Bemesting van aangeplante weiding in die somerreënvalgebied

4376
Suzette Smalberger,
landboukonsultant

Kunsmis is een van die duurste en belangrikste insette vir die verbouing van aangeplante weidings vir optimale diereproduksie. Die regte en voldoende bemesting kan ’n drastiese verhoging in droëmateriaalproduksie oplewer.

Reënval
Reënval speel ’n belangrike rol in die opbrengspotensiaal van weiding onder droëlandproduksie. Hoe meer reën, hoe hoër die opbrengs en hoe meer voedingstowwe word benodig om die optimale produksie te behaal. ’n Basiese duimreël is gewoonlik een ton droëmateriaalproduksie per 100 mm reën, indien voldoende bemes.

Aangeplante weiding is soos alle gewasse baie afhanklik van stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) vir optimale produksie. Soos die reënval varieer, moet die bemesting ook aangepas word. Voldoende bemesting het die potensiaal om die produksie van weidings drie- tot viervoudig te verhoog.

Grondontledings is van kritieke belang om bemestingsaanbevelings en optimale grasproduksie te verseker. Grondregstellings voor die plant van aangeplante weiding is uiters belangrik, maar so ook op gevestigde aangeplante weiding. Kyk veral na die pH en ander makro-elemente asook die kombinasie daarvan.

Grond-pH
Die meeste weidingsgewasse produseer goed by ‘n pH van >4,5 (KCl). Daar is wel verskille tussen die suurverdraagsaamheid van verskillende grasspesies. Oulandsgras is verdraagsaam teen suurversadiging van <50% – wat baie suur is – terwyl Smutsvingergras ’n suurversadiging van <20% kan verdra. Grondsuurheid kan egter die opbrengs heelwat beperk. Grond-pH moet gereeld gemonitor word, omdat N-bemesting versurend vir die grond kan wees. Die doeltreffendheid van bemestingstowwe word negatief beïnvloed deur ’n te lae of te hoë grond-pH. Indien nodig kan kalk op die aangeplante weiding gestrooi word en dit sal wel oor tyd effektief wees.

Stikstof
Stikstof speel ’n uiters belangrike rol in droëmateriaalproduksie en die proteïeninhoud van weidings. Verhoogde proteïeninhoud lei tot voer van beter gehalte, wat uiteindelik verhoogde diereprestasie tot gevolg het.

’n Duimreël wat algemeen gebruik word vir N-bemesting is 0,2 kg tot 0,25 kg N-bemesting vir elke 1 mm reën – met ander woorde 100 kg N per hektaar vir ’n 500 mm-reënvalgebied.

Stikstofbronne het ’n aansienlike invloed op die aangeplante weiding se produksie. Die stikstofverliese en tydigheid van beskikbaarheid asook die tyd van toediening bly belangrik.

Fosfaat
Alhoewel daar uitsonderings kan wees, is Suid-Afrikaanse gronde oor die algemeen redelik arm aan P. Die ideale P-vlakke in die grond is 25 mg/kg. Indien vlakke in die grond te laag is, kan dit eenmalig reggestel word of oplosbare P kan deur die seisoen
saam met N toegedien word.

Normaalweg word P in die verhouding van 10:1 N en P toegedien, maar met P-tekorte kan die verhouding byvoorbeeld tot 8:1 verlaag word, sodat P stelselmatig oor seisoene in die grond kan opbou. Fosfaat word normaalweg as 10% van die N-peile toegedien.

Fosfaatonttrekking uit die grond kan van 1 kg/ton droëmateriaal geproduseer (swak grasweiding) tot 3 kg/ton droëmateriaal geproduseer (lusern) wissel. Indien plantmateriaal gesny en verwyder word, behoort P teen die bogenoemde peile teruggeplaas te word.

Kalium
Kalium speel ’n beduidende rol in die plant met voedingsopname, fotosintese, groeitempo en voedingswaarde wat beïnvloed word. Kalium is veral belangrik vir beter stamsterkte, die verbetering van die weerstand teen droogte en koue en dus vir die verhoging van die opbrengs.

Die ideale K-vlakke moet bo 120 mg/kg grond vir die meeste weidingsgewasse wees. Kalium kan voor plant of eers na vestiging toegedien word. Alhoewel K mobiel in die grond is, bly dit raadsaam om hierdie element teen hoë peile ook voor vestiging in die grond in te werk. Kaliumonttrekking is ongeveer 20 kg/ton droëmateriaal geproduseer. Waar plantmateriaal verwyder word, is dit nodig om al die K wat onttrek is, terug te plaas.

