Teling-en-tegnologie­heffing by sojabone – voordele reeds sigbaar

54
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA corne@grainsa.co.za

Die teling-en-tegnologieheffing het nog skaars afgeskop en vele voordele van dié stelsel is reeds sigbaar.

Sedert Maart vanjaar is ’n teling-en-tegnologieheffing vir sojabone ingestel om sojaboonsaadtelers te vergoed vir hulle investering in genetika en tegnologie.

Graan SA het vroeër vanjaar met saadmaatskappye vergader om onder meer terugvoer te kry oor vooruitsigte vir die sojaboonsaadbedryf sedert die teling-en-tegnologieheffing afgekondig is. Daar is reeds verskeie voordele of positiewe uitvloeisels wat sigbaar raak vandat die heffing geïmplementeer is.

Nuwe tegnologie op pad
Multinasionale saad- en tegnologiemaatskappye het reeds aangedui dat hulle nuwe saadtegnologie vir sojabone na Suid-Afrika toe bring (met dié heffing as voorvereiste).

Bayer het reeds die proefwerk gedoen (twee jaar) en het aansoek gedoen vir die registrasie van hul Intacta RR2 Pro-tegnologie. Hierdie tegnologie bevat gene wat weerstand bied teen Afrika-bolwurm asook die Round-up Ready 2-geen. Daar word verwag dat dit teen die 2021/2022-produksieseisoen kommersieel beskikbaar sal wees.

Corteva gaan ook in die komende seisoen met proewe begin om hul nuutste sojaboontegnologie (Concesta E3) na Suid-Afrika te bring. Bykomend hiertoe het die maatskappy Bioceres van Argentinië, wat die HB 4-geen (met droogteweerstandigheid) ontwikkel het, aangedui dat hulle ook hierdie tegnologie in Suid-Afrika gaan toets.

Nuwe telers
Behalwe vir nuwe saadmaatskappye wat belangstelling toon en dus bydra tot ekstra teelkapasiteit, het Link Seed onlangs ’n nuwe sojaboonsaadteler en ‘n ondersteuningspan in Suid-Afrika aangestel.

Nuwe maatskappye
Don Mario, een van die leiersojaboonsaadmaatskappye in Suid-Amerika, het aangedui dat hulle self Suid-Afrika toe kom. Daar is ook al meer belangstelling van internasionale maatskappye om hulle in Suid-Afrika te kom vestig.

Nuwe kultivars
Vir die 2019/2020-seisoen is ses nuwe sojaboonkultivars in die mark vrygestel. Hopelik sal hierdie tempo volgehou word en selfs toeneem soos tyd verloop.

Voordele in ander lande sigbaar
Volgens ’n onlangse studie van dieBuro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het opbrengste van sojabone oor ’n 20-jaarperiode in die VSA met 1,46% per jaar toegeneem, in Brasilië met 1,33% per jaar en in Argentinië met 0,64%.

Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrika se opbrengste met slegs 0,43% per jaar toegeneem. In hierdie periode was Suid-Afrika se sojaboonopbrengste gemiddeld 40% laer as die gemiddelde opbrengste in hierdie drie produserende lande. Met die instelling van die teling-en-tegnologieheffing kan Suid-Afrika as gevolg van nuwe tegnologie- en kultivarontwikkeling meer kompeterend teenoor hierdie lande raak.

’n Studie in Suid-Amerika (vier lande) wat oor vyf jaar gedoen is, het getoon dat vir elke dollar wat produsente aan Intacta RR2 Pro-tegnologie spandeer het, hulle relatief tot konvensionele saad $3,88 in ekstra inkomste teruggekry het. Hierdie ekstra inkomste is verkry uit ’n toename in opbrengs (9,2%) en laer koste aan onkruid- en insekdoder (-15,1%).

Pryse van saad
Saadpryse van sojabone het oor die afgelope 15 jaar met 97% gestyg (Grafiek 1). Die afgelope seisoen, na die afkondiging van die heffing, het saadpryse vir die eerste keer in 15 jaar op ’n gemiddelde basis gedaal (-1,9%). Een maatskappy, Sensako, het besluit om hulle saadpryse met 30% afwaarts aan te pas, wat direk toegeskryf kan word aan die heffing wat ingestel is.

Verder het Bayer besluit om ’n korting deur te gee aan produsente wat die vorige seisoen ’n tegnologiefooi op nuutaangekoopte saad betaal het.