Konstante kwaliteit verseker volhoubaarheid

Gepubliseer: 8 September 2020

1079
Jannie Myburgh,
landbou-ekonoom, VKB
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Die grootste verbruiker van sojabone is die veevoerbedryf – met die hoofrolspeler die pluimveebedryf. Dit is veral die braaikuikenbedryf wat baie sojaboonprodukte en veral soja-oliekoek verbruik.

Hierdie bedryf is geweldig kompeterend – nie net binnelands nie, maar ook vir invoere van buite. Braaikuikenproduksie het talle innovasies en ontwikkeling beleef wat hierdie tipe boerdery besonder kompleks en insetspesifiek maak. Ten einde in die bedryf se behoeftes te voorsien, moet ’n konstante hoëwaardeproduk ten alle tye beskikbaar wees. Dit is hier waar die probleem inkom. Dis noodsaaklik dat almal in die waardeketting saamwerk ten einde ’n hoëwaardeproduk te le­wer. Indien dit nie die geval is nie, sal die voerbedryf gedwing word om hul behoefte van buite Suid-Afrika te bekom.

Die plaaslike sojaboonbedryf het in die laaste paar jaar geweldige uitbreiding beleef. Die groei was in produksie sowel as in verwerkingskapasiteit. In die oliesadebedryf is nie net volume nie, maar ook kwaliteit belangrik. Fokus moet dus geplaas word op die hele ketting (produksie, verskaffing en verwerking) om volhoubare doelwitte vir die bedryf te verseker en sodoende ’n kompeterende produk te lewer.

Hierdie stelling beklemtoon die belang van samewerking tussen produsente, verwerkers asook die eindverbruikers in die oliesadesektor.

Oorhoofse bedryfsposisie
Die plaaslike sojaboonperskapasiteit word tans in die omgewing van 2,6 miljoen ton geraam. Gedurende die 2019/2020-seisoen is 1,48 miljoen ton sojabone volgens die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) gepers, wat sowat 57% van die plaaslike pers­kapasiteit opgeneem het. Aan die produksiekant is gedurende 2018/2019 1,54 miljoen ton sojabone geproduseer. Die laaste vyf jaar se gemiddelde produksie is al 250 000 ton beter as die laaste tien jaar se gemiddelde produksie. Sojabone word tot heelwat produkte verwerk, maar van die rofweg 1,2 miljoen ton sojabone wat plaaslik beskikbaar is, word 876 000 ton of 73% tot oliekoek verwerk. Dit bevestig net weer die belangrikheid van die gehalte van die oliekoek wat beskikbaar gestel moet word.

Aan die verbruikskant bly die grootste verbruikers die vee­voerbedryf. Tussen volvet en sojameel rapporteer die Vereniging van Veevoervervaardigers (AFMA) plaaslike verbruik vir 2019/2020 as sowat een miljoen ton, waarvan 403 403 ton ingevoer is. Hierdie syfers dui daarop dat binnelandse perskapasiteit wel deur plaaslike verbruikers opgeneem kan word. Die syfers toon ook duidelik dat genoegsame plaaslike vraag wel bestaan om die plaaslike produksiekapasiteit volhoubaar te benut.

Soos die syfers hierdie potensiaal beklemtoon, bevestig dit die noodsaaklikheid vir die waardeketting om konstant rou materiaal van hoë kwaliteit aan verwerkers te verskaf en sodoende die huidige invoerbehoefte te vervang.

Kwaliteitaansprake
As sojabone gepers word, word hoofsaaklik olie en oliekoek geproduseer. Sojabone van swak kwaliteit lei tot ’n lae oliefraksie asook oliekoek met ’n lae proteïeninhoud. Dit is beslis nie wat die verbruiker vereis nie. Produsente moet kwaliteit­sojabone lewer wat verkieslik afsonderlik geberg en aan die perse gelewer kan word.

Ten einde ’n vlagskipproduk van hoë waarde aan die verbruiker beskikbaar te stel, is die verbouingspraktyke van sojabone geïdentifiseer as die grootste drywer vir ’n pers om soja-oliekoek van goeie gehalte te kan lewer. Enige pers kan die gelewerde produk se gehalte belemmer, maar geen pers kan die gehalte van die produk aan hom gelewer, verbeter nie. Hier moet fokus geplaas word op veral die proteïen van die oliekoek, aangesien dit soos reeds genoem die grootste segment van die produk uitmaak. In die oliekoekmark moet gekompeteer word met gehalteprodukte wat goed­koop vanuit die buiteland beskikbaar is.

Om hierdie voordeel te ontwikkel, is sa­mewerking tussen produsente, silo’s en verwerkers nodig. Gefokusde navorsing moet gedoen word, wat alle partye se be­lange rakende waardetoevoeging kan begin meet en verdere volhoubaarheid ontwikkel. Die belang van kultivarkeuse, bemestingspraktyke asook tipe grond waar verbouing optimaal kan geskied, moet meer effektief gemeet en aangewend word. Produksie behoort slegs op gronde met hoër potensiaal te geskied as gevolg van die hoërinkomste-effek van minder hektare.

Belangrikste produksiefaktore vir verdere ontwikkeling
Ten einde die sojaboonkwaliteitsprobleem te takel, sal holisties na die saak gekyk moet word. Produsente, insetverskaffers asook verwerkers van sojabone sal moet saamwerk om hierdie probleem die hoof te bied.

