Pasop vir klein jakkalsies wat die wingerd verniel

Hannes Pretorius, (Pr. Ing, MBA, B. Ing), besturende direkteur, SEM Solutions
Tiaan Hendriks, (M. Ing – Hernubare en Volhoubare Energie), hoof: Ontwerp en Raadgewende Dienste, SEM Solutions
Gepubliseer: 12 Desembmer 2022

1264

Is jy op soek na ’n energie-oplossing om besigheidskontinuïteit te verseker, afhanklikheid van die netwerk se krag te verminder, energiekoste te verlaag of jou onderneming se omgewings­impak te verbeter? Sukkel jy dalk om te besluit wie se raad om te volg of is jy selfs skrikkerig dat iemand jou gaan inloop om ’n vinnige paar rand uit jou te maak?

Hierdie artikel is geskryf met die fokus op jou, die produsent. Dit is nie ’n “doen-dit-self”-riglyn met tegniese raad oor komponente en spesifikasies nie. Jy het immers ’n boerdery om te bedryf en dit is tog hoekom jy ’n spesialis aanstel om vir jou die regte oplossing te bied. Daar is deesdae om elke hoek en draai kontrakteurs wat fotovoltaïese sonkragstelsels verkoop. Hoe moet jy die koring van die kaf skei?

Die volgende wenke is gemik daarop om die kundigheid en ervaring van professionele ingenieurs in die bedryf met jou te deel om seker te maak jy kry die beste waarde vir jou geld, sou jy besluit om in hernubare energie te belê.

Wenk 1 – Kragverbruik: ’n Perd van ’n ander kleur
Voor ’n boer ’n plan kan maak, moet die probleem eers geïdentifiseer word. Die eerste stap om die korrekte energie-oplos­sing te ontwerp, is om jou energie-behoefte asook verbruik waarlik te verstaan. Nie een boerdery is dieselfde nie en dus sal elke plaas se oplossing anders lyk.

Jou energieverbruik verander deur die loop van die dag. Dit is dus belangrik om ’n tipiese dag se elektriese lasprofiel te bepaal. Dit kan gedoen word deur ’n kragmeter te laat installeer wat gedurende die dag die kragverbruik lees en stoor vir verdere analise deur ’n kundige.

Die volgende aspek om in ag te neem, is seisoenale verande­ringe. Jou boerdery se plant- en oesseisoen affekteer die kragverbruik en dit is belangrik om dit in te moduleer om die regte grootte hernubare-energie-oplossing te ontwerp. Tipies sal dit gedoen word deur twaalf maande se elektriese rekeninge te analiseer om so­doende jou jaarlikse energiegebruiksprofiel te bou. Indien jou kontrakteur nie sy somme met jou wil deel nie, beteken dit waarskynlik dat hy dit nie kan doen nie.

Wenk 2 – Eskom: Slaan die spyker op die kop
Daar is drie Eskom-tariewe waarop jou boerdery kan wees. Die eer­ste en algemeenste tarief is Landrate en die tweede is Ruraflex. Daar is ook ’n Nightsave Rural-opsie vir kleiner verbruikers. Die tarief wat jy per krageenheid wat jy gebruik (R/kWh) op Landrate betaal, is deur die jaar dieselfde. Ruraflex is ’n tyd-van-gebruik-tarief wat beteken die tarief verander deur die loop van die dag asook deur die loop van die jaar.

Sodra jy enige kragopwekkingstelsel aan die nasionale netwerk koppel, moet jy jou tarief laat verander na Ruraflex Gen en Eskom verwittig om ’n tweerigting-vierkwadrantmeter te kom installeer. Let wel, dit is onwettig om ’n fotovoltaïese sonkragstelsel op ’n analoogmeter te koppel wat die meter laat “terug” draai. Sommige kontrakteurs sal jou adviseer om dit net so te los vir beter besparing, maar die dag wat ’n man met ’n das en ’n aktetas aan jou deur kom klop, gaan daardie kontrakteur soos mis voor die son verdwyn.

