Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit?

1080
Luan van der Walt,
landbou-ekonoom, Graan SA

Deel 5: Sojabone

Hierdie reeks handel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademarkte. Deel 4 van die reeks het na koringinligting verwys, terwyl hierdie artikel op sojabooninligting gaan fokus.

Aangesien die reeks grootliks fokus op die belangrikheid van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, word die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale-indeksberekeninge.

Seisoenale indekse
Die seisoenale-indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad uit as ’n persentasie van die twaalfmaande- bewegende gemiddeld.

Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen, aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan ook gebruik word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.

Agtergrond van die sojaboonmark
Die Suid-Afrikaanse sojaboonmark het in groot mate eers sedert 2012 tot sy reg begin kom. Suid-Afrika was tradisioneel nie ’n groot sojaboonprodusent nie en het gemiddeld minder as 100 000 ton per jaar geproduseer. Nie net was die produksie laag nie, die verwerkingskapasiteit was ook minimaal. Die plaaslik geproduseerde sojabone is altyd uitgevoer – net sodat sojaboonoliekoek, wat as proteïenbron in veevoer gebruik word, weer ingevoer kon word. Aangesien daar plaaslik ’n goeie vraag na sojaboonolie en -oliekoek is, is baie geleenthede vir uitbreiding in die plaaslike sojaboonmark geskep. Sedert die 2012-seisoen is daar begin om hierdie geleenthede te ontsluit en die plaaslike sojaboonmark het sedertdien sterk gegroei, beide in terme van produksie en verbruik. Grafiek 1 toon die plaaslike sojaboonproduksie en -verbruik sedert die 2000/2001-seisoen.

Seisoenale tendense
Soos meestal die geval is, word die plaaslike sojaboonmark ook grootliks deur die internasionale markte beïnvloed. Die oliesaadmarkte is egter baie meer kompleks, aangesien die produkte wat verkry word vanaf die verwerking van sojabone, naamlik olie en oliekoek, apart ingevoer kan word. Dit veroorsaak dat daar oor die algemeen ’n derde komponent aan die prysvormingsmeganisme van oliesade gekoppel word. Vir die meeste ander gewasse, soos mielies en koring, word die plaaslike markprys grootliks deur die invoer- en uitvoerpariteitspryse bepaal. Indien daar plaaslik ’n tekort is, verhandel die mark nader aan die invoerpariteitsprys en in geval van ’n plaaslike oorskot, sal die prys nader aan die uitvoerpariteitsprys verhandel. Die algemene beginsel geld ook vir oliesade soos sojabone. Aangesien die olie en oliekoek egter apart ingevoer kan word, is die korrelasie nie altyd so in lyn met die pariteitspryse nie, maar eerder met die afgeleide prys. Die afgeleide prys is ’n berekende prys wat die waarde van die olie- en oliekoekinvoere in ag neem.

Grafiek 2 toon die seisoenale indekse van die Safex-sojaboonpryse, invoer- en uitvoerpariteitspryse asook die afgeleide pryse. Dit is duidelik uit Grafiek 2 dat die plaaslike sojaboonprys oor die algemeen die hoogste is tydens Desember en Januarie wanneer dit 5% bo die jaarlikse gemiddeld verhandel. Die prys is oor die algemeen die laagste tydens April wanneer dit gemiddeld 6% laer as die jaarlikse gemiddelde prys verhandel. Die meeste sojabone word in April en Mei gestroop, wat plaaslike pryse onder druk plaas. In terme van die pariteitspryse kan gesien word dat dit oor die algemeen die hoogste is tydens Junie, waar dit gemiddeld tussen 4% en 5% bo die gemiddelde jaarlikse pryse verhandel. Dit is hoofsaaklik die feit dat dit planttyd in Amerika is wat die internasionale pryse gedurende hierdie tydperk ondersteun.

Soos vroeër genoem, speel die produkte wat verkry word vanaf die verwerking van oliesade ’n belangrike rol in die plaaslike prysvormingsmeganisme. Aangesien die oliesaadprodukte apart ingevoer kan word, is dit nie nodig om rou sojabone as sodanig in te voer nie. Die invoerpryse van die olie en oliekoek moet wel in ag geneem word, aangesien die plaaslike sojaboonpryse tot ’n groot mate daarvan afgelei word. Dit speel verder ’n belangrike rol in die plaaslike persmarge. Die persmarge verwys na die mate van winsgewendheid vir plaaslike verwerkers om sojabone te pers en dan die olie en oliekoek te verkoop. Wanneer die plaaslike sojaboonprys hoër as die afgeleide sojaboonprys is, is die persmarge gewoonlik meer onder druk. Dit veroorsaak dat die plaaslike verwerkers verwerking tot ’n sekere mate afskaal. Dit het weer ’n impak op die plaaslike sojaboonverbruik, wat gesien word in die maandelikse verwerkingsyfers.

Grafiek 3 toon dat die sojaboonprys oor die algemeen teen die laagste vlakke verhandel gedurende Maart, April en Mei – vanwaar dit weer ondersteuning begin vind. Dit is gewoonlik ook wanneer die plaaslike pryse laer as die jaarlikse gemiddelde en afgeleide pryse verhandel. Die persaktiwiteit in hierdie tydperk is aansienlik hoër as die jaarlikse gemiddeld. Sodra die plaaslike markpryse weer ondersteuning begin vind en sterker verhandel (bo die jaarlikse gemiddelde en afgeleide pryse), neig die persaktiwiteit om weer laer te wees. Oor die algemeen is hierdie tydperk tussen Augustus en Februarie soos in Grafiek 3 aangedui word.

Ten slotte
Alhoewel hierdie artikel slegs enkele aspekte van dit waarvoor die inligting gebruik kan word, bespreek, is dit belangrik om die waarde van die langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaar gemaak word. Dit sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.

Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om die inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark, aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.

In die volgende gedeelte sal die fokus op sonneblominligting wees.