Einde van nat siklus waarskynlik in sig

Gepubliseer: 2 Augustus 2022

46
Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige

Die 2021/2022-somerseisoen sal onthou word vir ver bogemiddelde reënval oor groot dele van die somerreënvalgebied en veral die somergraangebied. Op baie plekke in die somergraangebied was die reën van 2021/2022 meer as dubbeld die langtermyn- gemiddelde reënval.

Koppies in die Noord-Vrystaat het byvoorbeeld vanaf Julie 2021 tot einde Junie 2022 ongeveer 1 240 mm gehad teenoor die 2020/2021-seisoen se 480 mm en Marquard ongeveer 1 250 mm teenoor 817 mm in die vorige seisoen. Leeudoringstad was op 1 150 mm teenoor 708 mm in 2020/2021; Coligny was op 1 063 teen­oor 716 mm in 2020/2021; Mareetsane in Noordwes was op 1 107 mm teenoor 740 mm en Middelburg in Mpumalanga was op 1 089 mm teenoor 760 mm in die vorige seisoen.

Reeds in 2018/2019 en 2019/2020 het gemiddelde tot bogemiddelde reënval begin voorkom oor die sentrale tot oostelike somergraangebiede. In die 2020/2021-somerseisoen het bogemiddelde reënval ook weswaarts begin uitbrei, maar effens ondergemiddelde reënval het op plekke in die ooste­like produksiegebiede, soos Standerton, Witbank en Delmas voorgekom.

Gedurende die 2021/2022-somerseisoen het bogemiddelde reënval oor bykans die hele somerreënvalgebied, met die uitsondering van dele in die Oos-Kaap, voorgekom. Die vraag is dus watter faktore het bygedra tot hierdie “opbou” van reënval oor ongeveer vier seisoene en wat hou die toekoms in? Is dit die effek van klimaatsverandering of is dit meer deel van die klimaatsvariasie rondom die langtermyn- gemiddelde reënval?

Eerstens is daar ’n mate van siklisiteit in die klimaat en veral reënval. Daar is duidelike periodes met agtereenvolgende jare met natter toestande en agtereenvolgende jare met droër toestande. So was daar die uiters nat toestande vanaf ongeveer 1974 tot 1976; 1988 en 1989; 1998 tot 2000 en dan ook vanaf ongeveer 2008 tot 2011. Die droë periodes wat duidelik uitstaan, was vanaf 1964 tot 1972; 1982 tot 1987; 1991 tot 1995; 2001 tot 2007 en 2014 tot 2019. Wat kenmerkend is, is dat El Niňo prominent gestaan het in die meeste van die droër periodes, maar dat La Niňa nie altyd 100% aan die natter periodes gekoppel was nie. So byvoorbeeld was daar twee matig tot swak La Niňa-verskynsels in 1983/1984 en 1984/1985 met ondergemiddelde reënval.

Dit bring ons by ander faktore wat ’n rol kan speel soos die invloed van die Indiese Oseaan se oppervlaktemperature. Met warmer water nader aan die Afrika-kuslyn en koeler water ooswaarts nader aan Australië, is die voorkoms van tropiese laagdruksisteme sterker nader aan die Afrika-kontinent. Dit veroorsaak dat baie reën voorkom waar die tropiese storms in die Indiese Oseaan is, met droër toestande oor die Afrika-subkontinent. Die teenoor­gestelde is ook waar wanneer die sogenaamde Indiese Oseaan-dipool (IOD) in ’n negatiewe fase is of koeler water nader aan die Afrika-kuslyn is met warmer water ooswaarts. Tydens die negatiewe fase van die IOD ontstaan laagdruksisteme makliker oor Suidelike Afrika met gevolglik beter reënvaltoestande.

Wanneer daar tegelykertyd ’n La Niňa-verskynsel sowel as ’n negatiewe fase van die IOD voorkom, versterk die twee mekaar met gevolglik baie reën en ook omgekeerd. Die besonder nat jare van 1974 tot 1976 is voorbeelde hiervan waar daar ’n sterk negatiewe IOD sowel as ’n sterk La Niňa-verskynsel was.

In 2015/2016 was die IOD positief (warmer water nader aan die Afrika-kuslyn) en daar was terselfdertyd ’n redelik sterk El Niňo-verskynsel – die gevolg was ’n rampdroogte. So was daar ook byvoorbeeld in 1991/1992 ’n uiters sterk positiewe IOD met ’n matige tot sterk El Niňo met rampspoedige gevolge. Daar is dus verskeie kombinasies en interaksies tussen El Niňo/La Niňa en die positiewe/negatiewe fase van die IOD wat mekaar se effek kan versterk, verswak of uitkanselleer. ’n Ander interessante voorbeeld van ’n besonder goeie produksiejaar was in 1980/1981 waar daar nie ’n El Niňo of La Niňa teenwoordig was nie, maar die IOD was in ’n sterk negatiewe fase vanaf Julie 1980 tot in Januarie 1981. In hierdie seisoen het die IOD dus die groot rol gespeel om goeie reënvaltoestande te veroorsaak.

Die IOD se intensiteit en die fase waarin dit is, speel al vanaf die winter en vroeë somer ’n rol om die volgende somer se reënval te bepaal, terwyl El Niňo of La Niňa se invloed op reënval meer direk is in die spesifieke maande van voorkoms vanaf September.

