Die stryd teen skraalhanse – ’n langtermynstrategie

1716
Valerie Cilliers,
SA Graan/Grain
redakteur

Hulle noem dit nie verniet die armoedskruid nie, want waar skraalhanse welig groei, is opbrengste dikwels maar skraal. Dit is veral op lande waar minimum- of geenbewerking toegepas word dat dié houtagtige onkruid dikwels een van die grootste negatiewe faktore is wat die winsgewendheid van ’n oes beïnvloed.

Skandeer die kode om na ‘n kort onderhoud met Jaco de la Rey te luister.

Jaco de la Rey, wat op die plaas Springbokdraai net buite Leandra boer, sê die ekonomiese impak van skraalhanse word landswyd onderskat. Hy het eers die erns daarvan besef toe sy sojaboonoes hierdie jaar ’n opbrengs van net minder as die helfte van die langtermyngemiddeld gelewer het. Hy skryf dit grootliks toe aan die druk op die oes weens die teenwoordigheid van skraalhanse in sy sojaboon- en mielielande.

Jaco de la Rey wys hoe die skraalhanse na sy mie­lieoes begin opkom het.

Dit is veral die vaalskraalhans (Conyza sumatrensis) wat hierdie jaar, meer as ander jare, tussen Jaco se sojaboonplante en mieliereste kom plek inneem het. “Die druk op die sojaboonoes was baie hoër as op die ander gewasse, juis omdat daar minder onkruidbeheeropsies vir sojaboonlanderye is,” verduidelik Jaco. Hy meen dat die besonder droë somer van 2018 bygedra het tot die skielike populasiegroei van die onkruid.

“Ek het die fout aanvanklik eers by myself begin soek en by ’n tegniese werksgroep aangesluit om meer te wete te kom oor die bestryding van die onkruid.” Dit is hier waar Jaco deur BASF genader is om deel te word van ’n projek wat proefplotte op Belfast, Koster, Hennenman, Reitz, Bloemfontein en nou ook Leandra vestig. Hiermee word gepoog om die beste strategie en toedieningskedule vir die bekamping van skraalhanse te bepaal.

Op Springbokdraai is toedienings (Roundup en 2,4D asook Eragon [saflufenacil] en Roundup) op vier plotte aangewend, sien Foto’s 2 tot 5.

Op plot 1 is die eerste toediening op 21 Junie aangewend en daarna weer op 6 Augustus en 13 September. Soos duidelik op die foto gesien kan word, is daar op 30 Oktober geen teken van enige skraalhans nie.

Sean Stiles (rygewasbestuurder, BASF) verduidelik dat die tydige toediening van plaagdoder uiters belangrik is. “Hierdie onkruid word geklassifiseer as ‘moeilik om te beheer’. Dit is daarom noodsaaklik om die onkruiddoder toe te dien net nadat die plant ontkiem het. Die tydperk net voor en net na ’n oes is van kritieke belang. As skraalhanse eers oorwinter het, raak jy baie moeilik daarvan ontslae.” Hy sê daar moet ook seker gemaak word dat daar geen skraalhanse op die lande is wanneer daar geplant word nie. “Dit raak baie moeilik om skraalhanse tussen gewasse te beheer,” verduidelik hy.

Die eerste toediening op plot 2 was op 6 Augustus en daarna weer op 13 September – ook met redelike sukses.

Volgens Sean is Jaco ’n baie goeie kandidaat en vennoot in die stryd teen skraalhanse. “Jaco het self baie navorsing gedoen en byvoorbeeld geëksperimenteer met druppelgroottes.” Hy verduidelik dat die fyn haartjies op die skraalhansblare die penetrasie van die gifstowwe bemoeilik. Die mondstuktipe, watervolume en waterdruk tydens bespuiting is dus baie belangrik.

“Hierdie is ’n hele wetenskap op sy eie,” verduidelik Jaco. “Jy wil seker maak dat die onkruiddoderdruppel so lank as moontlik op die plant vestig. So het ons byvoorbeeld vir die eerste keer watersensitiewe papier gebruik om die optimale waterdruppelgrootte te bepaal. Ons het ook besef dat jy nie hier ’n paar rand moet probeer spaar deur minder as die voorgeskrewe dosis te gebruik nie. Die ekonomiese impak van die onkruid is baie groter as die geld wat jy gaan spaar,” sê hy.

Op plot 3 is daar vir die eerste keer op 13 September ’n toediening aangewend, met ’n mindere mate van sukses.

Tog bly die grootste faktor die tydsberekening en genoegsame monitering van die landerye. “Skraalhanse se groeiskedule val buite die tradisionele toedieningstydperk van onkruiddoders. Dit is baie belangrik dat produsente op die uitkyk bly vir die klein plantjies wat dikwels onder oesreste verskuil is,” sê Sean. Hy noem dat glifosaatweerstandigheid tans ’n groot bekommernis is. “Produsente het oor jare net glifosaat gespuit, grootliks omdat dit ’n breëspektrumonkruiddoder is. Tog is dit nodig om die produkte af te wissel en te kombineer om sodoende te keer dat onkruid weerstandig raak. Om skraalhanse onder beheer te kry, moet produsente ’n program wat oor jare strek, volg. Daar is nie ’n kitsoplossing nie,” waarsku Sean.

Die Double Tap-metode is op plot 4 gebruik, met twee toedienings vinnig na mekaar op 18 en 24 Oktober. Teen hierdie tyd was die skraalhanse al redelik groot en alhoewel die toedienings ’n effek op die plante gehad het, is daar hergroei te bespeur.

Jaco is tevrede met die resultate van die proewe. “Ons kon reeds baie goeie afleidings maak en na baie kopkrap en wakkerlê, sien ek lig aan die einde van die tonnel.”

’n Paar interessante feite oor skraalhanse:

  • Skraalhanse ontkiem in herfstyd (April tot Julie).
  • Een skraalhansplant kan 230 000 sade dra.
  • Die sade word deur die wind versprei en kan honderde kilometers van die moederplant gewaai word.
  • Aanvanklik is daar min groei bo die grond, terwyl die penwortel gevestig word. Daarna kan die plant tot twee meter hoog groei.
  • Skraalhanse het lig nodig om te ontkiem en ontkiem dus in vlak grond. ’n Dekgewas wat ’n deklaag (canopy) vorm, werk goed om die onkruid teen te werk – juis omdat dit die lig weg hou.
  • Skraalhanse hou van onbewerkte grond en ontkiem binne sewe dae, maar kan ook tot drie jaar later eers ontkiem.
  • Beweiding lei daartoe dat daar minder blare is en dus minder kans vir onkruiddoder om die plant te penetreer.

’n Opsomming van huidige bevindings vir die langtermynbeheerstrategie van skraalhanse:

  • Die buitengewone toedieningsvenster: Onkruiddodertoediening moet geskied net nadat die skraalhans ontkiem het (die grootste deel van ontkieming geskied net na oes).
  • Vir die beste resultate moet die voorgeskrewe toedieningsinstruksies gevolg word.
  • Gereelde monitering van velde vir ontkiemende skraalhanse is van uiterste belang.
  • Produsente moet verskeie onkruiddoders en metodes van werking afwissel om skraalhansweerstandigheid te vermy.
  • Elke seisoen bring sy eie uitdagings en die beheerstrategie moet dienooreenkomstig aangepas word.