Met die oorskakeling na die Ruraflex Gen-tarief het jy toegang tot Eskom se “bank”-model. Indien jou sonkragstelsel meer krag opwek as wat jou boerdery gebruik, word daardie ekstra krag teruggestoot in die netwerk en as krediete in jou meter gestoor. Jy kan hierdie kre­diete later die jaar weer onttrek, mits dit in dieselfde tyd-van-gebruik-tydgleuf val. Dit is baie belangrik om kennis te dra dat hierdie krediete aan die einde van Eskom se finansiële jaar verval. Daar is dus geen voordeel daarin om die sonkragstelsel té groot te maak nie – jy gaan net meer betaal vir ’n sisteem wat nie tegnies korrek ontwerp is nie.

Om seker te wees dat jou kontrakteur die tariewe en die bo­genoemde implikasies verstaan, dring aan op ’n ontwerpsverslag wat duidelik toon hoe daar op jou sisteem se grootte besluit is.Die korrekte ontwerp kan maak dat jou jaarlikse kragaankope vanaf Eskom aansienlik verlaag.

Wenk 3 – Ontwerp: Wees seker van jou saak
Moet sonpanele altyd noord kyk? Nie noodwendig nie. Die oriëntasie van jou fotovoltaïese sonkragstelsel moet bepaal word deur jou elektriese lasprofiel. Onder wenk 1 het ons gesels oor jou daag­likse kragverbruik wat die basiese bestanddeel van jou wenresep is. Indien jou las byvoorbeeld deur die dag relatief dieselfde is, sal ’n oos-wes-oriëntasie waarskynlik beter werk.

Die grootte van jou fotovoltaïese sonkragstelsel word bepaal deur jou jaarlikse lasprofiel en die kersie op die koek is om jou sisteem so te ontwerp dat jy die maksimum voordeel van
Eskom se kredietmodel geniet. ’n Sisteem wat te groot is, gaan net voordelig wees vir die kontrakteur wat dit aan jou verkoop.

Sal jy jou pensioen in die hande van ’n finansiële adviseur laat wat al sy ervaring deur ’n paar video’s op die internet opgebou het? Vir seker nie! Jy wil gerus wees dat jou belegging in goeie hande is. Maak dus seker die ontwerp van jou sonkrag­sisteem word deur ’n kundige gedoen. Doen navrae rakende die ontwerper (wat hopelik ’n ingenieur is) se kwalifikasies en ervaring. Onthou ook dat jou installasie deur ’n professioneel ge­registreerde ingenieur afgeteken moet word.

Wenk 4 – Belasting: Pasop vir ’n wolf in skaapsklere
Daar is sekere belastingvoordele van toepassing op hernubare-energie-installasies. Artikel 12B(3) maak voorsiening vir versnelde depresiasie, wat beteken dat jy 100% van jou fotovoltaïese sonkragstelsel se koste van jou belasbare inkomste kan aftrek in jaar 1 (indien die sisteem kleiner as 1 MW is).

Ongelukkig is daar vreemde interpretasies van die voordele in die bedryf en kan jy baie maklik ’n rat voor die oë gedraai word deur ’n goeie verkoopsman. Sommige wolwe sal hierdie toela­ting verkeerdelik verwoord en aan jou verduidelik dat jy eerder sy stelsel moet installeer as wat jy belasting aan SARS betaal, siende dat jy 100% van jou sisteem se koste van belasting kan aftrek. Hulle redenasie word in Tabel 1 uiteengesit.

Die voorgenoemde stelling en berekening is nie die waarheid nie! SARS is allesbehalwe ’n bank wat hernubare-energieprojekte finansier. Daar is ’n wesenlike verskil tussen belasting en belasbare inkomste. Die korrekte berekening word in Tabel 2 uiteengesit.

Ons beveel sterk aan dat jy met jou boekhouer gesels voordat jy enige besluite neem om duidelikheid te kry oor wat jy realisties van jou inkomstebelasting kan aftrek.

Wenk 5 – Finansiering: Indien geld nie op jou rug groei nie
Om te moet kies tussen ’n nuwe stroper en ’n sonkragstelsel is nie ’n baie moeilike besluit nie: die stroper het ’n werk wat hy moet verrig. Hou in gedagte dat met die korrekte ontwerp en operasionele benadering jou belegging in hernubare energie homself kan afbetaal en die banke neem dit in ag. Jou boerdery sou in elke geval krag moes aankoop by Eskom. Indien jy dus ’n lening moet afbetaal om jou eie krag te genereer en nog steeds geld spaar, is daar min risiko in die belegging.

