Kan herlewingslandbou in die Wes-Kaap werk?

65
Jan Greyling,
SA Graan/Grain
medewerker

Kontantgewasprodusente sal oor die volgende 13 jaar die wetenskaplike lewensvatbaarheid van herlewingslandbou kan peil. Daar is reeds in April vanjaar begin met perseelvoorbereiding vir ’n nuwe navorsingsprojek van die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

Oor dié tydperk sal alle moontlike inligting versamel word om teen 2032 ’n omvattende databasis te lewer aan alle kommersiële en opkomende produsente wat koste deur verbeterde biodiversiteit wil verlaag.

1. ’n Voorbeeld van ’n dekgewasland.

Die doel is om die produsent se insetkoste te verminder om boerdery meer volhoubaar winsgewend te maak. “Ons wil ook ons grond gesond kry. Op dié manier kan ons moontlik ’n verskil maak aan die impak van klimaatsverandering.”

Aan die woord is me Lisa Smorenburg, navorsingstegnikus by die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Sy is nou, ná ’n herlewingslandboustudietoer in 2018 na die Midde-Weste van die Verenigde State van Amerika (VSA), aan die stuur van sake om natuurboerdery vir kontantgewasse in die Wes-Kaap na behore te ontleed.

“Die uitdaging is om goeie oeste te maak met die minste moontlike chemiese middels – iets wat produsente in die VSA regkry. Ons fokus sal wees op die meting van die impak van volgehoue herlewingsboerdery op siektes, on­kruid, insekte, die ekonomie, bye as bestuiwers, hoëdrukbeweiding, dekgewasmengsels, biomassa, grond en kontantgewasverbouing. Ons gaan mikroskopiese foto’s neem van die grondbiologie van elke geplante kamp en dan monitor hoe die grondlewe aanpas en verbeter.”

Ligging
Die proefperseel is by die departement se Tygerhoek-navorsingsplaas buite Riviersonderend geleë op ’n ewekansige blokuitleg, met drie herhalings. Statistiese analisestelsel- (SAS-)sagteware word vir die statistiese ontledings gebruik. Die stelsel is tussen 1966 en 1976 deur die SAS Instituut aan die Universiteit van Noord-Carolina in die VSA ontwikkel vir gevorderde en multiveranderlike ontledings, besigheidsintelligensie, databestuur en voorspellingsmodelle.

Proefuitleg
Lisa sê: “Ons gebruik sewe kampe van sowat 0,8 ha elk. Een is ’n kontrolekamp wat jaarliks met ’n kontantgewas geplant word. Ons plant byvoorbeeld koring, kanola, gars, hawer en verskillende peulgewasse. In die somermaande word niks in die kontrolekamp geplant nie.”

Vroeër vanjaar is saia-hawer met ’n Equalizer-skyfplanter in die ses ander kampe geplant, teen 50 kg/ha met geen kunsmis nie. Dié kampe, wat voorheen vir klein proewe gebruik is, is eers met saia geplant om almal op ’n gelyke voet te kry en goeie onkruidonderdrukking te verseker.

2. ’n Voorbeeld van ’n dekgewasmengsel.

“Voordat enigiets geplant is, het ons grondmonsters geneem en volledig ontleed om die beginpunt van ons proef op rekord te kry. Chemiese en biologiese vertolkings is gedoen om verandering aan te meet,” volgens Lisa. Die ontledings behels onder meer totale stabiliteit, koolstof, aktiewe koolstof, C:N-verhouding, chemiese en fisiese ontledings, infiltrasietempo, mikrobes, nematodes, glomalien (as aanduider van mikorisa-ontwikkeling) en die persentasie grondbedekking na plant in die kontantgewasfases.

Werkswyse
Prakties is die ses kampe elk in die helfte gedeel (Figuur 1). Een helfte het Biochar gekry om te probeer om die grondkoolstof so vinnig as moontlik te bou. Dit sal dan vergelyk word met die ander helfte wat sonder byvoegings koolstof bou.

Figuur 1: ’n Skematiese voorstelling van die werking van die projek en die rotasie wat tussen die proefpersele plaasvind by die Wes-Kaapse Departement van Landbou se 13 jaar-navorsingsprogram oor herlewingslandbou.

