Beperk plaagdoderdrywing en wen goeie buurmanskap

21
Dr Gerhard Verdoorn,
bedryf- en rentmees­terskapsbestuurder,
CropLife Suid-Afrika

Die wêreld se bevolking eet lustig aan die voedsel wat met baie moeite en teen hoë koste deur voedselprodusente geproduseer word. Dit is noodwendig dat plaagbeheer toegepas moet word om gewasse teen peste, plae, plantsiektes en onkruide te beskerm en in die meeste gevalle is daar ’n risiko hieraan verbonde.

Een van die groot risiko’s is dat plaagdodernewels na naburige plase, woonbuurte en ekologies-sensitiewe areas dryf waar dit skade kan veroorsaak. Daar is gedurig dispute oor sulke insidente waar byvoorbeeld heuningbye in die slag bly, sensitiewe gewasse glifosaatskade opdoen, inwoners aangetas word of natuurlike plantegroei skade ly. Ondersoeke na hierdie insidente dui gewoonlik daarop dat veiligheidsmaatreëls nie nagekom is nie.

Hoe plaagdoderdrywing ontstaan
Die meeste mense glo dat drywing windgedrewe is, maar daar is ander weersomstandighede wat ook tot drywing aanleiding gee. Wind is beslis ’n belangrike katalisator vir plaagdoderdrywing, omdat dit die fyn druppels van teiken kan afwaai na ander plekke waar die plaagdoder nie behoort te kom nie.

Iets wat ernstige drywing kan veroorsaak, is temperatuurinversie – dit is waar ’n warm luglaag bo-oor ’n koue luglaag op die aarde lê en hoogs stabiele lugtoestande veroorsaak met geen lugbeweging nie. Wanneer plaagdoders onder inversietoestande gespuit word, hang fyn druppels in die lug en bereik dit nie die teikenarea nie, omdat daar geen lugbeweging is nie. Die fyn druppels dryf dan baie ver van die teikenarea af weg en kan tot soveel as 20 km verder gedeponeer word.

In beide die geval van wind en temperatuurinversie speel druppelgrootte ’n uiters belangrike rol. Hoe fyner die druppel, hoe groter die geneigdheid tot drywing. ’n Groter druppel deponeer meer geredelik op die teiken as fyner druppels.

Temperatuur is ook ’n belangrike faktor. Hoë temperature bo 30°C beteken dat verdamping die suksesvolle deponering van die spuitdruppel kan benadeel. Die druppel se volume (grootte) verminder deur verdamping, wat outomaties ’n probleem met deponering skep. Baie droë toestande saam met hoë temperature is nog erger, omdat die verdamping eweneens verhaas word.

Tegnologie speel verder ’n deurslaggewende rol in drywing. Sommige toerusting soos newelblasers maak as ’n reël ’n fyn missproei, wat onder ongunstige klimaatstoestande erge drywing tot gevolg kan hê. Daar teenoor kan ou toerusting net so problematies wees wanneer spuitstukke uitgeslyt raak, drukmeters onklaar raak of toerusting bloot ondiensbaar word.

Graan SA/Sasol fotokompetisie

Nadele en gevolge van drywing
Drywing hou verskeie nadele vir die produsent self in, terwyl daar ook nagevolge vir die omgewing en gemeenskap in die omtrek van die plaas kan wees.

Eerstens is daar ’n sterk moontlikheid dat die plaagdoder nie na wense sal presteer nie, aangesien die persentasie van die spuitstof wat die teiken bereik, laer is as die aanbevole dosis van die aktiewe bestanddeel per hektaar. Dit beteken noodwendig dat geld gemors word, aangesien die plaagdoder (waarvoor ten duurste betaal is) nou op ’n ander plek is waar dit geen doel dien nie.

’n Sekondêre gevolg is dat die gewas onder sy optimale opbrengs gaan presteer omdat die pes, plaag, siekte of onkruid nie volkome beheer is nie. Dan is daar die aanspreeklikheid van die produsent wat in werking tree as die plaagdoder naburige plase se gewasse beskadig, woongebiede besoedel of selfs mense benadeel. Dink byvoorbeeld aan die grootskaalse uitwissing van vis wanneer piretroïedplaagdoders oor natuurlike water dryf en daarin afsak. Visse is uiters sensitief vir piretroïede en sal op groot skaal vrek van die geringste besoedeling van water met hierdie nuttige insekdoders.

