Koste en gebruik van Eragrostis curvula-hooi en -weiding

3684
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Met die afname in winsgewendheid van veevertakkings, stygende insetkoste en wisselende produksiepotensiaal is dit opnuut nodig om die winsgewendheid van Eragrostis curvula-hooi te evalueer.

Weidings word gewoonlik op gronde met laer potensiaal aangeplant, met die gevolg dat produksiekoste van plaas tot plaas sal wissel. Om die koste van hooi onder alle omstandighede akkuraat te bepaal, is byna onmoontlik. Dit word dus aan elke produsent oorgelaat om hierdie koste self te bepaal.

Vervolgens word ’n reeks tabelle voorgestel wat kan help in die proses van kostebepaling. Tabel 1 dien as ’n voorbeeld van die koste om een hektaar hooi te vestig. Arbeidskoste en ander oorhoofse koste is nie verreken nie.’n 67 kW-trekkergrootte is deurgaans in die kosteberekening gebruik.

Bemesting – ’n perd van ’n ander kleur
Voordat daar besluit word oor hoeveel bemesting toegedien moet word, is ’n goeie grondontleding noodsaaklik. Verseker voor gewasvestiging dat die pH (KCL) van die grond in die omgewing van 5 of hoër is. Die fosfaatontleding moet om en by 20 mg/kg
BRAY 1 wees en die K-ontleding moet nagenoeg 120 mg/kg wees.

Tabel 2 dien as ’n voorbeeld van wat dit kan kos om een hektaar gevestigde Eragrostis vir 7 ton droëmateriaal te bemes en hooi te maak. Daar word voorsiening gemaak om twee keer kunsmis toe te dien en twee snysels af te haal. Die koste om die voer weg te ry, sluit ook terugvoerkoste in. Die vestigingskoste is nie in hierdie tabel in berekening gebring nie.

Teen ’n opbrengs van 7 t/ha beloop die koste per ton hooi geproduseer dus R790,70. Indien aanvaar word dat die vestigingskoste R6 700 per hektaar is en dat die weiding vir sewe jaar gebruik sal word, is die koste van die hooi R927,55 per ton.

Aangesien produsente dikwels groot oppervlaktes Eragrostis het wat grotendeels deur vee bewei word, dui Tabel 3 die koste om Eragrostis te bemes vir beweidingsdoeleindes aan.

Vermorsing
Volgens hierdie berekeninge is dit duidelik dat hooi nie goedkoop is nie en dat vermorsing beperk moet word. Tabel 4 is saamgestel uit navorsing wat deur SD Niemand en J Bekker op die Athole-proefplaas gedoen is. In 1988 is hooi aan beeste net so los op die veld teruggevoer. In 1990 is daar van hooiringe gebruik gemaak om die hooi terug te voer. Die hooi-inname per koei het drasties gedaal, terwyl die gekorrigeerde 205 dae-massa van die kalwers gestyg het. Dit het gelei tot ’n besparing van 5,4 kg hooi per koei per dag. Indien die waarde van hooi as R927,55 per ton (soos bereken in Tabel 2) geneem word, lei dit tot ’n besparing van R4,63 per koei per dag.

Indien die groter toename in massa teen R30,00 per kg ook in berekening gebring word, lei dit tot ’n verhoogde inkomste van R420,00 per kalf. Dus kan ’n aansienlike hoeveelheid geld gespaar word deur die beperking van hooivermorsing. Deur beter benutting, minder vermorsing en ’n hoër gekorrigeerde 205 dae-massa, kan’n verhoging in inkomste verwag word.

In Tabel 5 word die ruproteïen (RV) en verteerbaarheid (IV) van hooi wat op verskillende stadiums gesny is, weergegee. Dit is duidelik dat indien slegs stikstof toegedien word, ’n hooi van beter gehalte nie verseker is nie. Daar moet ook op die regte groeistadium gesny word. In die geval waar daar 180 kg stikstof op die weiding toegedien word, is daar ’n verlaging van 30% in die ruproteïeninhoud indien dit in die blom- eerder as in die blaarstadium gesny word. Verder moet daarop gelet word dat die verteerbaarheid met 16% verlaag. Die laer verteerbaarheid het ’n verlaging in die beskikbaarheid van ruproteïen tot gevolg. Meer lek sal in so ’n geval aangevul moet word.