Daar is geen rede hoekom jy moet kies tussen die stroper en hernubare energie nie. Kies bloot beide indien jy kan. Van die algemeenste finansieringsmodelle op die mark kan as volg opgesom word:

  • Lening: Die meeste banke bied finansiering vir hernubare-energieprojekte. Gewoonlik kry kliënte ’n lening vir die volle koste van die sisteem (BTW uitgesluit) oor ’n termyn van vyf tot selfs tien jaar. Jou rentekoers en termyn hang natuurlik van jou kredietwaardigheid af.
  • Huur: Indien jy nie belangstel om ’n fotovoltaïese sonkragstelsel op jou boeke te hê nie, maar nog steeds die voordeel van die tegnologie wil benut, kan ’n huurkontrak vir jou sin maak. Jy betaal ’n vaste bedrag per maand wat glad nie beïnvloed word deur hoeveel van die opgewekte krag jy gebruik nie. Huurkontrakte is veral gewild ten opsigte van batterystelsels.
  • Kragaankoopooreenkoms: Met ’n kragaankoopooreenkoms (power purchase agreement of PPA) het jy geen kapitale uitleg nie en jy hoef ook nie ’n vaste bedrag per maand te betaal nie. Jou maandelikse koste is ’n funksie van die totale krag wat die sisteem opgewek het. Sommige ooreenkomste kan so opgestel word dat jy slegs betaal vir dit wat jy gebruik, terwyl die finan­sierder die versekering en onderhoud behartig.

Wenk 6 – Installasie: Die hinkende perd kom agterna
Die laaste ding wat jy wil hê, is dat moeilikhede jou later volg. Dit help veel dat jou sonpanele 20 jaar kan hou as die struktuur waarop dit geïnstalleer is, binne vyf jaar gaan verweer.

Jy as produsent gaan nie weet hoe die kwaliteit en langlewendheid van jou installasie vergelyk met dié wat deur topkontrakteurs in hul veld geïnstalleer word nie. Ongelukkig is daar kansvatters wat hierdie feit sal uitbuit. Hulle sal jou markverwant kwoteer, maar dan kortpaaie vat met die installasie om hul koste so laag as moontlik te hou. Die gevolg is dat jy ’n donkiekar teen die prys van ’n bakkie kry (Figuur 1).

Figuur 1: Maak seker die installasie is van hoë gehalte.

Wees versigtig vir ’n kontrakteur wat jou heuning om die mond smeer oor die superieure sonpanele, omsetters of batterye wat sy maatskappy invoer van wie weet waar af. Onthou dat jou stelsel ’n 20-jaarbelegging is; waar gaan jy toerusting aankoop as die spesifieke maatskappy volgende week toemaak? Maak seker dat die nodige bystand in Suid-Afrika beskikbaar is vir al die komponente van jou sisteem.

Nog ’n uiters belangrike faktor om te oorweeg rakende die toerusting wat jy laat installeer, is waarborge. Sommige verskaffers is goedkoper as ander vir ’n rede. Hoe moet jy dus weet wat aanvaarbaar is? Hier is ’n riglyn van die tipiese waarborge wat deur die hoërgehaltefabrikate verskaf word:

  • Sonpanele se kragopwekkingsvermoë (lineêr): 25 jaar.
  • Sonpanele se materiaal: tien jaar.
  • Substrukture waarop die sonpanele geïnstalleer word: tien jaar.
  • Kragomsetters: vyf jaar (kan soms verleng word tot 20 jaar).
  • Batterye: 4 000 siklusse (tien jaar).
  • Vakmanskap van kontrakteur: twaalf maande.

Ten slotte
Met die korrekte ontwerp en operasionele benadering is die meeste fotovoltaïese sonkragstelsels vanaf jaar 1 kontant-positief. Dit is na­tuurlik mits ’n boer die regte plan maak.

Vir meer inligting, besoek www.semsolutions.co.za of kontak SEM by 021 423 6964, 012 741 9299 of 031 202 6244.