Bekamp drywing met oordeelkundige besluite en aanwending
Produsente kan drywing baie maklik bekamp deur ’n paar sinvolle maatreëls in te stel:

  • Eerstens is die goue reël van verantwoordelike plaagdodergebruik om die etiketaanwysings streng na te volg en nie daarvan af te wyk nie. Meer as 95% van gevalle waar plaagdoders ’n onaanvaarbaar negatiewe impak het, ontstaan deur die afwyking van etiketvoorskrifte.
  • Tweedens moet alle spuittoerusting ordentlik gediens word. Veral spuitstukke (nozzles) wat met tyd uitgeslyt raak en dan probleme met die spuitwerk veroorsaak, moet nagegaan en vervang word as hulle nie meer diensbaar is nie. Geelkoperspuitstukke het slegs ’n beperkte leeftyd, terwyl die nuwerwetse keramiekspuitstukke ’n baie langer lewensduur het. Spuitstukke wat deels geblokkeer is, sal heel waarskynlik ’n baie fyn sproei in plaas van die korrekte druppelgrootte lewer, wat direk tot drywing sal bydra.
  • Derdens moet alle spuittoerusting gereeld gekalibreer word om die korrekte dosis toe te dien. Tydens kalibrasie kan spuitstukke wat uitgeslyt is maklik geïdentifiseer word.
  • Vierdens moet die spuitwerk teen die korrekte druk uitgevoer word. Dit is natuurlik afhanklik van trekkerspoed en enjinomwentelings – of in die geval van vliegtuie, direk van druk. Te hoë druk gee aanleiding tot verfyning van die druppelgrootte wat drywing bevorder. Voeg hierby die keuse van druppelgrootte en maak seker spuitstukke lewer die aanbevole druppelgrootte om effektiewe deponering op die teiken te verseker.
  • Vyfdens is die keuse van geskikte weersomstandighede van uiterste belang. Hier is die produsent aangewese op sy eie weerstasie, weervoorspellings en selfs toepassings op slimfone. By lae temperature sonder enige wind is daar ’n sterk moontlikheid vir temperatuurinversie wat gevaarlike drywing kataliseer. Wag dus totdat die omgewingstemperatuur gestyg het ten einde lugbeweging te veroorsaak wat temperatuurinversie sal kanselleer. Moet ook nie op die warmste deel van die dag spuit wanneer verdamping op sy hoogste vlak is nie. As die wind waai, is dit tyd om bekommerd te raak; wind van meer as 15 km/uur is ’n waarborg vir drywing, terwyl glifosaat nie gespuit mag word in windsnelhede van meer as 10 km/uur nie. ’n Ligte wind tussen 5 km/uur en 10 km/uur gee gewoonlik die ideale omstandighede om te spuit, omdat die wind help met die deponering van die spuitdruppels.
  • Maak van bymiddels gebruik wat drywing teenwerk deur die druppels vinniger na die teiken te laat afdaal. Soek gerus op www.agri-intel.com na geskikte middels wat die oppervlakte­spanning van die spuitmengsels manipuleer om deponering te verbeter.

Effektiewe kommunikasie
Sommige plaagdoders het ’n inherent onwelriekende reuk en die oomblik wanneer mense dit ruik, is die gort gaar – alhoewel daar in die meeste gevalle geen drywing plaasgevind het nie. Organofosfaatinsekdoders en onkruiddoders soos 2,5-D ruik baie sterk en die mens se reuksintuig neem dit waar teen so min as nege dele per biljoen. Teen sulke konsentrasies is daar geen risiko nie, maar dit skep steeds vrees by mense.

Om konflik te voorkom, is dit sinvol om bure te laat weet dat ’n bepaalde plaagdoder toegedien gaan word wat moontlik ’n reuk kan veroorsaak en moontlik selfs effens kan dryf. Versoek mense wat sensitief is om verkieslik die gebied te verlaat wanneer sulke middels gespuit word sodat hulle nie deur die plaagdoder verontrief word nie. ’n Dag voor die tyd is gewoonlik voldoende om die publiek in te lig dat spuitaksies uitgevoer gaan word.

Let wel dat dit wetlik vereis word dat mense ten volle ingelig word wanneer lugbespuiting gaan plaasvind. Die standaard vir lugbespuiting vereis dit, maar dit skep ongelukkig die wanindruk dat drywing slegs plaasvind wanneer lugbespuiting toegepas word. Dit is beslis nie die geval nie. Gewone bespuiting met grondtoerusting kan net sulke erge drywing tot gevolg hê as die reëls nie nagekom word nie.

Grain SA/Sasol fotokompetisie
– Amoret Smal 2017

’n Fisiese buffer teen spuitneweldrywing
CropLife SA ontvang gereeld klagtes oor konflik tussen bure waar een persoon spuit en die ander benadeel word. Dit gebeur veral waar gewasboerdery en dorpsontwikkeling vanweë swak beplanning nader aan mekaar kruip en op die ou end reg langs mekaar eindig. In sulke omstandighede gaan daaglikse konflik tussen produsent en bure die norm wees. ’n Redelik eenvoudige oplossing is om ’n skerm van 80%-skadunet 10 m hoog tussen die plaas en die bure op te rig. Dit gaan noodwendig geld kos, maar dit skakel drywing van plaagdodernewel na die bure heeltemal uit en los die meeste konfliksituasies daar en dan op.

Vir meer inligting, kontak dr Gerhard Verdoorn by 082 446 8946 of gerhard@croplife.co.za.