Ekonomies belangrike mieliesiektes

22
Dr Belinda Janse van Rensburg,
LNR-Graangewasse,
Potchefstroom

Almal het seker al die liedjie “kop en skouers, knieë en tone” gesing. Dit is presies die benadering wat in hierdie artikel gebruik word om van die ekonomies belangrike siektes wat die mielieplant van toontjie tot kroontjie aantas (wortels, stamme, blare en koppe), uit te lig. Foto’s van die siektesimptome sal produsente help om die regte siekte-identifikasie te maak, wat hulle weer in staat stel om die regte beheermaatreëls te identifiseer en toe te pas. Die voorbeelde wat gebruik is, sluit die mees algemene siektenavrae wat elke jaar ontvang word, in.

Wortel- en kroonvrot
Grondgedraagde swamme kan wortel- en kroonvrot asook saailingverwelksiekte in plante veroorsaak. ’n Verskeidenheid van swamme is verantwoordelik vir die vrotte en dit is daarom moeilik om te beheer.

Die siektegraad wissel na gelang van verskillende grondtipes, vog, temperatuur, nutriënte, grondbewerkingspraktyke en algehele grond- en plantgesondheid. Simptome waarna opgelet moet word, is verkleuring en onderontwikkeling van wortels (Foto 1) wat ’n swak plantestand en afname in groei­krag sal veroorsaak. Geïnfekteerde saailinge sal kleiner wees as gesonde saailinge en vertoon dikwels ’n geel verrotting.

Produsente moet dan inplant as gevolg van die swak ontkieming van saailinge – wat finansiële gevolge inhou.

1. Grondgedraagde patogene veroorsaak dat wortels nie ordentlik ontwikkel nie, wat dan swak saailinge tot gevolg het.

Stamvrotte
Houtskool- en Gibberella-stamvrotte was algemeen teenwoordig in die vorige groeiseisoen en het in die meeste gevalle gesamentlik in stamme voorgekom (Foto 2).

Houtskoolstamvrot word veroorsaak deur die swam Macrophomina phaseolina en Gibberella-stamvrot deur die Fusarium graminearum-spesiekompleks van swamme. Houtskoolstamvrot toon ’n kenmerkende swart of houtskoolkleurige verkleuring en Gibberella-infeksies het ’n kenmerkende donker­pienk kleur.

Gibberella-stamvrotinfeksies vind gewoonlik vroeër in die plantseisoen plaas wanneer temperature meer gematig is, met ’n hoër voginhoud in die omgewing. Houtskoolstamvrotinfeksies word bevorder deur ’n warm en droë klimaat, gewoonlik later in die seisoen. Dikwels sal Gibberella die stamme eerste infekteer aan die begin van die plantseisoen (Oktober/November), gevolg deur houtskoolstamvrot soos wat die temperature styg gedurende Desember en Januarie.

Mielieplante is tydens die blomstadium baie vatbaar vir houtskoolstamvrotinfeksies. Wanneer die swamme die stamme infekteer en daarin vermeerder, blok dit die opwaartse beweging van water en nutriënte wat swak graanvulling tot gevolg het. Die stamme verswak sodanig by die infeksiepunte dat die plante kan omval tydens sterk wind of as gevolg van swaar koppe (Foto 3). Dit veroorsaak ekstra koste tydens oestyd aangesien plante eers opgetel moet word.

Blaarsiektes
Noordelike mielieblaarskroei
Noordelike mielieblaarskroei word deur die swam Exserohilum turcicum veroorsaak en is tans een van die mees algemene en wyd verspreide mielieblaarsiektes in Suid-Afrika. Die humiede mikroklimaat wat deur besproeiingsisteme geskep word, bevorder epidemies van dié siekte. Opbrengsverliese as gevolg van noordelike mielieblaarskroei is gevolglik ’n jaarlikse probleem in die besproeiingsareas langs die Vaal-, Modder- en Oranjerivier.

Hierdie siekte kan ’n verwagte 2%- tot 8%-oesverlies vir elke 10%-toename in siektegraad toon. Simptome van noordelike mielieblaarskroei word waargeneem as lang, ovaalvormige, grysgroen letsels wat later verbruin (Foto 4). Die letsels kan tussen 2,5 cm en 15 cm in lengte wees en vorm gewoonlik eerste op die onderste blare, vanwaar dit dan teen die plant opbeweeg.

Skade wat aan die blare aangerig word, dra by tot soveel stremming dat die plant meer vatbaar vir stamvrotinfeksies word.

Grysblaarvlek
Onder gunstige weerstoestande is grysblaarvlek een van die mees verwoestende siektes met oesverliese van tot 70% wat al aangemeld is. Die voorkoms van die siekte was in die verlede meestal beperk tot KwaZulu-Natal, maar veranderde weersomstandighede het veroorsaak dat dit nou ook in die Noordwes Provinsie, Mpumalanga, die Vrystaat en in die besproeiingsmielies van die Noord-Kaap en Limpopo aangetref word.

Simptome word heel eerste aan die onderste blare waargeneem as klein vlekkies, omring deur ’n geel ring. Soos wat die siekte ontwikkel, word reghoekige grys letsels wat tot die blaarare beperk is (Foto 5), waargeneem. Tydens ’n epidemie kan letsels in mekaar ingroei en die hele blaar kan afsterf.

