Maskers

Gepubliseer: 11 Junie 2020

1055

Beste Grootneef

Een aand laat flits ek deur die TV-kanale op soek na iets anders as corona-nuus. Die kanaal waar ek toe vassteek, het gehandel oor die presidentskap van president George W. Bush in 2001. Een van die mees traumatiese gebeure waarop die Withuis moes reageer, was 9/11. Die beelde van twee vliegtuie wat in die World Trade Centre se torings inploeg, sal vir baie ’n leeftyd bybly. Een politieke kommentator het opgemerk dat die wêreld nooit weer dieselfde sou wees nie.

So sal elke geslag ’n gebeurtenis onthou wat die wêreld, soos hulle dit geken het, vir ewig verander. In ons leeftyd het die corona-familie die hele wêreld se sake plotseling deurmekaar kom krap.

Daarvan het buurman my anderdag by die hoekpaal kom vertel. Sy masker styf oor neus en mond en met sy brilglase wat toewasem, terwyl hy driftig beduie oor die beloftes van twak wat in die niet verdwyn het. Buurman het ook gemymer oor die Blou Bulle se toekoms onder White. Met die ding van sosiale afstand, sal ’n skrum deesdae moeilik sak sonder dat die viruspolisie ’n rooikaart lig. Oor die moontlikheid om in die toekoms wedstryde voor leë paviljoene te speel, het buurman laat weet dat dit nie só moeilik kan wees nie – die Blou Bulle doen dit al vir jare.

Ou Neef, die eerste besoek aan ’n winkel met ’n masker op was skoon aardig. Dis moeilik om mense te lees wanneer net hul oë bokant ’n masker uitsteek. Die moeilikste was egter om nie blad te skud met bekendes nie. ’n Vat vyf is ingebore in ons manier van doen – dit is net nie dieselfde met ’n elmboog nie.

Die grendeltyd was vir elk iets anders. Met die grendel vir weke toegeskuif, moes mense hul lewenswyse drasties aanpas en nuwe vaardighede baasraak. Die woord “sosiale afstand” was vreemd op die tong. Deel van uitbundigheid is tog om emosie spontaan los te laat met ’n high five as die Bokke ’n wêreldbeker huis toe bring. Of wanneer empatie jou omgeef, ’n handdruk of drukkie aan iemand te gee wat ’n swaar las dra. Dié manier van leef en doen is helaas vir eers verby.

Maar in net ’n paar weke is die veilige afstand van 1,5 meter oorbrug met ’n sprong die kuberruim in. Algar praat met WhatsApp, Zoom of Facebook. Emoji’s dra emosie met ’n duim na bo of onder, ’n glimlaggie of ’n gesig met ’n plooi. Mense braai selfs virtueel met video’s wat wys hoe boerewors op die kole sis.

Die grendeltyd was ook vir vele die geleentheid om nog nader aan mekaar te groei. Vir ander was die gedeelde ruimte ’n geknelde land wat te veel gevra het. Hoe dit ook al sy, die lockdown het niemand onaangeraak gelaat nie. Dit was ook die tyd om bestek te neem en te weeg wat belangrik is vir die lewenstyd wat aan elk gegun word.

Vir die meeste landbouers was die grendeltyd in vele opsigte die normale gang van leef en werk, behalwe vir maskers en sanitasie wat ’n realiteit geword het. Die seisoene loop immers volstoom en plant en oes is nodig om die silo’s vol te hou. Die grendeltyd was egter ’n stille oorwinning vir ons graanboere. Nêrens is debat gevoer of graanboere of die oes wat hulle produseer, essensieel is nie. Daar was eenstemmigheid dat graanboere en hul werkers die eerste skakel in die ketting is om kos op winkelrakke te hou. Net jammer dat oom Cyril en sy span die wyn- en tabakboere se bydraes op die lange baan geskuif het. En as die grendel op die moutprodukte gesluit bly, sal ons garsboere ook nie vanjaar ’n oes kan plant nie.

Die gesels met buurman by die hoekpaal het soos altyd geëindig met ’n wuif en elk wat weer rigting vat in sy bakkie. Hierdie keer was dit egter met ’n heimwee, omdat die toekoms só plotseling deel van ons lewens geword het. Voorheen was maskers daar as jy nie ’n aap uit die mou wou laat nie. Nou moet ons leer om mense te lees wat elke dag ’n masker dra.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.