Groei vooruit om ons toekoms te bestuur

Gepubliseer: 12 Desember 2023

302
Nico Vermaak Maatskappysekretaris, Graan SA Groep van Entiteite

Die bestuur van verandering is ’n werklikheid vir Graan SA. Gegewe ’n snelveranderende omgewing, is daar geen gemaksone vir die organisasie of sy lede nie. In wese is verandering die enigste konstante.

Baie jare gelede het die bekende wetenskaplike Darwin geskryf dat dit nie die sterkste spesies is wat sal oorleef nie, maar dié wat kan aanpas. Dit was die kern van sy ewolusieteorie. Dieselfde geld vir organi­sasies of besighede. Hulle kan eenvoudig nie voortgaan met bestuursmodelle van 20 jaar of ouer nie. Alhoewel waardes soos integriteit, eerlikheid en deursigtigheid nooit onderhandelbaar sal wees nie, beteken groei as ’n organisasie dat nuwe geleent­hede ten volle benut moet word. Elke krisis bied ’n geleentheid – geen groei is moontlik binne ’n gemaksone nie.

Die bestuur van verandering vereis effek­tiewe leierskap om innoverende oplossings te vind. Dit behels sorgsame, vaardige en nougesette besluite wat op lang termyn sal lei tot voordele vir die organisasie en sy lede.

’n Uitdaging vir die Graan SA-leierskap was die kernvraag van wie die hoogste gesag binne die organisasie is. Dit was nie duidelik in die organisasie se grondwet nie, aangesien die de facto hoogste gesag volgens die grondwet berus het by of Kongres, die Hoofbestuur of die Dagbestuur van die Hoofbestuur in sitting was. Volgens die regsbeginsels is dit onmoontlik om aanspreeklikheid te bepaal as die hoogste gesag wissel afhangend van watter struktuur van die organisasie in sitting is. Vir goeie bestuurspraktyke is dit egter noodsaaklik om duidelike voorskrifte in die grondwet van die organisasie te hê om te bepaal wie verantwoordelik is vir besluite en om ’n duidelike delegasie van bevoegdhede te bevestig.

Laat ons eers hierdie moeilike pro­bleem eenkant laat.

Die tweede groot uitdaging vir Graan SA was die uitdaging rakende die voorwaardes vir belastingvrystelling van toepassing op Graan SA as ’n organisasie sonder winsbejag. Die hoofrolspeler hier is artikel 30B van die Wet op Inkomstebelasting. Die essensie van die artikel is dat Graan SA volgens die voorwaardes vir belastingvrystelling moet verseker dat 90% van sy inkomste van ledeverwante bronne kom en nie meer as 10% van ander bronne van inkomste nie.

Nuwe groepargitektuur
Hierdie sake het ’n direkte impak op Graan SA se sakemodel gehad en moes aangepak word. Nadat oorleg gepleeg is met belasting- en regskundiges asook met vooraanstaande sake- en bestuurspesialiste, het die Hoofbestuur besluit om die argitektuur van die huidige Graan SA-besigheidsmodel te wysig. Dit het daartoe gelei dat Graan SA herstruktureer moes word tot ’n groep dinamiese entiteite, gevorm vir die toekoms.

Graan SA as ’n organisasie sonder winsbejag sal voortgaan om graan- en oliesadeprodusente te dien in al die huidige streke met afgevaardigdes na Kongres wat mandate aan gekose leiers sal gee om te aksie na afloop van Kongres. Graan SA sal steeds optree as die spreekbuis vir graanprodusente in die graan- en oliesaadwaardekettings. Die Hoofbestuur se naam sal egter aangepas word na die Raad van Graan SA en dit sal erken word as die hoogste gesag in die organisasie. Die grondwet sal voorsiening maak vir spesifieke pligte van Kongres, die Raad asook van die Dagbestuur om duidelike gesags- en aanspreeklikheidslyne te verseker. Die voorstel vir die wysiging van die grondwet is eenparig deur Hoofbestuur aanbeveel op 21 September 2023 en sal vir goedkeuring by Kongres 2024 dien.

Tweedens is die sakeondernemings binne Graan SA in die proses om oorgedra te word na ’n private maatskappy, Nampo (Edms) Bpk. Graan SA is die enigste aandeelhouer van hierdie maatskappy. Die Direksie asook die besturende direkteur sal fokus op volhoubare inkomstebronne deur middel van bekende projekte, insluitend NAMPO, NAMPO Kaap, NAMPO Alfa en die NAMPO Kersmark. Ander aktiwiteite wat inkomste genereer, insluitend die SA Graan/Grain-tydskrif en funksies op NAMPO Park, sal ook binne die bestek van Nampo (Edms) Bpk bestuur word.

Ontwikkeling van produsente om nuwe toetre­ders in staat te stel om volwaardige kommersiële produsente te word, is deel van Graan SA se kernbesigheid. Phahama Grain Phakama tree reeds op as ’n maatskappy sonder winsbejag wat verskeie ontwikkelings­projekte vir produsente be­stuur in al die graanproduserende streke van Suid-Afrika. Die besturende direkteur van hierdie maatskappy sal saam met die Direksie op ontwikkeling en opleiding fokus.

Die laaste boublok van die Graan SA-toekoms bestaan uit die interne navorsingstrust. ’n Wysigingsakte is deur die raad van trustees goedgekeur om die naam van die trust na die Graan-en-Oliesaadprodusentetrust te verander.

Hierdie trust is so gestruktureer dat die oorspronklike finansiële bydraes van mielie- en koringprodusente binne afsonderlike beleggings­rekeninge bestuur sal word. Die geleentheid bestaan egter nou om eksterne navorsingsfondse van derde partye deur die trust te bestuur en om die aanwending van navorsingsfondse na ’n nuwe vlak te verhef. Die sluiting van ooreenkomste met die Departement van Wetenskap en Innovasie (DSI) asook ander derde partye, is in proses. Navorsingsfondse sal via die trust na verskeie navorsingskonsortia gekanaliseer word wat behoeftegedrewe projekte tot voordeel van graan- en oliesadeprodusente sal koördineer. Die trustees van die trust sal deur werkgroepe binne die Graan SA-struktuur genomineer word.

Die toekoms kan nie voorspel word nie. Dit is egter die verantwoordelikheid van die Graan SA-leierskap om betyds by nuwe omstandighede aan te pas en ons toekoms deur effektiewe entiteite te bestuur. Kyk uit, 2024, die Graan SA Groep van Entiteite is op pad om volhoubare graanproduksie in Suid-Afrika te verseker!