Saadpryse: beskou saadinsetkoste as ’n belegging

Gepubliseer: 6 Junie 2022

1741

Petru Fourie, landbou-ekonoom en navorsingskoördineerder, Graan SA, petru@grainsa.co.za
Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Deurlopende insetprysmonitering is een van die belangrike take wat Graan SA namens sy lede verrig. Die monitering van saadpryse – nie net jaarliks nie, maar oor tyd – is een van hierdie funksies. Graan SA poog om saadpryse so deursigtig as moontlik te maak en kompetisie in die saadbedryf te bevorder om te verseker dat sy lede kompeterende pryse betaal.

In Suid-Afrika word daar tans intensief gefokus op kunsmis- en energiepryse (veral brandstofpryse) weens die groot effek wat hierdie twee faktore op insetkoste het. Die brandstofprys is verantwoordelik vir naastenby 10% van totale insetkoste. Afhangende van die plantestand, kan saad as produksie-inset egter tussen 10% en 17% van ’n mielieprodusent se lopende produksiekosterekening uitmaak. Daar word gewoonlik min op hierdie insetkoste gefokus, alhoewel dit in party gedeeltes van die land ’n groter effek as brandstofpryse het!

Saadinsetkoste kan in ’n mate as ’n belegging beskou word. Saad met beter genetika wat vir spesifieke toestande geteel is, is duurder as gewone kultivars, maar hierdie gespesialiseerde saad gaan heel moontlik lei tot ’n beter opbrengs, hoër weerstandigheid teen siektes hê en boonop beter bestand wees teen uiterste weersomstandighede. Alles in ag genome behoort spesialiskultivars dus die winsgewendheid van die produsent te verbeter.

Kultivars verskil van mekaar ten opsigte van verskeie eienskappe en elkeen het dus ’n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word. Die volgende is belangrike riglyne wat by kultivarbeplanning oorweeg moet word:

  • Moet nooit ’n staatmakerkultivar binne een seisoen met ’n nuwe of onbekende kultivar vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ’n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ’n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër- en laerpotensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Saadpryse
Mieliesaadpryse het vir die 2022/2023-produksieseisoen gemiddeld met 3,3% gestyg. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 2,5% gestyg; graansorghumsaadpryse met 4,9% en sojaboonsaadpryse het met 4,7% gestyg. ’n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produsenteprysindeks (PPI). Vir 2022 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 10,8%, maar in vergelyking met Maart 2021 het die PPI jaar op jaar met 11,9% gestyg. Op ’n gemiddelde basis het saadpryse dus teen ’n laer tempo as produksiekoste-inflasie gestyg.

Sien meegaande tabelle vir prysvergelykings in rand tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgrootte en saadbehandeling. (DP/sak = duisend pitte per sak)

Riglyne met die aankoop van saad
Met die aankoop van saad is daar ’n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, byvoorbeeld 18 kg-, 20 kg- of 25 kg-sakkies of pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings met 150 000 en 180 000 pitte per sakkie en by sojabone 140 000 pitte per sakkie.
  • Nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ’n nuwe kultivar loop nie!
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe asook siekte- en plaagweerstand van ’n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word.
  • Maak seker tydens aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes voldoen (ook dit wat op die sakkie staan), veral ten opsigte van eenvormige pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeenkultivars) aangekoop word, moet seker gemaak word dat die tegnologiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Almal wat die saad hanteer, moet GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en dit van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ’n verskil aan die prys maak.
  • Beding waar moontlik vir korting. Verskeie maatskappye het kor­tingstrukture vir volume-aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad
Saadmaatskappye waarborg nie die kwaliteit van saad indien die saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ’n geregistreerde chemiese verskaffer, wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. In die geval waar ’n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die ontkieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet Nr. 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie reeds behandelde saad aankoop nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken waarin ’n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: ’n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie óf ’n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ’n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie en dat ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting gedek word. Dit mag ook nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en dit moet binne sewe dae van mekaar geplant word.