’n Paar aspekte wat definitief aandag moet geniet (veral deur telers), is die volgende:

  • Sojaboonproteïeninhoud, wat die drywer van kwaliteit op oliekoek is.
  • Opbrengspotensiaal van sojabone, wat die winsgewendheid van die produsent verhoog.
  • Sojaboonaanpasbaarheid, wat veral ri­siko van klimaat kan beperk.
  • Effektiewe bemesting, wat beide produksie en winsgewendheid sal verhoog.
  • Sojaboongradering.
  • Olie-inhoud van sojabone, wat die vetsuurprofiel beïnvloed.
  • Die sojaboonnetwerk, wat die afstand vanaf perse en geografiese voordele sal bevorder.

Die waardeketting self sal ook moet gaan huiswerk doen. Verbruikers se behoeftes rakende kwaliteit en kwantiteit moet bekend wees om sodoende die beste waardeproposisie aan hulle te bied. Voldoen eerder aan hoër standaarde, as wat alternatiewe verskaffers uit die mark gehou moet word. Die vertrekpunt oor die langer termyn moet dus wees om in die behoeftes van die verbruiker te voorsien, wat dan ’n premieverbetering vir produsente tot gevolg kan hê.

’n Verbruiker se behoefte wat oliekoek betref, is grootliks proteïen – in besonder die konstantheid van proteïenpersentasie. Dit help nie oliekoek is beskikbaar, maar die kwaliteit wissel dramaties tussen vragte nie. ’n Te hoë proteïenpersentasie is net so sleg as ’n te lae proteïenpersentasie. Dis die belangrikste mededingende kwaliteitseienskap waarteen plaaslike verwerkers moet kompeteer, veral met invoere vanaf Afrika (Zambië) en Argentinië.

Die perse, wat as skakel in die bedryf dien en die meganisme van waardetoevoeging is, se behoefte lê ook grootliks in hoëkwaliteit­sojabone en die bestuur daarvan. Die doel is om ’n kwaliteitproduk effektief te verwerk en as voorkeurkeuse in die mark te verkoop. Dit het tot gevolg dat produksiekapasiteit maksimaal gehandhaaf kan word en dat bottelnekke in oliekoekverskaffing en vol store uitgeskakel word. Met rou materiaal van meer konstante kwaliteit kan perse se vermoë met volume en vloei meer effektief wees. Dit sal lei tot die mees effektiewe benutting van belegging asook beter marges. Sodoende word die koste vir die verbruiker verminder.

Silo’s wat sojabone ontvang, moet fokus op fyner bepaling van kwaliteit en die opberg daarvan. Produsente se lewering wat kwaliteit betref asook die area van produksie sal bydra om die hoofdrywers van kwaliteit en waardetoevoeging te identifiseer en effektiwiteit aan produsente te kommunikeer met die doel om produksie te optimaliseer.

Naspeurbaarheid deur die hele bedryf is belangrik. Sodoen­de kan produsente die beste tegnologie aanwend om die beste produkte te lewer en die opbergers en verwerkers kan weer inligting aan produsente deurgee. “Om te meet is om te weet” sal die fokus moet wees as die kwaliteitsprobleem getakel wil word. Produsente kan dan die beste produksiestelselinligting ontvang en aanwend en sodoende die winste verhoog. Die verskillende streke se klimaatsverskille en kwaliteit kan vergelyk word. Die daarstel van realistiese doelwitte reg deur die bedryf is van kardinale belang. Bedryfsdoelwitte sal help om die einddoelwitte te bereik en sodoende die sojaboonbedryf oor tyd volhoubaar te verbeter. Die doelstelling bly steeds om effektiwiteit in elke skakel van die waardeketting te meet en te maksimeer om sodoende bedryfsvolhoubaarheid te verseker.

Kompetisie
Daar sal altyd kompetisie binne die sojaboonbedryf wees. Tans kan sojabone en sojaboonprodukte in- en uitgevoer word, met die gevolg dat die bedryf moet weet wat in die wêreld aan die gebeur is. Die wêreldvoorraad van sojabone bly op rekordhoogtes en plaaslike produksie of verbruik kan op mediumtermyn geen invloed daarop hê nie. Die grootste rolspelers wat produksie en verbruik betref, bly Suid-Amerika, Noord-Amerika en China – hulle bepaal die grootste deel van die prys. Ongelukkig bepaal hierdie lande ook wat die kwaliteit van sojaboonprodukte in die wêreld is en dit sal in ag geneem moet word.

Die plaaslike produsent en verwerker moet aandag gee aan wat internasionaal aan die gebeur is. Om mee te ding, sal die plaaslike bedryf moet fokus om effektiwiteit te verbeter met produksiepraktyke en ’n klem op die identifisering van kultivars. Uit die aard van huidige gradering, wat grootliks net na fisiese eienskappe van sojabone kyk, mag die grootste drywer vir waardetoevoeging moontlik ’n graderingsraamwerk insluit.

Verder sal die bedryf moet saamwerk om ’n strategiese plan, wat hulle sal toelaat om met internasionale markte mee te ding, te implementeer. Dit sal die produktiwiteit en effektiwiteit van sojaboonproduksie versnel, verwerking verbeter en sodoende volhoubaarheid in die plaaslike bedryf verseker.