Grane en oliesade: Voorraadscenario’s vir die 2020/2021-seisoen

1644
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

07|11|2019

Die 2020/2021-somergraanproduksieseisoen is aan die gang en met die skryf van hierdie artikel was die aanplantings nog baie beperk. In veral die oostelike gedeeltes van die land is die seisoen later as normaal. Die optimale planttyd vir dié dele is tussen 15 Oktober en 15 November, terwyl die optimale planttyd vir die westelike gedeeltes van die land tussen 15 November en 15 Desember is. Die komende seisoen is, soos enige ander, vol risiko’s wat beide produksie- en prysrisiko insluit. Beide die plaaslike produksievooruitsigte asook die internasionale markfaktore het ’n impak op die plaaslike mark.

Internasionale markte
Daar is in die internasionale mieliemark tans nog baie onsekerhede, veral rakende die Amerikaanse produksie vir die seisoen. Die later as normale aanplantings het die opbrengspotensiaal vir die seisoen onder druk geplaas. Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou sal die wêreldeindvoorraad vir die 2019/2020-seisoen 295 miljoen ton beloop, wat 7,5% laer as die vorige seisoen se eindvoorraad is.

In die internasionale oliesaadmark word die Amerikaanse pro­duksie vir die seisoen op nagenoeg 96 miljoen ton geskat, wat onge­veer 20% minder as die vorige seisoen se produksie is. By ander groot produserende lande is die fokus tans op Suid-Amerika, waar die aanplantings ook nie optimaal plaasvind nie vanweë droër as normale toestande. Die globale eindvoorraad tot verbruik van sojabone word op 27% geskat vir die 2019/2020-seisoen wat steeds hoog is. In terme van sonneblomsaad het die wêreldproduksie ’n nuwe rekordvlak bereik wat veroorsaak dat daar baie sonneblomsaad internasionaal beskikbaar is.

Plaaslike mark
Plaaslik is daar baie onsekerhede rakende die seisoen se produksie- asook prysverwagtinge. Die nuwe seisoen se aanplantings sal in beide produksie- asook prysverwagtinge ’n belangrike rol speel. Gunstige mielieproduksie sal die plaaslike prys skerp onder druk plaas, terwyl moeilike produksieomstandighede, met ’n kleiner as normale oes vir die 2020/2021-bemarkingseisoen, weer goeie ondersteuning aan die plaaslike mark kan bied.

Grafiek 1 tot Grafiek 3 toon die verskillende eindvoorraadscenario’s vir die 2020/2021-bemarkingseisoen van mielies, sojabone en sonneblomsaad onderskeidelik. Die persentasie van plaaslike verbruik is ’n goeie maatstaf om die omvang van die beskikbare voorraad uit te druk. Die optimale eindvoorraad as persentasie van plaaslike verbruik is ongeveer tussen 12% en 14%. Eindvoorraad tot verbruik van laer as 12% beteken dat die plaaslike voorraad laag is en daar moontlik ingevoer gaan moet word. Eindvoorraad tot verbruik van meer as 15% is hoog en dan kan daar na diepsee-uitvoere gekyk word.

Die berekeninge in die scenario’s is op die volgende aannames gebaseer:

    • Oppervlakte aangeplant = NOK-voorneme om te plant vir die 2020/2021-bemarkingseisoen.
    • Die gemiddelde plaaslike verbruik sluit normale Afrika-uitvoere van mielies in.
    • Opbrengste:
        • Scenario 1: Laagste opbrengs in die afgelope vyf jaar
        • Scenario 2: Vyfjaar- gemiddelde opbrengs
        • Scenario 3: Rekordopbrengs

In Grafiek 1 word aangetoon dat ’n onder gemiddelde scenario (Scenario 1), die plaaslike mieliemark in ’n tekortsituasie kan plaas. Indien daar ’n gemiddelde scenario uitspeel (Scenario 2), behoort daar genoeg mielies plaaslik beskikbaar te wees om aan die vraag te voldoen. Indien ’n bogemiddelde scenario realiseer (Scenario 3), kan dit lei tot ’n oorskot mielies, wat beteken dat die plaaslike markpryse onder druk kan kom. Die verbruiksyfers wat in die berekeninge gebruik is, sluit die normale Afrika-uitvoere in.

Grafiek 2 toon die sojaboonvoorraadscenario’s vir die 2020/2021-bemarkingseisoen aan, gebaseer op dieselfde aannames as die mielies. ’n Onder gemiddelde opbrengsscenario sal veroorsaak dat die plaaslike aanbod laer as die plaaslike vraag sal wees. Met ’n gemiddelde opbrengs behoort die plaaslike voorraadvlakke steeds relatief laag te wees. ’n Bogemiddelde opbrengs vir die seisoen sal die plaaslike sojaboonvoorraadvlakke weer skerp laat toeneem. Die plaaslike verbruik van sojabone het gedurende die 2019/2020-bemarkingseisoen goed gegroei en die verwagting is dat dit sal aanhou toeneem in die komende seisoen, indien daar genoegsame voorraad plaaslik beskikbaar is. Die persmarge is die grootste aspek wat die plaaslike verwerking van sojabone in die komende seisoen sal beïnvloed. ’n Goeie persmarge sal die plaaslike verbruik ondersteun, terwyl die plaaslike verbruik laer kan wees indien die persmarge negatief is.

Die verwagte eindvoorraad van sonneblomsaad vir die 2020/2021-bemarkingseisoen, gegewe die verskillende scenario’s, word in Grafiek 3 aangedui. Sonneblomvoorraadvlakke behoort in die meeste gevalle redelik aan die lae kant te wees in die komende seisoen, aangesien dit vanaf ’n lae-opbrengs- tot ’n hoë-opbrengsscenario tussen 11% en 15% behoort te wees. Die persmarge speel ook ’n groot rol in die plaaslike sonneblomsaadmark. Sodra die plaaslike voorraadvlakke laag raak, word daar minder sonneblomsaad verwerk en meer sonneblomolie ingevoer.

Ten slotte
Die voorraadvlakscenario’s wat in die artikel bereken word, is gebaseer op die voorneme om te plant en verskillende opbrengsscenario’s. Dit maak dus nie voorsiening vir hoër of laer aangeplante oppervlaktes wat kan realiseer nie. Alhoewel die weerstoestande die grootste bepaler sal wees van die oppervlakte van die verskillende gewasse wat hierdie seisoen aangeplant sal word, is dit belangrik om die verskillende faktore in ag te neem wanneer produsentebesluite geneem word – of dit nou besluite rakende aanplantings of prysverskansing is. Produsente moet al die moontlike risiko’s in ag neem om sodoende die bestuurbare risiko’s tot die beste van hul vermoë te bestuur.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.