“Ons bepaal die biomassa teen September 2019 wanneer die saia platgerol word. Dan plant ons ’n somerdekgewasmengsel in al ses die kampe. In Februarie 2020 rol ons die somerdekgewasse en bepaal weer die biomassa. Teen planttyd in April 2020 deel ons die ses kampe in twee groepe van drie waarvan een groep ’n winterdekgewas kry, met die ander groep wat ’n kontantgewasfase binnegaan. Die drie in die kontantfase word ook in drie bane verdeel. Daar word kanola, koring en gars gesaai wat dan vir die volgende drie jaar so gebruik word. Net die gewasse tussen die drie bane wissel.”

“In die kontantkampe strooi ons in die eerste drie jaar kunsmis, maar geen topbemesting nie. Buiten die kontrolekamp word geen ander kamp gespuit vir insekte, plantsiektes of swamme nie. ’n Bestuiwingsbaan word ook tussen die kampe aangebring,” sê Lisa.

Daar is enkel- en meerjarige gewasse in die bestuiwingsbane wat dwarsdeur die jaar blom. Die blomme lok insekte en byekaste word in elke baan geplaas.

“Ons gaan in die drie winterdekgewaskampe hoëdrukbeweiding toepas. Die skape daarin word daagliks geskuif. In die somer word al die kampe geplant met somerdekgewasmengsels om deurlopend lewende wortels in die grond te hou. Na drie jaar ruil ons weer die kampe. Die wat winterdekgewasse was, word kontantgewaskampe sonder kunsmis en die kontantgewaskampe kry winterdekgewasse,” aldus Lisa.

Hierdie siklus sal dan tydens die 13 jaar telkens herhaal word.

Grondmonsters
Daar sal vir 13 jaar lank twee keer per jaar verdere grondmonsters geneem word. Grondgesondheid, bakteriële en swamladings en voedselbeskikbaarheid word gemeet. Grondmonsters sal in beide die kontantgewas- en die dekgewaskampe geneem word.

Mikroskopiese foto’s, waardeur verandering met die verloop van die proeftydperk geboekstaaf sal word, sal die impak van herlewingslandbou op mikroskopiese grondlewe bevestig. Die bevindinge van die hele program word dan teen 2032 saamgevat in ’n nuttige databasis.

Gewasmonitering
Rakende gewasprestasie word die volgende inligting jaarliks ingewin: Planttellings, biomassa van gewasse, dekgewasproduksiedata asook opbrengs en opbrengsgehalte by kanola vir olie-inhoud, by koring vir proteïeninhoud, valgetal, duisendkernmassa asook hektolitermassa en by gars vir vetkorrelpersentasie en proteïeninhoud.

Meting by diere
Die groeitempo by diere wat in die kampe wei asook die vleisgehalte en vleisopbrengs per karkas sal gemeet word.

Heuningproduksie
Byeboere sal deur die hele projek heuningproduksie en verandering in opbrengs en gehalte meet.

3. Die produsent kry met herlewingslandbou beter opbrengste met ’n baie ou sojaboonkultivar (links) as met ’n nuwe GMO-kultivar (regs).
4. Watererosiemeting.
5. Grondbiologiemeting.

Lisa sê die ekonomiese aspekte van elke gewas en die stelsel sal jaarliks as ’n geheel ontleed word. “Wanneer die projek klaar is, sal ons ’n omvattende databasis beskikbaar stel aan belangstellende kommersiële en opkomende produsente. Baie rolspelers het reeds onderneem om waar moontlik hulle bevindings ook te deel.”

Sy noem dat produsente en die bedryf se insette en voorstelle deurentyd welkom sal wees. Die jaarlikse tegniese vergadering oor die proewe word egter spesifiek gehou om insette te kom deel. Belanghebbendes en belangstellendes sal deurentyd by die proefgrond stap-en-gesels-toeligting kan kry. Inligting oor bevindinge gaan met verloop van tyd in algemene landbou- en bewaringsartikels en in wetenskaplike publikasies verskyn.

Lisa kan gekontak word by lisas@elsenburg.com.