Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) speel ’n sleutelrol in Suid-Afrika se landbou-ekonomie deur geskatte oesgroottes tydens die produksieseisoen bekend te maak. Hierdie skattings beïnvloed belangrike besluite in die landbouwaardeketting – van vraag- en aanbodbepaling tot bemarkingsbesluite. Maar hoe akkuraat is hierdie skattings werklik wanneer dit met die finale, werklike oessyfers vergelyk word? Hierdie artikel ondersoek die betroubaarheid van die NOK se data en identifiseer patrone van oor- of onderskatting.
Riglyn waarbinne die NOK moet skat
In Suid-Afrika het die graanbedryf ’n riglyn vasgestel vir hoe akkuraat die NOK se skattings moet wees. Volgens hierdie riglyn mag die eerste vier skattings – wat tussen Februarie en Mei gemaak word – nie meer as 8% van die finale, werklike oes verskil nie. Vanaf die vyfde skatting in Junie tot by die laaste een in November mag die verskil nie meer as 5% wees nie.
Wat leer ons uit historiese data?
Hoe lyk die historiese akkuraatheid van die oesskatting? Die eerste drie grafieke dui onderskeidelik witmielies, geelmielies en totale mielies se oesskatting oor die afgelope 29 jaar aan. Grafiek 1 wys hoe akkuraat die NOK se finale witmielieskatting was van 1996/1997 tot 2023/2024. Groen stawe dui op jare waarin die oes onderskat is en rooi stawe wys waar dit oorskat is.

Bron: Graan SA-verwerking
Van 1996/1997 tot 2003/2004 het die NOK dikwels die oes te laag geskat – in sommige jare selfs met tot 17%, soos in 1996/1997, 1999/2000 en 2003/2004. In 2004/2005 was daar weer ’n groot oorskatting van omtrent 5,5%, en in 2012/2013 was die verskil selfs groter, met ’n oorskatting van sowat 7%. In die meer onlangse verlede, van 2017/2018 tot 2023/2024, het die afwykings kleiner geword. In dié tyd was die skattings meestal baie naby aan die werklike oes, met klein oorskattings van tussen 2% en 4% in sekere jare soos 2019/2020, 2020/2021 en 2023/2024.
Grafiek 2 wys hoe die NOK se finale skattings van die geelmielie-oes vergelyk met wat werklik geoes is van 1996/1997 tot 2023/2024. Die groen stawe toon jare van onderskatting en die rooi stawe oorskatting.

Bron: Graan SA-verwerking
In die meeste jare het die NOK die geelmielie-oes onderskat. In sommige gevalle was die verskil groot, soos in 1996/1997, 2003/2004 en 2015/2016, waar die oes tot tussen 12% en 17% meer was as wat geskat is. Daar was ook ’n paar seisoene waar die oes oorskat is – veral in 2002/2003, 2005/2006 en 2010/2011 – met skattings wat meer as 5% hoër was as die werklike oes. Oorskatting het egter minder gereeld voorgekom as onderskatting. Sedert 2017/2018 het die verskille kleiner geword. Die meeste skattings in dié tyd was binne 5% van die werklike oes, wat wys dat die NOK se metodes waarskynlik verbeter het. Daar is nog steeds ’n neiging om die oes eerder effens te laag te skat, maar die foute is baie kleiner as vroeër.
Grafiek 3 toon die afwyking van die NOK se finale mielieskatting vir elke seisoen van 1996/1997 tot 2023/2024, in persentasie, ten opsigte van die werklike oesgrootte. Die meerderheid jare toon groen stawe, wat beteken dat die NOK die mielie-oes dikwels onderskat het. In sommige jare, soos 1996/1997, 1999/2000 en 2003/2004, was die afwyking meer as 10%, met 2003/2004 opvallend naby aan -17%. Sedert 2017/2018 is die afwykings oor die algemeen kleiner, met verskeie jare waar die skattings baie naby aan die werklike oes was (dus naby aan 0%). Dit dui op moontlike verbeterings in metode en dataverwerking. Oorskatting kom ook voor, met ’n paar seisoene – soos 2004/2005, 2010/2011, 2017/2018 en 2023/2024 – waar die NOK die oes effens oorskat het (rooi stawe), maar gewoonlik binne ’n kleiner persentasie-afwyking (onder 5%). ’n Uitskieterjaar kom voor in 2015/2016 met ’n afwyking van byna -15%, met die droogte wat waarskynlik die akkuraatheid van skattings beïnvloed het.

