Dié boeredae ’n vertoonvenster vir bewaringslandbou

Gepubliseer: 3 Junie 2021

34
Dr Hendrik Smith,
bewaringslandbou­fasiliteerder, ASSET Research/Mielietrust

Die Bewaringslandbouboere-innove­ringsprogram (BL BIP), wat deur ASSET Research geïmplementeer en deur die Mielietrust befonds word, het in die 2020/2021-seisoen ’n paar nuwe en be­langrike projekte aangepak.

Twee nuwe studiegebiede onder kommersiële graanprodusente lê in die Hoëveld van Mpumalanga en in die Maluti-streek van die Oos-Vrystaat. Laas­genoemde sluit dorpe soos Clocolan, Ladybrand, Ficksburg, Marquard en Fouriesburg in. Soos met al die BL BIP-projekte, word daar in elke studiegebied nou saam met aktiewe bewaringsprodusente gewerk om ’n sterk groep, netwerk of platform te skep waarin verskeie projekaktiwiteite gemaklik geloods kan word.

Die belangrikste van hierdie aktiwiteite is die vestiging van bewaringslandbouproewe op plase, wat in die eerste seisoen (2020/2021) suksesvol by verskeie vrywillige produsentemedewerkers gedoen is. Hierdie volledig statistiese of sogenaamde “moederproewe” word saam met ASSET Research se span wetenskaplikes geïmplementeer. ’n Tweede belangrike aksie is boeredae of konferensies wat ’n groter bewusma­king onder produsente ten doel het. Onder streng toepassing van COVID-19-regulasies is twee suksesvolle boeredae die afgelope maand in hierdie nuwe stu­diegebiede gehou asook by die bestaande Ottosdal-projek in die Noordwesprovinsie.

Ottosdal-boeredag, Noordwes, 18 Maart 2021
Die Ottosdal-boeredag is op die plaas Humanskraal van George Steyn gehou waar verskeie proewe al sedert 2013 uitgevoer is. Meer as 80 moederproewe is tot en met 2021 in die Ottosdal-projek geïmplementeer. Ongeveer 100 produsente het die oggend by die plaaslike gholfklub bymekaargekom en direk daarna na die Humanskraal-proefperseel beweeg.

Deelnemers het drie veldpunte voor middagete besoek, waar die volgende temas bespreek is: i) grondgesondheid en dekgewasse, aangebied deur dr Gerhard du Preez van die Noordwes-Universiteit (NWU) en Gerrie Trytsman (ASSET Research-spanlid); ii) onkruidbestuur en agronomie, aangebied deur prof Charlie Reinhard (NWU) en dr André Nel (ASSET Research-spanlid) en iii) grondvoedingsdoeltreffendheid en grondprofielevalue­ring (deur dr Stephano Haarhoff van Yarra en Adriaan Dreyer van SGS). Na middagete is nog twee veldpunte besoek, waar ’n boere­gesprek en ’n bespreking rond­om die mie­liekultivars wat daar geëvalueer is, plaasgevind het.

Marquard-boeredag, Maluti-streek, 27 April 2021
Die Marquard-boeredag is gehou­ op die plaas van die Yzel-boer­dery, waar een van die moeder-proewe in die Maluti-projek geïmplementeer word. Ongeveer 100 produsente het die oggend direk by die proefperseel bymekaargekom en tussen die veldpunte opgedeel en geroteer. Daarna was daar ’n demonstrasie van verskeie bewaringslandbou-implemente. Die drie veldpunte het die volgende temas hanteer: i) Dekgewasse en hulle rol in graanverbouing (aangebied deur Gerrie Trytsman en Pieter Taljaard van Agricol) (Foto 1); ii) die moederproefbehandelings en grondprofiele (Nant Yzel, dr Jaap Knot (ASSET Research-spanlid) en Simon Hodgson van AGT) (Foto 2) en iii) ’n boeregesprek, gelei deur twee pionierbewaringsprodusen­te in die Maluti-streek, Hans van Rooyen (Clocolan) en Henry du Preez (Ficksburg) en ondersteun deur OVK. Henry het al in 1993 met bewaringslandbou begin en beide produsente kon belangrike lesse in hul lang reis hiermee met die deelnemers deel.

