Lang wag op werktuie – is daar lig in die tonnel?

Gepubliseer: 28 Julie 2023

319
Karina Muller,
SA Graan/Grain-medewerker

Dit lyk asof die agterstand in die voorsiening van landbouwerktuie, onderdele en mikroskyfies binne die volgende drie maande iets van die verlede behoort te wees.

Volgens Tallie Giessing, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SALMA), begin voorraad die land geredelik binnekom.

“Die tekort aan standaardtrekkers is redelik uitgewis, maar spe­sialisimplemente soos stropers, groter trekkers en spuittoerusting is nog besig om op te vang,” sê Giessing.

Die tekorte het grotendeels weens die wêreldwye Covid-pandemie ontstaan, aangesien daar nie in die vraag voorsien kon word nie. In die geval van hoëtegnologieprodukte soos mikroskyfies is daar slegs enkele wêreldwye verskaffers. Van die kleiner verskaffers het Covid nie oorleef nie.

Giessing sê die oorgrote meerderheid landbouwerktuie kom vanaf Europa, aangesien plaaslike wetgewing op Europese standaarde gebaseer is. Daar moet aanpassings aan werktuie uit Noord-Amerika gemaak word.

Hoewel sekere BRICS-lande, soos Brasilië, China en Indië, implemente aan Suid-Afrika voorsien, kom die hoëtegnologieprodukte steeds uit Europa.

Karel Munnik van Lemken sê daar is tans steeds ’n lang wagtyd vir bande, asse en hidrouliese komponente soos pype en silinders.

Langer wagtye
Op sy beurt sê Karel Munnik, besturende direkteur van Lemken SA, egter dat hul binnelandse bestelboek vol bly. “Dit is asof die wagtye net langer raak. Implemente wat reeds in Augustus verlede jaar be­stel is, sal eers teen Desember vanjaar in die land aankom.”

Lemken se fabriek in Duitsland lewer aan Rusland, waar hulle ook ’n monteringsaanleg het. Sedert die begin van die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne was daar steeds ’n vraag na implemente in daardie lande.

Munnik sê egter dit is asof bestellings uit Rusland en die Oekraïne in die laaste maand ’n draaipunt bereik het. Dit is goeie nuus vir produsente in Suid-Afrika, aangesien implemente wat vir die Oos-Europese mark bestem was, met klein aanpassings aan byvoorbeeld rollers, nou na Suid-Afrika verskeep kan word.

Hy meen die groot oponthoud lê wel daarin dat hul fabriek op derdepartyverskaffers aangewese is. Hierdie verskaffers se buf­fervoorrade het tydens die Covid-pandemie uitgeput geraak. “Die groot gewag is veral op bande, asse en hidrouliese komponente soos pype en silinders.”

’n Ligpunt is Lemken se aanskaffingsoor­eenkoms met Equalizer wat beteken dat ’n vervaardigingsaanleg in die Kaap opgerig gaan word wat binne vyf jaar tussen 2 000 en 3 000 planters per jaar sal vervaardig wat ook vir die buitelandse mark bestem sal wees.

Lemken se aanskaffingsooreenkoms met Equalizer beteken dat ’n vervaardigingsaanleg in die Kaap opgerig gaan word wat binne vyf jaar tussen 2 000 en 3 000 planters per jaar sal vervaardig.

Gietyster en mikroskyfies
Jaco du Preez, New Holland se bemarkingsbestuurder in Suidelike Afrika, sê hulle ervaar steeds probleme met heelwerktuie uit die VSA. Hy skryf dit veral toe aan die onbeskikbaarheid van elektronika – veral mikroskyfies – en gietyster. “Vreemd soos dit mag klink, het Amerika nie gieterye nie. Gietysterprodukte kom van China; so ook mikroskyfies.”

Die plaaslike mark het ook intussen gegroei en daar is ’n voortdurende vraag na hoëkilowatt-eenhede. Volgens Du Preez is daar nie in dié stadium sprake van enige sanksies teen Suid-Afrika van die VSA se kant nie.

Hy meen die agterstand wat tydens die Covid-pandemie ontstaan het, is nog lank nie ingehaal nie, hoewel fabrieke in Turkye, Indië, Oos-Europa en Brittanje reeds weer op volle kapasiteit funksioneer.

New Holland ervaar nie probleme om produkte by die Durbanse hawe uitge­klaar te kry nie, maar het tot enkele maande gelede wel gesukkel dat die plaaslike metrodienste swaar (abnormale) toerusting uit die Durbanse metropool begelei. “Ons het met hulle vergader en gee nou ons skedules vooruit deur. Wanneer die toerusting uitge­klaar word, is die metrodienste op hul pos.”

Jaco du Preez van New Holland het dié steelfoto van die nuwe CR-stroper wat tans in België getoets word met SA Graan/Grain gedeel. “Daardie rusperbande vooraan lyk na besigheid – kan nie wag om dit in Suid-Afrika te sien nie.”

Min vertragings
Staalmeester in Hartbeesfontein wat ver­al onderdele uit lande soos Brasilië, Italië en Turkye invoer, se wagprobleme is reeds sowat ’n jaar lank iets van die verlede. Hendri­ de Korte (depotbestuurder) en Elzanne Labuschagne (onderdelebestuurder) het met­ SA Graan/Grain gesels.

De Korte sê dit neem sowat 40 tot 60 dae vandat ’n onderdeel bestel is tot hulle dit ontvang. Op haar beurt sê Labuschagne dat probleme by die Durbanse hawe ook redelik uit die weg geruim is en dat daar min opeenhoping voorkom.