My beeste is in my buurman se lande! HOE NOU GEMAAK?

Gepubliseer: 6 Mei 2024

112
Elretha Kock,
hoof- uitvoerende beampte/finansiële adviseur, NWK4Sure Makelaars

“Jou beeste is in my lande!” – sekerlik ’n oproep wat geen boer van sy buurman wil ontvang nie.

Met die vele uitdagings wat landbou deesdae inhou, is hierdie ’n verdere risiko wat produsente eerder wil vermy.

Buurmanskap het oor die jare minder “verge­wensgesind” geword. Alhoewel beide partye hierdie tipe skade as ’n bedryfsrisiko sien, blyk dit dat produsente minder verdraagsaamheid toon vir verliese wat hierdeur veroorsaak word.

Tog is dit veral in die platteland belangrik dat goeie buurmanskap gehandhaaf word.

Sou daar dan onderling met mekaar ooreen­gekom word oor die skade – hetsy vreetskade of vertrapping van plante – veral in die geval waar die kwantum min is, word aanbeveel dat partye skik, sonder benadeling van hul regte.

Die ander opsie is om die voorval deur die verse­kering te hanteer.

Dekking vir skade veroorsaak deur diere is beskikbaar onder die gemeenregtelike of publieke-aanspreeklikheidsafdeling. Dit moet “as ingesluit” onder dié afdeling op die polis aangedui wees.

Sou die versekerde die eienaar of wetlik vir die diere verantwoordelik wees, sal die voorgestelde prosedure om te volg as volg wees:

  • Neem soveel moontlik foto’s van waar die beeste deurgebreek het asook van die skade wat aan die lande aangerig is. (Skade sluit vreetskade sowel as vertrapping van plante in.)
  • Stel jou makelaar of versekeraar so gou moontlik (binne 30 dae) van die voorval in kennis.
  • Die versekerde moet by wyse van ’n skrywe deur die buurman aanspreeklik gehou word vir die skade.
  • Die onus rus op die buurman om die eis te bewys.
  • Vir bepaling van die kwantum moet die buurman ’n onafhanklike takseerder aanstel wat so gou as moontlik die skade kan takseer.
  • ’n Aanbeveling is dat die versekerde (eienaar van die diere) ook ’n taksasie laat uitvoer. Sou daar enige dispuut ontstaan rakende die kwantum van die skade, is ’n tweede taksasie beskikbaar.
  • Nalatigheid aan die kant van die versekerde (eienaar van die beeste) moet bewys word.
  • Die inligting wat die versekeraar normaalweg sal verlang, sluit in wat die rede is dat die diere deurgebreek het, soos ’n tekort aan weiding of drinkwater, die toestand van die grensdrade en die wyse waarop oor die diere toesig gehou word asook wat elke party bygedra het om die skade te beperk.
  • Sou bure onderling ’n ooreenkoms bereik na die aanmelding van ’n eis, mag die versekeraar se belange of regte nie daardeur benadeel word nie.

Volgens die deliktereg is daar drie vereistes wat in ag geneem moet word vir die suksesvolle hantering van die eis:

  1. Die versekerde moet die eienaar van die diere wees ten tyde van skade.
  2. Die diere moet skade veroorsaak deur plante te vreet, insluitend die vertrapping van gewasse.
  3. Die diere moet uit eie wil optree wanneer die skade veroorsaak word.

Uit bogenoemde is dit duidelik: Daar is ’n werkbare oplossing om te keer dat goeie verhoudings en buurmanskap in gedrang kom tydens só ’n voorval. As die emosies opsygeskuif en daar feitelik na die omstandighede en moontlike eis gekyk word, kan ’n positiewe uitslag bewerkstellig word.