Foto 1
Foto 2: Veldpunte is volgens temas hanteer by die Marquard-boeredag.

Standerton-boeredag, Mpumalanga-Hoëveld, 14 Mei 2021
Die Standerton-boeredag het plaasgevind op die plaas Welgevonden van die H2 Agri Besighede, waar Hendrik Odendaal onderneem het om ’n moederproef te implementeer asook die boeredag te huisves. Ongeveer 100 mense het die dag bygewoon. Die program is begin met voorleggings deur twee bewaringslandbouprodusente, Izak Dreyer van Vrede en Hannes Botha van Carolina. Daarna het dr Gerhard du Preez (NWU) ’n voorlegging gelewer, getiteld “Boer in vennootskap met die natuur” en dr Hendrik Smith (skrywer van hierdie artikel) het ’n oorsig gelewer oor bewaringslandbou in die Mpumalanga-Hoëveld.

Laasgenoemde het gewys dat die aanvaarding van bewa­ringslandbou in die streek redelik goed is (24% in totaal) en dat daar in sekere magistraatsdistrikte ’n besonder hoë aanvaar­ding is, soos Piet Retief (91%), Hoëveldrif (79%), Lydenburg (76%) en Belfast (50%). Die aanvaarding is hoofsaaklik beïnvloed deur pionierbewaringsprodusente, inligting op die Internet (veral YouTube) en bewaringslandbou-implementverskaffers. Die middag was daar ’n toer op die plaas waar verskeie veldpunte besoek en onderwerpe bespreek is (Foto 3).

Foto 3: Deelnemers bekyk ’n profielgat by die Standerton-boeredag op Welgevonden.

Izak het ’n kort oorsig gegee oor sy tien jaar met bewa­ringslandbou en vier jaar se deelname aan ’n BL BIP-projek in sy omgewing. Vir hom het twee belangrike beginsels na vore gekom: fotosintese en diversiteit (teenoor kaal, geploegde grond). Hy werk tans op ’n vierjaarstelsel wat begin met twee jaar van mielies (plus winterdekgewas), gevolg deur sojabone (plus winterdekgewas) en dan gevolg deur ’n seisoen met somer- en winterdekgewasse. Al die dekgewasse is mengsels en word deur ultrahoëdrukbeweiding benut.

Hannes is al vir drie jaar voluit besig met die “herlewing” van sy plaas na sy omskakeling vanaf konvensionele bewerkingspraktyke. Hy het die volgende redes aangevoer vir sy verandering:

  1. Meer en meer word spandeer vir dieselfde of minder wins.
  2. Die besef dat hoër opbrengste nie beter winste beteken nie.
  3. Implementering van presisieregstellings teen astronomiese koste, sonder noemenswaardige resultate.
  4. Verlies van 60% van saaigrond.
  5. Navorsing oor hoe om vee te integreer om saaiery meer winsgewend te maak.
  6. Selfnavorsing het ’n nuwe wêreld oopgemaak! Produsente moet die vrae op hul eie plase uitwerk.
  7. Alan Savory, Elaine Ingham, Christine Jones en Gabe Brown het ’n groot indruk op hom gemaak.

Tans gebruik Hannes geenbewerking en ’n diverse wisselbou met sy kontantgewasse, wat dekgewasse, tussengewasverbouing (intercropping) en vee-integrasie insluit. Hy gebruik geen sintetiese kunsmis nie (hoofsaaklik komposprodukte), sy mielie-insetkoste is R2 900/ha en sy mielie-opbrengs is 7,5 ton/ha.