Genoomredigering op internasionale vlak bespreek

916

February 2019

DR MARINDA VISSER, bestuurder: Navorsing en Beleidsentrum, Graan SA

ʼn Konferensie van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) oor genoomredigering, met spesifieke klem op toepassings in landbou en die implikasies daarvan vir gesondheid, omgewing en regulering, is verlede jaar in Parys in Europa gehou. Graan SA is deur dr Marinda Visser (bestuurder: Navorsing en Beleidsentrum) verteenwoordig.

Die konferensie het onder meer aandag geskenk aan die OESO se beleid rakende landbou, omgewing en gesondheid. Gevolglik is daar gepoog om ’n beter begrip van die regulatoriese oorwegings vir genoomgeredigeerde produkte te bewerkstellig. Die regulatoriese benaderings van ander lande is ook onder die loep geneem. “Genoomredigering word reeds gebruik om die doeltreffendheid van plant- en diereteelt, asook beheerde peste en siektes te verbeter en oorerflike siektes en toestande by mense te behandel.

Genoomredigering, soos vele ander ontluikende tegnologieë, stel egter belangrike beleidsuitdagings op nasionale en internasionale vlak. Sommige van hierdie uitdagings verskil nie wesenlik van dié wat voortspruit uit ouer genetiese modifikasietegnieke nie,” sê dr Visser.

“In Suid-Afrika is daar nog geen uitspraak oor die regulering van genoomredigering of ander nuwe teeltegnieke gelewer nie. ’n Wetenskapsakademie van Suid-Afrika het egter al wel in opdrag van die Departement van Wetenskap en Tegnologie voorstelle in dié verband gemaak, maar verdere omvattende konsultasie is nodig. “China en die VSA is tans die voorlopers in die gebruik van genoomredigering in gewasse. In die Afrika-streek is Nigerië die hoofkwartier vir verskeie navorsingskonsortia wat in dié verband in Afrika betrokke is.

“Die VSA, die Verenigde Koninkryk en China is die lande wat die meeste betrokke is by dierlike genoomredigering. Beperkings in die wysiging van dieregene is nou, weens tegnologiese grense, oorskry as gevolg van die meer geredelike beskikbaarheid van genoomredigeringstegnieke,” sê sy.

Opmerkings
Die konferensie was nuttig in die verskaffing van ’n oorsig oor genoomredigeringstegnieke, die huidige en potensiële gebruik daarvan, asook die verskillende regulatoriese stelsels, prosesse en wetgewing oor die saak. Risiko- en veiligheidsoorwegings, onbeplande nagevolge, die opspoor en monitering van verskillende benaderings en ook wyses waarop risiko’s bepaal en beoordeel kan word, het besondere aandag geniet. Dit wil voorkom asof ’n groot aantal wetenskaplikes ten gunste van geen regulatoriese beheer van hierdie tegnologie is nie.

Hoewel nie alle produkte van genoomredigering uitloop op geneties-veranderde organismes (ooreenkomstig huidige definisies van GMO) nie, was dit duidelik dat die debatte, besprekingspunte en verwysings deeglik binne die sfeer van die genoomredigeringskonsep val.

In lande waar regulasies wel afgekondig is, is duidelike intreevlakke vir regulasies en die einddoel van “bioveiligheidsbeskerming” steeds ’n uitdaging. Genoomredigering is ’n kwantumsprong vorentoe gemeet teen die huidige GM-tegnologie, maar in Afrika – en selfs in Suid-Afrika – word die veiligheid en die nodigheid van GM-tegnologie steeds druk bespreek en beredeneer.

Publication: February 2019

Section: Relevant