Kopvrotte
F. verticillioides-kopvrotte word oral in Suid-Afrika aangetref, maar veral in droë, warm gebiede met temperature bo 28°C. Verskeie stremmingsfaktore, soos droogte asook insek- en voëlskade, help die voorkoms van die swam aan. Besmetting met F. verticillioides kan enige tyd gedurende die plant se ontwikkeling plaasvind. Die swam is dikwels reeds in die saad teenwoordig wanneer dit geplant word en groei saam met die stam totdat dit die mieliekop bereik.

Die swam se spore kom ook in die grond voor waar dit ’n plant se wortels kan infekteer, verder deur die stam groei en uiteindelik na die kop beweeg. F. verticillioides oorwinter op plantreste in en bo-op die grond en herinfekteer plante gedurende die volgende groeiseisoen. Reën en wind kan spore vanaf plantreste en die omliggende omgewing op die mielieplant se baard laat beland en sodoende infeksie van die graan laat plaasvind.

Hierdie swam het ’n meervoudige siklus wat beteken dat plante verskeie kere gedurende een groeiseisoen geïnfekteer kan word. Bekende simptome van F. verticillioides-besmetting is ’n witpienk swamgroei wat op die pitte langs stamboordervreetkanale voorkom. Soortgelyke simptome word geassosieer met insek- en voëlvreetskade op mieliekoppe. Onbeskadigde pitte kan ook ’n ligte pienk verkleuring toon (Foto 6). Die swam kan egter ook koppe en pitte besmet sonder om enige sigbare simptome te toon. In so ’n geval is ’n produsent nie bewus van die teenwoordigheid van die swam nie.

Gibberella-kopvrot
Gibberella-kopvrot kom wydversprei in die mielieproduksiegebiede van Suid-Afrika voor en word deur die Fusarium graminearum-spesiekompleks veroorsaak. Dié spesiekompleks het verskillende gewasgashere wat in die grasfamilie val. Vatbare gewasse sluit mielies, sorghum, koring, hawer, rog en gars in.

Dit kom voor in mielies gedurende warm en nat weerstoestande (vanaf blom tot drie weke na baardstoot) waar die inokulum die kop deur die baard besmet. Gibberella-kopvrot is meer algemeen onder besproeiingstoestande. Die siekte kom normaalweg meer gereeld in die matige oostelike produksiegebiede voor, maar onlangs was daar ook ’n toename in die westelike produksiegebiede.

2. Besmetting met Gibbe­rella-stamvrot (donkerpienk verkleu­ring) en houtskool­stamvrot (swart verkleuring) is algemeen.
3. Besmette stamme verswak en val om voordat die produsent kan oes.
4. Noordelike blaarskroei veroorsaak ovaalvormige, grysgroen letsels wat later verbruin.
5. Grysblaarvlek veroorsaak reghoekige grys letsels.
6. Pienk verkleuring op mie­liepitte kenmerkend van ’n Fusarium verticillioides-infeksie.

Wisselbou van mielies met ander gewasse in die grasfamilie kan die siekte laat toeneem, afhangende van die hoeveelheid inokulum wat oorgedra word van een seisoen na die volgende. Die siekte kan ook toeneem in lande waar minimum- of geenbewerkingspraktyke toegepas word as gevolg van besmette stoppels wat agterbly.

Kopvrotsimptome vertoon as ’n gedeeltelike of algehele donkerrooi verkleuring van die mieliekop. Vroeë infeksies kan lei tot verrotting van die hele kop met miselium (swamdrade) wat die kopblare aan die kop laat vasklou. Gibberella-kopvrotinfeksies begin aan die voorpunt van die mieliekop (Foto 7) vanwaar die swam teruggroei na die plant toe. Die siekte veroorsaak oesverliese en affekteer ook graankwaliteit.

Diplodia-kopvrot
Diplodia-kopvrot (Foto 8) van mielies word deur die swam Stenocarpella maydis veroorsaak. Hierdie siekte kan die kwaliteit van graan verlaag en ook ’n gifstof produseer wat skadelik kan wees vir beeste, skape en pluimvee. Diplodia-epidemies kom gewoonlik voor op plekke (met ’n hoë inokulumdruk wat op plantreste en in die grond vermeerder het) waar vroeëseisoendroogtes gevolg word deur laatseisoenreënval.

7. ’n Kenmerkende donkerrooi Gibberella-kopvrotinfeksie aan die voorpunt van die mieliekop.
8. Diplodia-verrotting begin by die basis van die mieliekop.

Vroeë simptome sluit in die vergeling en verdroging van geïnfekteerde mieliekopskutblare. Verrotting begin gewoonlik by die basis van die kop en versprei dan deur die kop waar dit deurtrek word met ’n wit swamgroei. Laat infeksies wat voorkom wanneer die pitvoginhoud laag is, is gewoonlik simptoomloos (skelm diplodia).

Nie alle mieliesiektes is in die artikel bespreek nie. Indien addisionele inligting verlang word rakende bogenoemde en ander siektes, kontak gerus die plantpatoloë by die LNR-Graangewasse in Potchefstroom by 018 299 6100.