September 2017

Gerrit van Vuuren, hoof tegniese adviseur, Villa Crop Protection

Met die nuwe somergewas­produksieseisoen op hande, is dit belangrik dat daar opnuut besin word oor wegdrywing (drift) van landbouchemiese middels na nie-teikenareas tydens toediening. Dit is ver­al belangrik dat sekere wanpersepsies rakende wegdrywing aangespreek word aangesien dit juis, byvoorbeeld in die geval van kalm windtoestande, ‘n bepalende rol in wegdrywing speel.

Produsente is geneig om net aan lugtoediening van onkruiddoders te dink as daar oor wegdrywing gepraat word. Hoewel dit sekerlik in ‘n groot persentasie van gevalle waar oesskade veroor­saak word wel ter sprake is, is dit belangrik om te besef dat wegdrywing van insek- en swamdoders ook ekonomiese gevolge kan hê indien dit byvoorbeeld teen oestyd op ‘n uitvoergewas beland wat later weens hoë residu­vlakke afgekeur word.

Die ander mistasting is die gedagte dat wegdrywing net ‘n pro­bleem is wat met lugbespuiting geassosieer word. Al hoe meer gevalle van gewasskade as gevolg van wegdrywing van onkruiddoders by trekkertoedienings (insluitend selfloop­spuite) word deesdae aangemeld (Foto 1).

Hoewel wegdrywing van landbouchemiese middels deur verskeie faktore beïnvloed word, is die volgende drie faktore sekerlik die belangrikste en kan dit ook effektief bestuur word:

  • Toediening onder gunstige/ongunstige klimaatstoestande;
  • druppelgroottespektrum; en
  • hoogte van loslating.

Klimatologiese toestande wat weg­drywing beïnvloed
Hoewel hoë windsnelheid sekerlik ‘n groot rol speel by wegdrywing, bestaan daar die foutiewe persepsie dat dit die veiligste is om bespuitings te doen onder windstil/ kalm toestande en dat wegdrywing oor langer afstande met hoë windsnelhede gepaard gaan.

Die ironie is dat langafstandwegdrywing (1 km plus) juis onder kalm windtoestande plaasvind en spesifiek tydens temperatuur­inversietoestande. Temperatuurinversietoestande kan van laatmiddag af begin voorkom wanneer die wind gaan “lê” en kan voort­duur tot die volgende oggend wanneer die son weer die grond verhit – wat die hitte-energie uitstraal en die lug verhit.

Tydens ‘n temperatuurinversie verkeer ‘n laag koeler, meer digter lug naby grondvlak onder ‘n laag warmer lug. Dit word altyd geassosieer met stadige lugbewe­ging (as “duimreël” minder as 5 km/h).

Onder toestande van vinniger wind­beweging, meng die luglae as gevolg van turbulensie en word die inversielaag opgebreek. Let wel: Kalm windtoestande beteken nie noodwendig dat ‘n inversietoestand bestaan nie; dit is egter wel ‘n vereiste daarvoor.

‘n Inversielaag suspendeer die fyner druppels fisies in die lug en saam met die hoër humiditeit tydens ʼn vroegoggend­bespuiting bly die druppels fisies as ‘n “spuitwolk” bymekaar, terwyl dit stadig oor ‘n paar kilometer kan wegdryf totdat windbeweging dit later oor ‘n sensitiewe gewas laat neerslaan.

Wees veral versigtig in areas waar daar heuwels en valleie is, aangesien dalende “vallei” terrein as ‘n dreineringstelsel dien waarlangs die koue lug afbeweeg en druppels daarmee oor lang afstande saamgeneem kan word.

‘n Volgende probleem met bespuiting onder lae windsnelhede is die feit dat die windrigting tydens lae windsnelhede neig om wisselvallig te wees, wat veroorsaak dat die rigting waarin ‘n spuitwolk sal beweeg, nie met sekerheid voorspel kan word nie.

Onder hoër windsnelhede (5 km/h tot 15 km/h), sal druppels wel verder gewaai word hoe vinniger die wind waai, maar sal dit moeilik verder as ‘n paar honderd meter waai alvorens dit verdamp of neerslaan (die turbulensie by hoër windsnelhede veroorsaak dat druppels gouer neerslaan grond toe).

Wees ook bewus daarvan dat verdamping van water binne ‘n besproeiingsland ‘n laer temperatuur op grondvlak skep wat ‘n inversietoestand kan induseer.

In alle gevalle (lug- of grondtoediening) moet 15 km/h as die mak­simum windsnelheid vir effektiewe toediening beskou word en moet bespuiting tydens ‘n inversietoestand liefs vermy word.

Grondtoediening
Soos reeds genoem, vind drywingskade ook plaas waar bespuitings met grond­gebaseerde toerusting gedoen word. Pro­dusente kan die volgende doen om die risiko van wegdrywing te beperk:

  • Gebruik doelontwerpte lae drywing spuitneuse wanneer onkruiddoders toegedien word – veral waar ‘n sensitiewe gewas direk naasliggend voorkom. Luginduksie (air induction) of turbo-tipe spuitneuse is uiters effektiewe produkte om wegdrywing te beperk (sien Oktober 2016 SA Graan/Grain artikel). Wees net bewus daarvan dat sodanige spuitneuse nie teen minder as 150 liter/ha spuitmengsel gebruik moet word nie – veral waar kontakmiddels soos broomoksiniel toegedien word.
  • Hoogte van die spuitbalk: Selfs in die geval van ‘n hoogloopspuit bly die aanbevole hoogte van die spuitbalk bo die top van die teikenarea sowat 50 cm tot 75 cm. Ongelyke balkhoogte waar die een punt hoog in die lug is, asook waar die balk heen en weer wip, bevorder die drywingpotensiaal van druppels.
  • Spuit teen die laagste moontlike druk. Moet nie hoë spuitvolumes deur hoë druk probeer verkry nie – dit lei net tot ‘n fyn dryfbare druppelspektrum. Gebruik eerder ‘n spuitneustipe met ‘n groter opening.
  •  Vermy bespuiting onder temperatuur­in­versietoestande – veral wanneer hoogs-aktiewe produkte soos glifosaat, sulfoniel-ureum of hormoon-tipe onkruiddoders toegedien word.

