Balkspuite: Hoe maak mens ‘n SINVOLLE KEUSE tydens aankoop?

1021

September 2018

MARIUS RAS, groep-bemarkingsdirekteur, Rovic Leers

Tenkkapasiteit en spuitwydte is twee spesifikasies wat onlosmaaklik deel is van die potensiële vermoë van die spuit om, teen gegewe watervolumes per hektaar (tipes chemiese en weerstoestande) en gemiddelde haalbare spuitspoed (terrein en sofistikasie van balksuspensie bepaal dit), aan jou gestelde behoefte van hektare per dag gespuit, te voldoen.

Die vereiste hektare per dag word weer bepaal deur jou eie spesifieke omstandighede – as jy ‘n weidingsprodusent is, is daar waarskynlik minder druk op jou om in ‘n gegewe tydvenster jou plaas te bespuit as wat dit die geval is by ‘n graanprodusent. Indien jy ‘n groenteprodusent is, is hierdie tydvenster nog kleiner en meer kritiek. Dit is dus eerstens jou verantwoordelikheid om saam met jou chemiese verteenwoordiger te bepaal watter toedienings krities is en watter tyd daarvoor beskikbaar is.

Voorbeeld
Jy het 500 ha wat binne vyf dae bespuit moet word. Die bespuiting word teen 150 l/ha gedoen en die omdraaityd vir hervul is 30 minute. Om aan dié doelwit te voldoen, sal jy aan die volgende spesifikasies moet voldoen en keuses moet maak (die aantal spuite benodig word aangedui):

  • 600 liter, 10 m (6 km/h): 3,8 eenhede benodig = vier eenhede met 5% spaarkapasiteit
  • 2 400 liter, 18 m (8 km/h): 1,3 eenhede benodig = twee eenhede met 35% spaarkapasiteit
  • 3 200 liter, 24 m (10 km/h): 0,8 eenhede benodig = een eenheid met 20% spaarkapasiteit

Spuitspoed
Die keuse van groter spuite met meer gesofistikeerde suspensies laat hoër grondspoed toe, soos aangedui, en kos natuurlik meer by die aanvanklike aankoop. Die grootste koste van balkspuite lê in die sofistikasie van dempingstelsels ten einde hoër grondspoed en beter konstante spuithoogtes te realiseer – wat effektiwiteit van toediening verseker.

Balkwip van 500 mm bo die optimale spuithoogte van 500 mm verlaag herwinning van spuitstof op die potensiële teiken met tot 40%. Dis is daarom krities dat jy nie, waar balkstabiliteit problematies raak, die spuitspoed oorskry nie. Die totale berekening rondom trekker- en operateurskostes is nodig om die totale werklike koste per hektaar per jaar te bepaal. Ons doen graag hierdie berekeninge vir jou.

Beheerstelsels
Nadat jy bogenoemde keuse gemaak het, moet die terrein en jou trekkergrootte ontleed word om te bepaal of daar genoeg wringkrag sal wees om jou bespuiting in dieselfde trekkerrat te doen.

Tydens die spuit van groente, wat ‘n betreklike lae spuitspoed (<5 km/h) vereis, is dit selde nodig om hierdie oorweging te maak en kan daar eenvoudig ‘n konstante drukstelsel, of uiterste ‘n directly proportional to motor (DPM)-stelsel, gespesifiseer word. (DPM-stelsels laat toe dat spoed in dieselfde trekkerrat met tot ongeveer 10% verander kan word, terwyl die toediening per hektaar konstant bly).

Indien daar egter teen medium spoed teen hellings gespuit moet word en die wringkrag voldoende is dat ratte nie gewissel hoef te word en die spuitspoed nie met minder as ongeveer 10% van die gekalibreerde spoed gaan verskil nie, sou ‘n DPM-stelsel as minimum vereiste aanbeveel word.

