June 2015

image

image

Beste Grootneef

Langenhoven het baie spitsvondighede kwytgeraak. Een daarvan was “Een man met ‘n goeie plan, is ‘n meerderheid”. Só was dit ook die aand met die Jeugkommissie. Die debat was genadiglik nie oor Belhar nie, maar wat vanjaar se uitstappie vir die jeug sou behels. Buurman kom toe met die blink plan dat die plaaskinders dorp toe gevat moet word en dat Gold Reef City net dié plek is. Neef Piet wou nog weet of dit naby Stilfontein is, toe die bod toegeslaan en die voorstel eenparig aanvaar is. Geen punt van orde kon die voorstel daardie aand keer nie!

Nou ja, so is ons vort na Sodom en Gomorra in die skool se bus. Die Jeugkommissie voor langs die drywer ingepak en die matrieks op die agterbanke. Een belhamel het iets van “prakties in die beloofde land“ gemompel op pad die buspaadjie af.

Ou Neef, die moeilikheid het eintlik begin toe ‘n aangename jongman beleefd gevra het dat alle bewegende dele in die plastiekbakkie gepak moes word. In my geval was dit ‘n bril, valstande en ‘n pakkie x-tra strong, wat netjies in ontvangs geneem is.

‘n Tweede voorbode was toe ‘n ander jongman ons aan die sitplek kom vasknoop het met so opgestopte belt wat oor jou maag en skouers pas. Vir party van die lede van die kommissie, moes ‘n knip of twee verstel word, om borskas en hangkas in te sluit. Die laaste onheilsgeluid voordat ons die lug in is, was ‘n langsame geklik van ratte. Met die afkykslag kon ek twee sulke diep vore in die sementblad sien, soos die manne en manninne voor my, tevergeefs op daardie stadium, probeer briek trap het.

En toe vat die Anakonda ons tot verby Saturnus. Die kinders het vooraf belowe dat dit ‘n lekker pretrit sou wees en dat ons Jo’burg mooi uit die lug sou sien…Ek sê jou Neef, niks aan dié ding was beleefd nie. Maagspiere, kuite en blesse was in ‘n stryd van epiese proporsies, soos die ding ons die lug in geslinger het. Gat oor kop man! Nie een keer nie, maar aanhoudend en meedoënloos. Al van Jo’burg wat ek in ‘n laaste oomblik voor stilgebed sien verbyflits het, was die traffic jam op die N1. As die jongman ons nie so mooi vasgemaak het nie, het ons nou nog getrek – soos Rhodes die hinterland in.

Met die insleep van die Anakonda terug in die stasie, het al die ouderlinge en katkisante geskreeu – party vir nog, maar die meeste om af te klim. Een lid van die Jeugkommissie se kontaklense het geskuif – kompleet met dubbelvisie vir die res van die dag. ‘n Ander ou se heup het weer in die potjie ingeglip, al die operasiereëlings kon gekanselleer word. Soos wat die manne weer met hulle eie brille en pille versoen is, het ‘n gees van broederskap en eensgesindheid geheers soos ek nog nooit beleef het nie. Dit nou synde dat almal langslewend was! Daardie dag is in die anale opgeteken, as die dag wat kategeet en katkisant, skouer aan skouer, als wat voorgekom het, bloots gery het.

Met die uitloopslag terug skoolbus toe, wonder ek toe by myself, wié van die menigte dorpenaars om ons weet van die mallemeulerit van graanprodusente die afgelope seisoen. Van ‘n “hoog” met mooi reën tydens planttyd, tot die absolute “laag” van hittegolftoestande in die midsomer.

Ek dink toe aan die ou gediggie van Uys Krige oor die Visserman wat lees:
“Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
Ons wat net één ou misstappie moet gee
En hy kom tromp-op op ons afgestuur!
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.”

Ná ‘n woeste produksieseisoen wat met soveel belofte begin het en in sommige gebiede met ‘n verskroeide aarde geëindig het, kon die digter dalk ook ‘n ode aan die Vrystaters opgedra het. Iets soos:
“Ken jy die Vrystaatvlaktes, ken jy dit Meneer?
Met mielies en sonneblom, geil voor jou geleë,
Wat met ‘n enkele hittegloed en storm van stof en sand,
Alles voor jou weg kan vee!
Dan sê jy nog, Meneer, die meel is duur.”

Hopelik verstaan ons mense in die dorpe met verloop van tyd so ietsie van die “Anakonda“ wat elke seisoen gery moet word. Die verskil is, met boerdery gord niemand jou vas nie.

Groete op die Oosgrens en lekker stroop.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: June 2015

Section: Features