November 2016

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Die afgelope jaar is gekenmerk deur groot inset maatskappye wat saamsmelt of wat ander maatskappye wil uitkoop. Dit kan ‘n hoë konsentrasie van insetmaatskappye tot gevolg hê. Konsentrasie in ‘n bedryf word ‘n probleem as markkragte die effektiewe werking daarvan negatief beïnvloed.

Daar is tans ses maatskappye wat die internasionale biotegnologie (saad en chemie)-sektor domineer: Bayer, Monsanto, Dow, DuPont, Syngenta en BASF.

Volgens die ETC-groep beheer dié maatskappye tans saam 75% van die wêreld se landbouchemiese markte, 63% van die kommersiële saadmark en doen hulle 75% van alle landbounavorsing in die privaatsektor – wat saad en landbouchemikalieë betref.

Sover het DuPont in 2016 ‘n samesmelting met Dow voorgestel, het Bayer Monsanto gekoop en is die Chinese chemiese maatskappy, ChemChina van voorneme om Syngenta te koop. Ander moontlike konsolidasies is Sandana en Adama (chemie), Potash Corp en Agruim (kunsmis) en John Deere en Precision Planting (landboumasjinerie).

Hierdie samesmeltings of oornames gaan beslis verdere konsentrasie in ‘n reeds-gekonsentreerde insetmark tot gevolg hê. Vrae soos wanneer die konsentrasie te hoog is en wanneer kompetisie negatief beïnvloed word, moet beantwoord word. In hierdie artikel word van die voor- en nadele wat hieroor aangevoer word, ontleed.

Voordele

Voordele van konsolidasie wat deur van die maatskappye aangevoer word:

  • Daar is groter innovasie deur die samevoeging van verskillende kundigheidsgebiede. Verskeie van hierdie maatskappye het sekere sterk punte.
  • Groter gesamentlike besteding aan navorsing en ontwikkeling. Volgens hierdie maatskappye kan groter en meer gediversifiseerde maatskappye navorsingsbehoeftes noemens waardig beter aanspreek.

Nadele

Nadele wat deur verskeie produsentegroepe geïdentifiseer is:

  • ‘n Tekort aan kompetisie kan innovasie juis kniehalter. Uit die verlede is geleer dat groter konsentrasie nie noodwendig lei tot groter spandering aan navorsing en ontwikkeling nie.
  • Hoe minder rolspelers daar is, hoe swakker is kompetisie – wat gewoonlik nadelig is vir pryse.
  • Pryse van tegnologie neem vinniger toe as die waarde in die bydrae tot opbrengs.
  • Groter konsolidasie van maatskappye bring mee dat net ‘n paar maatskappye aan probleemoplossing werk teenoor ‘n groter aantal in die verlede. Daar word aangevoer dat sou verskillende entiteite aan probleme werk, daar groter kanse van ‘n oplossing is.
  • Konsolidasie bemoeilik toegang tot die insetbedryf vir nuwe toetreders.
  • Minder mededinging kan veroorsaak dat ekonomie van skaal te belangrik raak. Dit sal in gevalle dan nie noodwendig vir maatskappye die moeite werd wees om vir die Suid-Afrikaanse mark produkte te ontwikkel nie.
  • Die konsentrasie van insetverskaffers kan werksgeleenthede oor tyd verminder.
  • Sonder goeie kompetisie neem doeltreffendheid af – wat produkte duurder maak vir die verbruiker.

As die Goliats van insetmaatskappye mekaar oorneem...Wat kan die Bayer-Monsanto oorname vir Suid-Afrika se insetomgewing beteken?

  • Monsanto: In Suid-Afrika is Monsanto ‘n groot en dominante rolspeler in die mieliesaadmark. Hulle is ook basies die enigste rolspeler wat GMO-tegnologie in mielies en sojabone aanbied. Monsanto is ook ‘n sterk rolspeler in die onkruiddodermark – veral met Roundup.
  • Bayer: In Suid-Afrika is Bayer ‘n groot rolspeler in die landbouchemikalieëmark. Hulle begin nou eers die saadmark betree.

In Suid-Afrika behoort die oorname nie wat kompetisie in die saadbedryf betref, negatief te wees nie. Let wel: By mielies en GMO-tegnologie is Monsanto alreeds dominant – met moontlik ‘n groter as 60% markaandeel in die mieliesaadmark.

Wat die landbouchemiese mark betref, kan die oorname wel ‘n verandering in markstruktuur teweegbring, wat kompetisie negatief kan beïnvloed. Die raming is dat hierdie twee maatskappye saam meer as 30% van die markaandeel in die landbouchemiese mark kan besit.

Publication: November 2016

Section: On farm level