
SA Graan/Grain-medewerker
Net soos met al die tegnologie-ontploffings het vervoertegnologie ook met rasse skrede vooruitgegaan. Die ou gevestigde idee dat diesel die bekostigbaarste brandstof is en dat dieselkragbronne die effektiefste is, is nou verby. Al hoe meer van die tradisionele motorvervaardigers begin om dieselkragbronne stadig maar seker uit hulle produkaanbieding verwyder.
Tot nou toe was dieselenjins gewild onder vervaardigers van veral bakkies. Dit is wat die kopers wou gehad het. Die loopkoste en wringkrag van dieselenjins het ’n voorsprong bo petrolaangedrewe bakkies gegee. As gevolg van nuwe tegnologie in petrolenjins en omdat elektriese ondersteuningskrag-
bronne (hibriede stelsels) hul verskyning begin maak, word die konsepsies wat bestaan het oor die dieselvoorsprong egter nou bevraagteken.
SA Graan/Grain het die volgende bakkies vergelyk om te sien wat maak die meeste ekonomiese sin: die Ford Ranger 2,3 T Double Cab Sport; die Ranger 3,0 TD V6 Sport 4WD en die nuwe 2026 Toyota Hilux Legend-dubbelkajuit wat elektriese en diesel-
kragbronne met ’n hibriede stelsel kombineer.

Ford Ranger se 2,3 T Double Cab Sport en 3,0 TD V6 Sport 4WD is gekies omdat dit dieselfde voertuig is as wat Volkswagen onder die naam “Amarok” verkoop. Die Ford Ranger en VW Amarok word op dieselfde platform gebou en albei is beskikbaar met ’n 2,3-liter-EcoBoost-turbopetrolenjin wat 222 kW teen 5 900 o.p.m. en wringkrag van 452 Nm teen 3 350 o.p.m. lewer. Dan is daar die Ranger V6 diesel-weergawe wat 184 kW teen 3 250 o.p.m. en wringkrag van 600 Nm teen 1 750 o.p.m. lewer. Albei enjins word gekoppel aan ’n outomatiese tiengangratkas.
Die prys van die petrolaangedrewe Ford Ranger 2,3 T Sport is R844 900 en dié van die Ford Ranger diesel 3,0 TD V6 Sport is R1 001 300. Dit is ’n groot verskil wat nie net die gevolg van die dieselenjin is nie maar ook die vierwielaandrywingstelsel. Dit kom neer op ’n verskil van R156 400 tussen die twee modelle.
Toyota se Hilux 2,8 GD-6 Dubbelkajuit Legend 4×4 kos R999 900. ’n 2,8-liter-viersilinder-GD-6-turbodieselenjin – goed vir 150 kW en 500 Nm – wat uitsluitlik met dieselfde sesgang- outomatiese ratkas gepaardgaan. Wat die Legend laat uitstaan, is die byvoeging van Toyota se 48 V- ligte hibriede stelsel, wat ’n elektriese motor van 8,5 kW insluit wat ’n bykomende 65 Nm wringkrag lewer.
Die ligte hibriede bystand verander nie die Hilux in iets drasties anders nie. Dit verkort wel die tyd wat die enjin nodig het om ’n swaar dubbelkajuit vanaf ’n stilstaande posisie aan die gang te kry en verskaf ’n bietjie ekstra krag presies wanneer die GD-6 andersins op die turbo sou moes wag. Brandstofverbruik tydens gemengde bestuur beloop onge-
veer 8 liter/100 km – ’n respektabele syfer vir ’n bakkie van hierdie grootte.
Wat kos die meeste?
Aangesien die Ranger 2,3 T Sport deur ’n turbopetrolenjin aangedryf word, is 95 oktaan-petrol ’n vereiste. Op hierdie stadium is die prys daarvan net meer as R30/liter. Die prys van diesel met ter perse gaan was R33,18/liter. Die gemiddelde verbruik van die Ranger 2,3 T Sport wissel van 8,3 tot 9,3 liter/100 km. In die geval van die Ranger 3,0 V6 is dit tussen 8,7 en 8,9 liter/100 km.
As daar 20 000 km/jaar afgelê word, is die petrol 2,3 T Sport se algehele brandstofkoste R55 800/jaar; in die geval van die diesel 4×4 Ford Ranger 3,0 V6 Sport is dit R58 397/jaar. Die 4×4 Hilux Legend se brandstofkoste vir dieselfde afstand van 20 000 km is slegs R53 088.

Aangesien die twee dieselmodelle vierwielaangedrewe is, is hulle swaarder en die ingewikkelde aandrywingstelsel kan veroorsaak dat die bande vinniger afloop in vergelyking met die ligter petrol Ranger 2,3 Sport. Daarby het moderne dieselenjins soos die 3,0 V6 emissiestelsels wat duur sal wees om te vervang indien hoë kilometerafstande afgelê word. Die 2,3-liter-turbopetrolenjin is ’n hoëverrigtingenjin en is op die oop pad meer vaartbelyn as die groter diesel V6, maar die dieselbakkies het natuurlik meer wringkrag vir swaar werk.
Die gevolgtrekking is dus: Dieselmodelle is ’n beter keuse vir dié wat gereeld woon-
waens en bote sleep, dikwels lang ritte op die oop pad met swaar vragte aflê en meer wringkrag vir swaar vragte en harde werk nodig het. Die petrolaangedrewe Ford Ranger 2,3 T Sport is meer geskik vir dié wat na ’n alternatief vir ’n sportnutsvoertuig op soek is en eerder ’n leefstylvoertuig as ’n werkesel verkies. Natuurlik is dit ook ’n beter keuse vir dié wat nie regtig vierwielaandrywing nodig het nie.
As die voornemende bakkiekoper afsien van die 4×4-aandrywing en die petrolaan-
gedrewe bakkie koop, gaan sy brandstofkoste ongeveer dieselfde wees as ’n diesel-
bakkie s’n. Daar is dus nie soos verwag ’n groot kosteverskil tussen diesel en petrol nie. Die petrolaangedrewe voertuig se onderhoudskoste gaan op die lang duur wel ’n besparing meebring. Die antwoord vir nou is dat ’n petrolbakkie goedkoper is en op die lang duur laer loopkoste bied as ’n dieselbakkie.
















