Só lyk saadpryse vir 2019

1207

February 2019

In die kanolabedryf sal 2018 onthou word vir verskeie uitdagings wat saad betref. Dit het gewissel van tekorte aan ’n sekere gewilde kultivar as gevolg van voorsieningsprobleme vanuit Australië, tot by kiemingsdilemmas by ander. Graan SA het sedertdien hard daaraan gewerk om ’n herhaling van die tekorte aan hierdie kultivars in 2019 te verhoed.

Beskikbaarheid van saad
Daar is kommersieel altesaam 17 kultivars beskikbaar waaruit kanolaprodusente kan kies. Alle kanolasaad wat in Suid-Afrika aangeplant word, word vanaf Australië, Europa en nou ook Kanada ingevoer. Geen kanolasaad word plaaslik vermeerder nie – saadmaatskappye meen dat die plaaslike mark te klein daarvoor is en dat die vermeerdering van bastersaad, wat die grootste persentasie van die mark beslaan, te duur is.

Volgens die saadmaatskappy is die isolasievereistes van sulke vermeerderings ook van so ’n aard dat dit vir Suid-Afrika se relatiewe klein area net nie prakties is nie.

Omdat 100% van Suid-Afrika se kanolasaadbehoeftes ingevoer moet word, is die voorsiening van genoeg saad ’n fyn kuns. Dit veroorsaak dat dit ook vir plaaslike saadmaatskappye ’n uitdaging is: Word daar te veel saad ingevoer, sit hulle met die voorraad en moet hulle die voorraad dra of staan hulle die kans om dit te moet vernietig, omdat die kieming van kanolasaad ’n dilemma word hoe ouer dit word.

Graan SA het met verskeie van die saadmaatskappye gesprekke gevoer en beplanning gedoen met die oog daarop om voldoende saad, van die regte kultivars, vir 2019 te verseker. Al die maatskappye het hul tot die kanolasaadbedryf verbind en wil as betroubare voorsieners bekend staan. Een van die maatskappye het sover gegaan om van hulle vermeerderings in Kanada te doen ten einde genoegsame voorraad te verseker.

Vir die 2019-seisoen blyk dit vanuit terugvoer van die verskillende maatskappye dat daar wel hierdie seisoen genoegsame voorraad beskikbaar behoort te wees. Populêre kultivars kan egter vroeg uitverkoop word.

Saadpryse
In 2018 is daar deur middel van ’n aansoek van die bedryf daarin geslaag om die 10%-invoertarief op kanolasaad af te skaf. Kanolasaad, vir aanplantingsdoeleindes, word dus van 2019 af sonder ’n tarief die land ingevoer.

Pryse van kanolasaad het vir die 2019-seisoen bykans onveranderd gebly. Tabel 1 toon die saadpryse vir die 2019-seisoen. Tabel 2 toon wat met die rand/Australiese dollar-wisselkoers sedert 2015 gebeur het. Jaar-op-jaar het die rand met 1,9% verswak gemeet teen die Australiese dollar, wat beteken dat invoere teen hoër pryse as verlede jaar dieselfde tyd plaasvind.

Publication: February 2019

Section: Mini-Focus on Canola