Bron: Graan SA-verwerking
Impak van vorige seisoen se droogte op die skatting
Die 2024/2025-produksieseisoen het unieke uitdagings gestel, waarvan die opvallendste die skielike en aanhoudende droogte in Januarie en Februarie 2024 was. Hierdie droogte het ’n beduidende impak gehad op die ontwikkeling van mieliegewasse, veral gedurende die kritieke stadiums van bestuiwing. As gevolg hiervan het die aanvanklike oesskattings, wat gebaseer was op vroeëseisoentoestande, aansienlik hoër voorgekom as wat uiteindelik gerealiseer is, omdat toestande in daardie stadium goed was.
Die laaste drie grafieke bied insig oor die akkuraatheid van die NOK se oesskatting vir witmielies, geelmielies asook totale mielies gedurende die 2024/2025-seisoen. In elke grafiek dui die oranje lyn die riglyne aan waarbinne die NOK se skattings veronderstel is om te val. Die groen lyn wys die werklike afwyking van elke maand se skatting ten opsigte van die werklike oes.
Grafiek 4 toon die verloop van die witmielie-oesskatting. Die Februarie-skatting was redelik optimisties weens goeie vroeëseisoentoestande wat veroorsaak het dat die skatting se akkuraatheid buite die riglyne geval het. Na die droogte wat in Januarie en Februarie geheers het, het die werklike opbrengs egter begin daal, soos weerspieël in die afwaartse beweging van die groen lyn. Vanaf Maart was die skattings binne die akkuraatheidsriglyne.

Bron: Graan SA-verwerking
Grafiek 5 illustreer ’n soortgelyke patroon vir geelmielies. Die aanvanklike skattings was ook optimisties, maar binne die riglyne. Alhoewel die skattings afwaarts aangepas is, was geelmielies se skattings ietwat meer akkuraat as die skattings by witmielies.

Bron: Graan SA-verwerking
Die akkuraatheid van die NOK se oesskattings vir totale mielies gedurende die 2024/2025-seisoen word aangedui in Grafiek 6. In Februarie was die oesskatting vir totale mielies buite die aanvaarbare riglyne. As gevolg van die effek van die droogte is die oesskatting in Maart drasties afwaarts aangepas. Vanaf Maart het die NOK se oesskattings binne die aanvaarbare riglyne verkeer.

Bron: Graan SA-verwerking
Samevatting
Hierdie artikel ondersoek die akkuraatheid van oesskattings deur die groeiseisoen, met spesifieke fokus op wit- en geelmielies oor die tydperk 1996/1997 tot 2023/2024. Deur grafieke te ontleed wat die persentasieverskil tussen die NOK se finale skatting en die werklike oes aandui, word ’n duidelike patroon geïdentifiseer. In die vroeë jare is daar dikwels groot afwykings opgemerk, meestal in die vorm van onderskatting. In sekere seisoene was die verskille so groot soos 15% tot 17%.
In meer onlangse jare het die omvang van hierdie afwykings beduidend verminder. Sedert ongeveer 2017 is die meeste skattings binne 5% van die werklike oes, wat dui op verbeterde voorspellingsmetodes en groter akkuraatheid. Oorskatting kom minder gereeld voor as onderskatting – in die afgelope 29 jaar was daar slegs agt keer oorskattings. Algeheel wys die data dat die NOK se akkuraatheid mettertyd verbeter het, met meer betroubare skattings in die afgelope dekade. Hierdie ontwikkeling is bemoedigend vir produsente, bemarkers en beleidmakers wat afhanklik is van akkurate oesdata vir beplanning en besluitneming.
Produsente word aangemoedig om – indien hulle nie alreeds aan die oesskattingsproses deelneem nie – die vraelyste wat aan hulle gestuur word te voltooi. Indien die vraelys nie ontvang is nie, kontak asseblief vir Rona Beukes, lid van die NOK, by 012 319 8032 of stuur vir haar ’n e-pos na RonaB@Dalrrd.gov.za.