Die gebruik van directly proportional to advancement (DPA)-stelsels (ratwisseling toelaatbaar), met of sonder GPS-seksiebeheer, laat die keuse van ‘n meer gesofistikeerde spuitproses toe. Hou egter in gedagte dat grondspoedvariasies van meer as 20% nie aanvaarbaar is nie, aangesien dit buite die bestek van die gekose spuitpuntlewering en optimale druppelgrootte sal gaan. Indien groter grondspoedvariasies as ongeveer 20% om enige rede vereis word, sou die keuse van outomatiese multi­spuitpuntseleksiestelsels ononderhandelbaar wees.

Spuitpunte
In beginsel kan jy kies tussen platwaaier-, laewegdryfplatwaaier-, luginduksieplatwaaier- en holkeëlspuitpunte – elkeen met sy eie optimale toepassing:

  • Platwaaier: Swamdoder, insekdoder en selektiewe onkruiddoder (1,5 bar – 3 bar);
  • Lae wegdryfplatwaaier: Breëspektrumonkruiddoder (1,5 bar – 3,5 bar); en
  • Luginduksieplatwaaier: Voor-opkomsonkruiddoder (1,5 bar – 4 bar).

Selfaangedrewe spuittoerusting
Hierdie is gewis ‘n voordeel wanneer hoë gewasse op ‘n laat stadium bespuit moet word. Andersins moet jy in jou motivering by die aankoop daarvan tussen ekonomiese en persoonlike voorkeure opweeg. Wees egter versigtig om nie die keuse te maak bloot “omdat die selfloper vinniger kan spuit” nie. Vir die spuitpunt bly die vereiste steeds ‘n konstante hoogte van 500 mm na die teiken – en die balkstabiliteit bepaal dit.

Lugondersteunde balkspuite
Hierdie tegnologiese groep maak gebruik van lugondersteuning om enersyds wegdryf te beperk, maar ook om verbeterde gewasindringing en herwinning van spuitstof op die teiken te verhoog. Indien jy dus gewasse met hoë waardes produseer (groente), sou dit ‘n belangrike opsie wees om te oorweeg. Selfs as jy in winderige areas met graan boer, sal lugondersteuning vir jou voordele inhou.

Naverkoopdiens 
Kan die verskaffer van my spuittoerusting my lei na die regte keuse rakende implement- en spuitpuntseleksie? Is onderdele en tegniese naverkoopdiens van hoogstaande gehalte? Het die verskaffer enigsins die kennis om die toerusting op te stel dat dit die hoogste effektiwiteit sal verseker?

Onderhoud
Sekerlik een van die maklikste en sekerste maniere om swak spuitresultate te kry, is gesetel in iets so eenvoudig soos die korrekte onderhoud van die spuitstelsel. Operateurshandleidings spel die vereistes in fyn besonderhede uit en van die belangrikstes om in gedagte te hou, is:

  • Spuitpunte moet weekliks getoets word om te bepaal of lewering binne die spesifikasies is. Indien dit met meer as 10% van leweringsnorm afwyk, moet dit vervang word.
  • Filters moet daagliks uitgehaal, skoongemaak en geïnspekteer word.
  • Roerders moet ten minste met seisoenale onderhoud uitgehaal en skoongemaak word.
  • Herkalibrasie van sensors op ‘n seisoenale basis kan groot foute voorkom.
  • Skoonmaak – binne en buite – is die eenvoudigste en sekerste manier om diensbaarheid en waarde te behou. Doen dit deeglik en op ‘n weeklikse basis.
  • Volledige jaarlikse onderhoud moet direk na die spuitseisoen gedoen word – en nie voor die volgende seisoen nie.

Voor aanvang van die nuwe spuitseisoen is dit noodsaaklik om tydig weer die stelsels te toets en seker te maak dat alles in ‘n werkende toestand is. Raadpleeg die volledige handleidings wat saam met die toerusting aan jou voorsien is, ten einde die verskillende inspeksies korrek uit te voer.

Publication: September 2018

Section: Focus on integrated pest control