April 2018

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA

Diesel maak ongeveer 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste uit. Die groothandelsprys van diesel in Maart vanjaar het op R12,10/liter gestaan – 4,2% hoër as die R11,61/liter van verlede jaar dieselfde tyd.

Dié dieselprys bestaan 50,5% uit heffings en belastings, terwyl 49,5% uit die werklike brandstofkoste (invoerprys van diesel) bestaan. Die grootste gedeelte (76%) van die heffings en belasting bestaan uit die algemene brandstofbelasting en die Padongelukfondsheffing.

Die groothandelsprys van diesel in Suid-Afrika word gereguleer. Grafiek 1 toon die samestelling van die groothandelprys van diesel in Maart vanjaar. Die Minister van Finansies het in sy begroting aangedui dat belasting op diesel in April met ‘n verdere 22 c/liter gaan styg, terwyl die Padongelukfondsheffing met 30 c/liter gaan toeneem.

Dieselrabat vanaf April 
Die dieselrabat waarvoor produsente kwalifiseer bestaan uit 40% van die algemene brandstofbelasting en 100% van die Padongelukfondsheffing. Vir Maart het die dieselrabat 23% van die groothandelsprys van diesel uitgemaak.

Die aankondiging dat die algemene brandstof- en die Padongelukfondsheffing in April met 22 c/liter en 30 c/liter onderskeidelik gaan toeneem, bring mee dat die dieselrabat vanaf 283 c/liter na 321,8 c/liter in April gaan toeneem – vir 80% van regmatige gebruik. Grafiek 2 toon hoe die dieselrabat oor tyd toegeneem het.

Verhoging = meer verantwoordelikheid 
Uit die artikel is dit duidelik dat ondanks die feit dat heffings en belastings skerp toeneem, die dieselrabat ‘n noemenswaardige deel daarvan uitmaak. Dit alles spel uit dat ons in die landboubedryf die dieselrabat met die nodige omsigtigheid moet hanteer en ten alle tye moet beskerm – dit is van die min ondersteuningsmaatreëls wat ons wel ontvang.

Wenke vir dieselrabat

  • Eis die dieselrabat op grond van verbruik en nie op aankope nie.
  • Hou volledig boek van dieselgebruik op die plaas (vanaf die hoofverspreidingspunte):
    • Datum waarop diesel ingegooi is
    • Hoeveelheid diesel ingegooi
    • Beskrywing van voertuig
    • Rede waarvoor diesel aangewend is, moet duidelik beskryf word

Neem kennis dat daar nog vir die finale logboeke van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gewag word, wat die bogenoemde inligtingbehoefte kan verander.

 

Publication: April 2018

Section: On farm level