Cruiser FJ ideaal vir bospaaie.

Die Land Cruiser FJ is die kleinste Land Cruiser op die plaaslike mark en sluit aan by die Land Cruiser 70-reeks, die Land Cruiser Prado en die Land Cruiser 300. Soos dit ’n Land Cruiser betaam, is die FJ ’n ware veldryer met ’n leerraamonderstel en ’n laestrekratkas.

Daar is op hierdie stadium net een enjin beskikbaar, naamlik die bewese 2,7-liter-petrolenjin wat al jare lank onder meer in die Hilux gebruik word. Hierdie enjin lewer 122 kW teen 5 200 o.p.m. en wringkrag van 245 Nm teen 4 500 o.p.m. en word aan ’n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel. Die deeltydse vierwielaandrywing­stelsel bied hoë- en laestrekverstellings asook ’n agterste ewenaarslot.

Die FJ se kleiner formaat maak hom ideaal vir veral beboste veldrypaaie. Die korter lengte bied meer hanteerbaarheid en sy invals- en vertrekhoeke en grondvryhoogte maak hom geskik vir moeilike terrein.

Twee spesifikasievlakke is beskikbaar, naamlik die GX en die luuk­ser VX. Albei modelle word toegerus met veiligheidskenmerke soos wegtrek- en afdraandehulp, parkeer-
sensors voor en agter met ’n trukamera, stabiliteits­beheer en sewe lugsakke. Toyota se Safety Sense-hulpmiddelstelsel is as stan­daardtoerusting deel van die VX. Dit bestaan onder meer uit ’n voorbotswaarskuwing, ’n blindekolmonitor, aanpasbare spoedbeheer, banddwaal-waarskuwing en ’n panoramiese rondomkamera. Die ligdiodekopligte beskik ook oor outoma­tiese hoëstraalwerking.

Die pryse van die twee modelle is R714 000 vir die GX en R761 400 vir die VX. Dit sluit ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km in asook ’n diensplan vir nege versienings of 90 000 km, met dienstussenposes van 10 000 km. Daarby kry eienaars ook toegang tot die My Toyota-toepassing, wat 25 GB se eenmalige gratis data insluit.

Land Rover Discovery Tempest vir gemaklik ry.

Die Land Rover Discovery Tempest beklee nou die topposisie in die huidige Discovery-reeks. Dit bly ’n gemaklike ge­sinsportnutsvoertuig, maar spog met ’n ryker vlak van afwerking en spesifikasies as wat die standaardreeks bied.

Krag word verskaf deur Land Rover se bekende drieliter-turbodie­sel-inlynses-enjin, wat 257 kW en 700 Nm na al vier wiele stuur via ’n outo­matiese ratkas met agt ratte en permanente vierwielaandrywing. Op papier beteken dit ’n versnelling van 0 tot 100 km/uur in ’n beweerde 6,3 sekondes en ’n topspoed van 209 km/uur – syfers wat eintlik nie by ’n gesinsvoertuig van 2,5 ton met masseringsitplekke pas nie. Brand­stofverbruik tydens toetse het op 10,8 liter/100 km te staan gekom.

Die 360-grade-kamerastelsel is besonder nuttig vir ’n voertuig van hierdie grootte. Aanpassings aan die ryhoogte word ook op die groot paneelskerm vertoon, met vooraf instellings soos Access (toegang) en Off-Road (veldren) om van te kies – ’n herinnering dat die Discovery, ten spyte van al die leerbekleedsel, steeds oor ware veldrenvermoëns beskik.

Sy masseringsitplekke, wat op 20 maniere verstel kan word, is ’n ware hoogtepunt op lang ritte; dit is die soort kenmerk wat ’n rit van vier uur byna terapeuties laat voel.

Land Rover het ook deeglik oor praktiese bergingsruimte nagedink. Die middelkonsole verberg ’n klein kompartement wat afvou vir waardevolle items, en daar is ’n verkoelde stoorplek onder die armleu­ning wat drankies of versnaperings vars hou tydens ’n somerrit.

Die Discovery Tempest kos R2 400 000.

Ford Tourneo Custom nou vierwielaangedrewe.

Die Ford Tourneo Custom is ’n vierwielaangedrewe weergawe van die Tourneo Custom-minibus.

Die Tourneo Custom Titanium X AWD word deur ’n tweeliter-turbo­dieselenjin aangedryf wat kraglewering van 125 kW en wringkrag van 390 Nm bied. Dit het ’n outomatiese agtgangratkas wat met permanente vierwielaandrywing gekoppel is. Die binneruim is luuks afgewerk en agterste insittendes kry toegang tot die kajuit deur middel van elektriese skuifdeure aan albei kante.

Toonaangewende veiligheidskenmerke en bestuurshulpmiddels sluit in: ’n 360-grade-kamera, outonome noodremhulp, ’n blindekolmonitor, ’n agterste dwarsverkeer-
monitor met remhulp as die voertuig in trurat is, aanpasbare spoedbeheer, intelligente snelheidshulp, verkeersknoophulp, asook ’n remstelsel wat in die geval van ’n botsing geaktiveer word om die erns daarvan so ver moontlik te verlig. Daar is ook ’n infrarooi kamera wat die bestuurder se kop en oë dophou en kan bespeur wanneer hy/sy moeg is. Daar is vier be­stuursmodusse om van te kies en die permanente vierwiel­aandrywing verhoog veiligheid en verbeter padhouvermoë in alle toestande.

Die prys van die Titanium X AWD is R1 354 100, wat ’n waarborg van vier jaar of 120 000 km asook ’n diensplan van ses jaar of 90 000 km insluit.