Tabel 6 is saamgestel uit data oor die voer van skape met hooi wat op verskillende stadiums gesny is. Die bemesting is konstant vir al die behandelings. Dit is duidelik dat waar hooi op die blaarstadium gesny is, die verteerbaarheid en ruproteïeninhoud hoër is as waar die hooi op die blomstadium gesny is. Die verlaging in die verteerbaarheid en ruproteïen word in die gemiddelde daaglikse toenames weerspieël. Skape wat met hooi van beter kwaliteit gevoer is, het 100 g per dag vinniger gegroei as die skape wat met die swak hooi gevoer is. Indien die skape vir ’n 100 dae-periode gevoer word, is die verskil tussen die twee behandelings 10 kg per skaap. Teen ’n prys van R41,00 per kg, is dit ’n verskil van R410,00 per skaap.

Dieselfde tipe resultate is verkry waar hamels met oulandsgrashooi gevoer is. Die skape wat hooi gevoer is wat in die vroeë pypstadium gesny is, het teen 96 g per dag gegroei, terwyl dié wat hooi gevoer is wat in die laat blomstadium gesny is, 3 g massa per dag verloor het. Alhoewel die hooi wat in die laat blomstadium gesny is, ’n hoër ruproteïeninhoud gehad het, kon dit nie voorkom dat die skape massa verloor nie. Daar moet ook gelet word daarop dat die inname per skaap per dag laer is in gevalle waar daar op ’n laat stadium hooi gesny word. Die gras is baie meer stingelrig, met ’n gevolglik hoër veselinhoud, wat ’n laer verteerbaarheid tot gevolg het. Die skape vreet ook baie meer selektief, met ’n gevolglike verhoging in vermorsing.

Waar jong, groeiende lammers met dieselfde tipe hooi gevoer is, is dieselfde resultate verkry. Lammers is egter meer gevoelig vir voer van swak kwaliteit en vreet meer selektief as groot hamels. Uit Tabel 8 blyk dit dat die lammers wat hooi gevoer word wat in die vroeë pypstadium gesny is, 157% beter groei as lammers wat hooi vreet wat in die laat blomstadium gesny is.

Ten slotte
Indien moontlik moet hooi gesny word wanneer die gras ongeveer in ’n 10%-blomstadium is. Dit verseker dat daar ’n redelike kwantiteit en kwaliteit hooi gemaak word. Hooi wat onnodig lank in die son lê en wit brand, het ’n laer kwaliteit as hooi wat nog redelik groen is wanneer dit gebaal word. Wees egter bedag daarop dat hooi nie te nat gebaal word nie. Dit kan lei tot muf en spontane ontbranding.

Voorkom dat hooi ongebaal op die veld lê en natreën. Hooi wat natgereën het, het ’n laer kwaliteit. Waar moontlik moet hooi van goeie kwaliteit onderdak geberg word. Dit kos ongeveer R927,55 om een ton hooi te produseer. Vir elke ronde baal van 350 kg wat verlore gaan, verloor die produsent dus R324,64. Dit is die moeite en geld werd om te verseker dat klaar geproduseerde hooi nie verlore gaan nie. Beperk die gebruik van hooi tot slegs kritieke periodes in die laat winter. Voer die hooi van beste kwaliteit aan die produserende diere wat dit die nodigste het.

Dit is van uiterste belang dat geen bemestingsaanbeveling gedoen word sonder ’n behoorlike grondontleding nie. Indien ’n tekort aan sekere elemente in die grond voorkom, kan baie geld gespaar word deur eers dié tekort aan te vul. Produksieverliese kan voorkom wanneer daar nie voldoende voedingstowwe in die grond beskikbaar is nie.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.