Waar staan ons tans en wat kan dit inhou vir die 2022/2023-somerseisoen?
Nat en droë siklusse
’n Groot deel van die somergraangebied was in 2021/2022 alreeds in die derde of selfs vierde jaar van ’n sogenaamde natter siklus. Geskiedenis wys dat nat siklusse by uitsondering langer as vier jaar aanhou. So byvoorbeeld was daar vir ’n plek soos Hoopstad vir die periodes vanaf 1973/1974 tot 1976/1977, 1987/1988 tot 1990/1991 asook vanaf 2007/2008 tot 2010/2011 vier agtereenvolgende jare met bogemiddelde reënval vanaf 1 Julie tot 30 Junie. Dit sal dus onwaarskynlik wees dat die huidige nat siklus langer as die 2022/2023-seisoen gaan aanhou tensy ander faktore soos La Niňa of die Indiese Oseaan ’n rol speel om die siklus te verleng.

El Niňo Suidelike Ossilasie (ENSO)
Die ENSO met twee hoofkomponente van La Niňa en El Niňo waarin daar ook neutrale jare kan voorkom, is tans steeds in ’n La Niňa-fase wat reeds vanaf Julie 2021 heers. Wat die huidige La Niňa uniek maak, is dat dit gewoonlik vanaf Maart begin verswak om in ’n dormante fase te gaan tot ongeveer Augustus/September. Vanjaar het dit egter versterk vanaf Februarie tot middel Mei 2022 en behou steeds redelik sterk vlakke.

Een van die indikators van die ENSO, naamlik die 30-dae-lopende gemiddelde Suidelike Ossilasie-indeks of SOI, was teen die einde van Mei die tweede hoogste op rekord sedert 1886. Net in Mei 1917 was dit sterker positief met Mei 1956, Mei 1989 en Mei 2010 wat net effens swakker was as in Mei 2022. In al vier gevalle in die geskiedenis het hierdie hoë waardes van die SOI gedurende Mei voorgekom in die laaste of tweede laaste seisoen van die natter siklus.

Huidige voorspellings, alhoewel daar nog heelwat onsekerheid is, toon dat die La Niňa van nou af geleidelik gaan verswak tot ongeveer Oktober. Dit gaan effens versterk rondom Oktober en November en dan verswak om teen die einde van die jaar of aan die begin van die nuwe jaar in ’n neutrale fase oor te gaan. Dit behoort egter steeds op swak La Niňa-vlakke te bly tot ten minste Januarie 2023.

Dit kan veroorsaak dat reënvaltoestande nog redelik gunstig gaan bly tot ten minste Januarie/Februarie 2023, veral oor die sentrale tot oostelike produksiegebiede. Die kanse is goed dat die westelike produksiegebiede ondergemiddelde reën gaan kry, veral in die periode vanaf Februarie tot April.

Indiese Oseaan
Huidige voorspellings toon dat die IOD in ’n negatiewe fase sal ingaan vanaf Julie tot ten minste November 2022. Dit kan veroorsaak dat reënvaltoestande gunstig kan begin word oor die oostelike somergraangebiede vanaf die laaste deel van Oktober tot Januarie en vanaf November/Desember oor die sentrale tot westelike dele. Die IOD se effek op reënval in die laaste deel van die somer is gewoonlik kleiner en kan dus ook saamspeel om droër toestande voor die winter te veroorsaak.

Klimaatsverandering
Daar is ’n tendens dat die hoeveelheid reën in die periode vanaf November/Desember tot Januarie/Februarie in die Suidelike Halfrond, wat die somerreënvalgebied van Suid-Afrika insluit, besig is om toe te neem ten koste van veral die reënval in die lente en vroeë somer. Dit lyk asof dit slegs in El Niňo-jare is waar hierdie tendens nie geld nie.

Indien daar dus La Niňa-seisoene is of selfs wanneer toestande neutraal is, het reënvaltoestande in die midsomer ’n verbeterde tendens oor tyd begin toon. Die tradisionele midsomerdroogte vanaf ongeveer die jaar 2000 is nie meer so intens en kom ook nie so ge­reeld voor soos in die geskiedenis voor 2002 nie.

Wat gaan die kritieke maande wees in die 2022/2023-somerseisoen?

  • Augustus/September gaan meer sekerheid gee oor wat die La Niňa gaan doen. Indien dit gaan verswak, gaan dit die draaipunt van die huidige nat siklus aandui.
  • Indien die La Niňa nog in November/Desember teenwoordig is, al is dit swak en die Indiese Oseaan se see-oppervlaktemperature bly gunstig, gaan dit die kanse vir gemiddelde tot bogemiddelde reënval weer eens verhoog, veral oor die sentrale tot oostelike somergraangebied.
  • Dit is baie moontlik dat Februarie tot April nie soveel reën gaan kry as in die 2021/2022-seisoen nie omdat die La Niňa waarskynlik dan redelik vroeg gaan verswak.

In ’n neutedop

  • Die huidige nat siklus is naby aan die einde want dit gebeur nie maklik dat daar meer as vier nat seisoene agter mekaar is nie.
  • Dit lyk nie asof die 2022/2023-somerseisoen besonder droog gaan wees of ondergemiddelde reënval gaan ervaar nie, veral nie rondom die midsomer nie. Dit is omdat die verwagte teenwoordigheid van ’n swak La Niňa, gunstige Indiese Oseaan-oppervlaktemperature sowel as klimaatsverandering, op positiewe reënvaltoestande dui in die periode vanaf November tot einde Januarie.
  • Dit is baie moontlik dat die periode vanaf Februarie tot April 2023 swakker reënvaltoestande gaan ervaar wat ook moontlik die draaipunt gaan wees van die huidige nat siklus.
Graan SA-fotokompetisie – Piet Lombard, Julie 2021