InteliGro en VKB – die kragspan vir die produsent!

Janet Lawless, InteliGro
Gepubliseer: 28 Oktober 2020

1331

InteliGro en die VKB-groep het met trots ’n nuwe strategiese samewerkingsooreenkoms aangekondig.

Gedifferensieerd, doelgerig en aanpasbaar. Hierdie is van die sleutelfaktore waaroor enige sportspan – en produsent – moet beskik om suksesvol te wees. Uitdagings en die vermoë om aan te pas word dikwels in dieselfde sin gebruik wanneer volhoubare produksie in die konteks van die Suid-Afrikaanse landbousektor beskryf word.

Om veranderings aan te bring om die uitdagings van die ver­anderende omgewing te kan weerstaan, is dikwels ’n realiteit, maar ook ’n berekende risiko wat geneem moet word om volhoubaar te bly. Dit beteken bestaande praktyke moet deurentyd krities geëva­lueer word in die soeke na meer effektiewe metodes.

Janet Lawless, Rudolph Geldenhuys, John Smit en Koos Janse van Rensburg gesels oor sleutelsuksesfaktore in beide sport en besigheid.

Die Suid-Afrikaanse landboubedryf ervaar druk uit verskeie oorde en daar is ’n behoefte aan vennote wat ernstig is om tasbare waarde op plaasvlak toe te voeg. InteliGro en VKB het juis met hierdie doel voor oë besluit om kragte saam te snoer tot voordeel van die produsent.

Op 13 Augustus het InteliGro en VKB hul strategiese samewerking aangekondig. Om aan die COVID-19-regulasies te voldoen, is die bekendstelling op ’n paar plekke deur die streek versprei. Produsente, verteenwoordigers en verskaffers kon lekkernye geniet terwyl hulle na ’n regstreekse uitsending luister met onder meer die rugbylegende John Smit, Rudolph Geldenhuys van InteliChem en Koos Janse van Rensburg van VKB as gassprekers.

Deelnemers het aanlyn aangemeld om meer te wete te kom oor hierdie strategiese vennootskap. Janet Lawless van InteliGro het as seremoniemeester die sessie geopen met: “Ek het skoenlappers in my maag van opgewondenheid!” Sy het natuurlik verwys na die baanbrekersoplossing wat uitstekend by elke produsent se behoeftes gaan pas.

Francois Swanepoel (VKB), Janet Lawless (InteliGro), rugbylegende John Smit (gasspreker), Rudolph Geldenhuys (InteliChem), Koos Janse van Rensburg (VKB) en Johan Nienaber (InteliGro).

Die bestuur van insetkoste, produksiefinansiering en effektiewe bemarking is van die faktore wat ’n groot rol speel in volhoubare produksie, waarmee produsente dikwels worstel. Deur hul unieke samewerkingsooreenkoms wil InteliGro en VKB hierdie faktore saam met die produsent meer effektief bestuur sodat laasgenoemde kan fokus op dit waarin hy goed is – en dit is om te produseer.

Deur hierdie samewerking kan produsente meer koste-effektief en optimaal van saad- en gewasoplossingsprodukte voorsien word. Die sinergieë tussen die maatskappye bied ’n gedifferensieerde sakpas-aanbod wat wesenlike finansiële voordele inhou en tans by geen ander verskaffer in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

Gewasoplossingspesialiste van InteliGro sal produsente van tegniese advies voorsien en die kundige tegniese span sal verdere ondersteuning bied. Benewens produksiefinansiering om produsente in staat te stel om die nodige insette te bekom, bied VKB ook ’n afset vir produsente se produkte.

InteliGro bied omvattende gewasbeskermings-, gespesialiseerde plantvoedings- en biologiese oplossings asook ondersteun­ende tegnologie vir rygewasse en aartappels as deel van die strategiese samewerking en word deur sleutelverskaffers ondersteun.


Kontak InteliGro of VKB vir meer inligting by info@inteligro.co.za of vkb@vkb.co.za.