Lugtoediening
Vanweë die aard van lugtoediening – kleiner druppels en die hoër hoogte van loslating – bly lugtoediening van onkruiddoders egter die grootste kwelling wanneer weg­drywing ter sprake is. In hierdie geval is dit belangrik dat al die partye wat by lugtoediening betrokke is, saamwerk om wegdrywing te bestuur.

Met die nodige samewerking en toediening onder die regte omstandighede, is daar geen rede dat gewasskade as gevolg van wegdrywing hoef plaas te vind nie. Die partye betrokke by lugtoediening kan elk die volgende bydrae lewer:

Landbouchemiese verteenwoordiger

  • Vermy die aanbeveling van tenkmengsels wat produkte bevat wat die oppervlakspanning van die mengsel verlaag wat ‘n fyner druppelspektrum tot gevolg het. Dit sluit in benattingsmiddels (slegs indien op die etiket aanbeveel word en dan teen die laagste moontlike konsentrasie) en emulgeerbare konsentraatformulasies.
  • Byvoeging van ‘n geregistreerde neer­slagbeheermiddel word aanbeveel.
  • Moet nie tenkmengsels aanbeveel wat teenstrydige druppelsituasies ver­eis nie. Kontakswamdoders vereis ‘n baie fyner druppelspektrum as onkruiddoders. In enige geval waar daar ‘n onkruiddoder in die mengsel is, word die vlieënier aangeraai om groter onkruiddoderkategoriedruppels toe dien, met gevolg dat die ander produk(te) minder effektief sal werk.

Die produsent

  • Wees bewus van enige sensitiewe, nie-teikengewasse in die omgewing waar die bespuiting moet plaasvind (minstens 5 km rondom die teikenland) en lig die vlieënier dienooreenkomstig in.
  • Wees teenwoordig (jyself of jou voorman) en moniteer toestande. Let op die vlieggedrag van die operateur en dui aan wanneer toestande ongunstig raak. Dit is belangrik om te noem dat ‘n te lae vlieghoogte inderwaarheid drywing bevorder deurdat druppels as gevolg van die samepersing van lug naby aan grondvlak, in die vlerkpunt-vortekse geforseer word, met gepaardgaande opneem van druppels na hoër hoogte bokant die vliegtuig.
  • Hoewel sommige operateurs vliegtuie gebruik wat met ‘n rokerstelsel toegerus is, sal dit baie help om ‘n rokende smeulvuur by die land te maak, wat deurlopend aandui wat die heersende windtoestand is (Foto 2a en Foto 2b). Dit is baie belangrik om nie ‘n warm vlammevuur (veral nie brand van buitebande nie) te maak nie aangesien die stygende warm lugkolom ‘n vals aanduiding van ‘n inversielaag kan gee.
  • Moet nie produkte by die tenkmengsel voeg wat ‘n fyner druppelspektrum tot gevolg kan hê nie.
  • Wees bereid om te wag dat toestande optimaal is vir lugtoediening. Nie net word wegdrywing beperk nie, maar dit het beslis ook beter resultate op die teikenland tot gevolg.

Lugbespuitingsoperateur

  • Beskou wegdrywing in alle gevalle as die grootste risiko en stel die spuitstelsel in om doderkategoriedruppelspektrum te produseer indien daar ‘n onkruiddoder in die mengsel is, ongeag die ander mengsel komponente.
  • Inspekteer rondom die area wat bespuit moet word en wees bewus van enige bewese of verdagte sensitiewe nie-teiken areas. Vra die kliënt uit oor enige moontlike probleemareas.
  • Gebruik doelontwerpte lae-drywing spuitneuse. Platwaaierspuitpunte moet nie ‘n 45° spuithoek oorskry nie. Rote­rende atomiseerders en verlaagde volumetoedienings word nie aanbeveel nie, as gevolg van die vereiste vir ‘n fyner druppelspektrum.
  • Moet nie te hoog of te laag vlieg nie, asook te vroeg of te laat die spuitklep oop- of toemaak nie.
  • Vermy onnodige hoë snelhede – veral met turbine-skroefvliegtuie. Vlieg teen die laagste moontlikste, dog veilige, spoed.
  • Spuit net wanneer klimaatstoestande optimaal is en vermy veral toediening terwyl ‘n temperatuurinversie heers. Dui vir die kliënt aan indien toestande die risiko van wegdrywing bevoordeel.

Geneties gemodifiseerde gewasse wat bestand is teen hormoonaksie-onkruiddoders soos dikamba, lê op die drumpel en wag vir Suid-Afrikaanse produsente. Saam die huidige toename in die gebruik van glifosaat, asook die toename in aanplanting van breëblaargewasse soos sojabone en kanola, gaan daar al hoe meer eise aan effektiewe voorkoming van wegdrywing gestel word.

Hoewel daar tegnologie soos lae drywing-spuitkoppe reeds beskikbaar is, sal die grootste vereiste vir effektiewe drywings­bestuur egter altyd die regte ingesteldheid van al die partye betrokke bly, hetsy vir grond- of lugbespuiting.

Publication: September 2017

Section: Focus on