Koring se pad vorentoe lyk blink

2447
Ruan Schutte,
junior landbou-ekonoom en bemarker, Graan SA

Drie van die groot kragte wat koringproduksie beïnvloed, speel op die oomblik mooi saam om die vooruitskatting vir die bedryf rooskleurig te laat vertoon. Die kombinasie van die natuur, die graanekonomie en die koringomdraaistrategie lei tans tot positiwiteit en vroeë optimisme rakende die koringbedryf in Suid-Afrika.

Natuur
Die natuur speel ’n deurslaggewende rol in die landboubedryf. Dit het die grootste impak op oeste en is die veranderlike waaroor die produsent die minste beheer het.

Vanjaar lyk dit asof die natuur wil saamspeel en ’n gulde geleentheid vir produsente bied om hulle koringaanplantingshektare te verhoog – veral in die Vrystaat. Volgens die oesskattingskomitee se jongste syfers het die Vrystaat vanjaar 25 000 ha meer koring as verlede jaar geplant as gevolg van die laat reën en die gunstige omstandighede vir koringproduksie in dié gebied. Met die wisselboupraktyk wat in die Wes-Kaap gevolg word, het die aangeplante hektare daar egter baie dieselfde gebly in vergelyking met vorige jare.

Graanekonomie
Die stand van die ekonomie speel eweneens ’n belangrike rol in die graanbedryf. Indien die ekonomie met betrekking tot graanverbouing nie gunstig is nie, kan produsente nie winsgewend produseer nie. Landbou in al sy vorme bly ’n besigheid en daarom moet besigheidsbesluite geneem word – “Yield is the name of the game.”

Met die natter begin tot die seisoen lyk dit op hierdie stadium of die potensiële opbrengste ’n positiewe seisoen voorspel. Dit beïnvloed die verwagting en skep ’n gunstige sentiment vir die koringekonomie.

Die onstabiele buitelandse produksie as gevolg van hittegolwe in Europa en ongunstige weersomstandighede in die VSA asook die politieke onsekerheid en verswakkende ekonomiese toestande in Suid-Afrika het alles ’n positiewe uitwerking op die Safex-prys van koring gehad. Die koringprys verhandel gedurende die week van 16 Augustus teen ’n driejaarhoogtepunt, wat positief lyk vir koringproduksie se winsgewendheid – selfs teen slegs gemiddelde opbrengste.

Omdraaistrategie
Graan SA is saam met die res van die bedryf hard aan die werk om ’n omdraaistrategie te skep vir die koringbedryf. Daar word al vir ’n geruime tyd beplan hieraan en baie navorsing is gedoen rakende die strategie. Die doelwit van die beplanning en strategie is om koring in die toekoms so winsgewend as moontlik te produseer. Die fokus van die omdraaistrategie lê op verhoogde opbrengste, ’n nuwe graderingstelsel, opberging, navorsing, tariewe en kwotas asook ander aspekte wat die navorsing na vore sal bring.

Om opbrengste te verbeter, word daar saam met die saadtelers gekyk om nuwe kultivars met hoër opbrengspotensiaal te ontwikkel, terwyl dieselfde kwaliteit wat tans geproduseer word, gehandhaaf word. Met die nuwe graderingstelsel wat ingestel is, word daar probeer om beter pryse vir koring te verkry. Dit is dus in die beste belang van produsente om te let op die kwaliteit van die koring wat hulle produseer.

Aan die opbergingskant van die omdraaistrategie word gekyk na prysverskille tussen die grade wat verander het tesame met die nuwe graderingsvereistes. Gewaarborgde graadkontrakte met koringaankopers is ook ’n saak wat aandag kry.

Weens die onsekerheid van invoere en hoe dit produsente affekteer, word daar ook gewerk aan ’n beleid wat bepaal dat in- en uitvoere van graan agt weke voordat dit plaasvind aan die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) gerapporteer moet word. Dit sal onsekerheid in die mark minimaliseer en deursigtigheid help skep.

Aan die navorsingskant het Graan SA ’n nuwe vennootskap met die Departement van Wetenskap en Innovasie aangegaan wat op lang termyn baie van die navorsingsprojekte sal befonds en so sal bydra tot die bevordering van die bedryf. Graan SA is ook besig om voelers uit te steek na internasionale vennote wat kan help met die proses om volhoubaarheid te stimuleer.

Ten opsigte van tariewe word daar op die oomblik van Graan SA se kant af baie druk geplaas sodat nuwe tariewe vinniger in die Staatskoerant afgekondig word. Kwotas belemmer plaaslike produsente, maar die 248 000 ton wat Suid-Afrika reeds tariefvry binnegekom het, kan ongelukkig nie weggeneem word nie. Daar word egter ’n groot poging aangewend om te verhoed dat koring tariefvry ingevoer word.

Die South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) wat die teling-en-tegnologie-heffing administreer, is daargestel sodat beter befondsing vir teling en ontwikkeling van nuwe kultivars deur die saadmaatskappye en tegnologieprojekte verkry kan word. Die liggingsdifferensiaal vorm ook deel van die omdraaistrategie. Graan SA poog om die differensiaal so voordelig as moontlik te hou vir die bedryf, aangesien die verslag deur prof Matt Roberts aanbe­veel het dat die differensiaal nie moet wegval nie.

Samevatting
Met die verandering in die seisoen en die groter aanplantings in die Vrystaat, lyk dit soos ’n goeie seisoen vir die koringbedryf in Suid-Afrika. Die graanekonomie is positief en die omdraaistrategie skep nuwe hoop vir produsente met die veranderinge wat in die vooruitsig gestel word vir die bedryf. Volhoubaarheid bly die mikpunt! Die pad vorentoe lyk op die oomblik definitief blinker as ’n paar jaar gelede.