Swael
Swael word dikwels as die vierde makro-element beskou. Swael is noodsaaklik vir die vorming van proteïen en is dus baie belangrik vir groei en ontwikkeling. Heelwat N-bronne met ’n goeie swaelinhoud word deesdae geproduseer. Die ideale swaelinhoud van grond is 20 mg/kg grond. Vir toediening van swael kan die verhouding van 7:1 tot 10:1 met stikstof as riglyn gebruik word.

Praktiese navorsing
Stikstof word gewoonlik breedwerpig oor weiding uitgestrooi. Die regte stikstofbron beïnvloed die beskikbare stikstof onder die omstandighede. ’n Demonstrasieproef in die Lichtenburg-omgewing het duidelike verskille tussen verskillende stikstofbronne op die opbrengs en gehalte van Smutsvingergras uitgewys.

Bemestingspeile van 0, 50, 100 en 150 kg N/ha is as kalksteenammoniumnitraat (KAN) en ureum in die proef toegedien. Die kontrole is glad nie bemes nie. Grafiek 1 toon die droëmateriaalopbrengs by die verskillende N-toedieningspeile vir KAN en ureum.

Grafiek 1: Die opbrengs (t/ha) by vier N-bemestingspeile toegedien as KAN en ureum op Smutsvingergras op Lichtenburg tydens die 2014-seisoen.

Plante kan ureum nie direk opneem nie; dit moet eers in die grond deur die ensiem urease na plantopneembare N omgeskakel word. Die proses kan enigiets van een tot vyf weke duur, afhangend van die weerstoestande.

Stikstofbronne soos KAN en ANO (21) is reeds in die ammonium- en nitraatvorm, wat dadelik plantbeskikbaar is. Dus is die verliese van die stikstofbronne minimaal as dit uitgestrooi of gespuit word.

Verhoogde N-bemesting lei tot verhoogde proteïen per hektaar. Dit het nie net ’n verhoging in verteerbaarheid tot gevolg nie, maar verhoog ook die blaarrykheid en smaaklikheid van die gras, wat weer sal lei tot verbeterde diereproduksie. Die waarde van bemesting lê dus nie slegs in verhoogde biomassa nie, maar ook in meer ruvoer van goeie gehalte.

Grafiek 2: Die proteïenvlakke (%) by vier N-bemestingspeile toegedien as KAN en ureum op Smutsvingergras op Lichtenburg tydens die 2014-seisoen.

Die volgende beginsels word by die bemesting van aangeplante weidings aanbeveel:

  • Neem grondontledings voor bemesting.
  • Bemes voldoende.
  • Die pH en P-tekorte moet voor vestiging aangespreek word, terwyl K en N eers na vestiging toegedien kan word.
  • Bemes eerder kleiner gedeeltes voldoende in ’n spesifieke jaar as om te min kunsmis te gee. Dit is spesifiek van toepassing op N-bemesting.
  • Stikstofbemesting is besonder belangrik vir aangeplante weidings, maar ’n tekort aan ander elemente kan produksie ook drasties onderdruk.
  • Gebruik die regte N-bron.
  • Ureum wat onder droëlandtoestande bo-op weidings uitgestrooi word, kan as gevolg van N-vervlugtiging verlore raak. Vervlugtiging kan tot 75% wees onder uiterste toestande.
  • Onder besproeiingstoestande kan ureum egter gebruik word, omdat water die ureumvervlugtiging keer.
  • Ammoniumnitraat-N, byvoorbeeld KAN (28) en ANO (21), kan egter met vrymoedigheid uitgestrooi of uitgespuit word – met minimale verliese.
Grafiek 3: Die proteïen per hektaar geproduseer (kg/ha) by vier bemestingspeile toegedien as KAN en ureum op Smutsvingergras op Lichtenburg.

Die tipe dier op die aangeplante weiding
Dit is ondoeltreffend om hoëgehalteweidings te benut met diere wat nie produseer nie, soos droë koeie. Nieproduserende diere kan met ’n baie goedkoper voerbron steeds in die verlangde kondisie gehou word.

Diere soos melkkoeie, jong groeiende beeste, lammers wat afgerond word en stoetdiere het meestal ’n behoefte aan weiding van beter gehalte en is gewoonlik in staat om hierdie weidings doeltreffend te benut. Swak bemeste weidings kan nie aan hoëproduksiediere se behoeftes voldoen nie. Gevolglik gaan bemestingspeile ook deels bepaal word deur die tipe dier en die stelsel waarin die weidings benut word.

Vir meer inligting kontak Suzette Smalberger by 073 819 6076 of stuur ’n e-pos na suzette.smalberger1@gmail.com.

Waarskuwing
Die opbrengs van aangeplante weidings wat nie bemes word nie, word uiteindelik laer as dié van natuurlike veld.