Heffing maak die deur oop vir nuwe tegnologie

Gepubliseer: 7 September 2020

1132
Gert Heyns,
uitvoerende hoof-bestuurder, SACTA

Gedurende Junie 2018 het die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (soos dit nou bekendstaan) ’n statutêre heffing op sojaboongraan ingestel. Die uitsluitlike doel van die heffing was om die heffingsfondse aan saadmaatskappye uit te betaal volgens hulle markaandeel in die sojaboonsaadmark.

Omdat terughougraan tot ’n groot mate gebruik word om sojabone jaarliks aan te plant, bied die heffing ’n verdere aansporing aan saadmaatskappye om in produkontwikkeling te belê. Saadmaatskappye moet die fondse aanwend om te verseker dat sojaboonprodusente deurgaans toegang tot die beste saadgenetika moontlik asook die nuutste biotegnologie het.

Die aanvanklike goedkeuring van die heffing was vir ’n periode van twee produksieseisoene – wat op 28 Februarie 2021 ten einde loop. Kultivarontwikkeling, evaluasie, registrasie en vermeerdering is ’n proses wat oor ’n paar jaar gebeur. Selfs kultivars wat uit buitelandse programme in Suid-Afrika vrygestel word, word ook vir twee of drie seisoene geëvalueer vir aanpasbaarheid en prestasie. Dan moet die kultivars wat suksesvol is, ingedien word vir proewe en kultivarregistrasie, alvorens dit verkoop mag word. Saadvermeerdering neem ook ’n seisoen in beslag.

Sedert die heffing in Maart 2019 vir die eerste maal ingestel is, is baie goeie vordering gemaak met die vrystelling van nuwe biotegnologie asook nuwe sojaboonkultivars. Die eerste nuwe biotegnologie wat verwag word, bied oplossings wat ’n kombinasie van insekbeheer en glifosaattoleransie bevat (INTACTA Roundup Ready2 Pro). Hoewel die nodige vrystellingsproewe reeds ’n geruime tyd terug begin is, moet die effektiwiteit van die tegnologie onder alle omstandighede bewys kan word. As gevolg van klimaatsomstandighede en wisselende insekinfestasievlakke moes bykomende werk gedoen word om die nodige data en inligting te verkry. Die data en dossier word eersdaags ingedien vir deregulering. Indien die dereguleringsproses volgens plan verloop, moet kultivars wat die tegnologie bevat eers geregistreer word. Beperkte volumes saad behoort dan vir die 2022-plantseisoen beskikbaar te wees.

Die ontwikkeling van die heffingstelsel het ’n baie positiewe boodskap aan die internasionale saadmark gestuur en twee saadmaatskappye het die afgelope seisoen plaaslik begin met die nodige biotegnologie-vrystellingsproewe vir nuwe onkruiddoderweerstand (glufosinaat). Hierdie tegnologie sal in die toekoms baie belangrik wees om onkruiddoderweerstand in gewasse te bestuur.

Heelwat nuwe kultivars – ongeveer 30 – uit plaaslike en buitelandse teelprogramme is ook oor die afgelope drie jaar vir produksie vrygestel. Sojaboonkultivars word in verskillende groeilengtes gegroepeer en dit is uiters belangrik dat die regte groei­lengte in die regte klimaatsgebied aangeplant word. Waar sojabone in die verlede hoofsaaklik net in die koeler oostelike produksiegebiede geplant is, word dit nou ook met groot sukses in die warmer westelike produksiegebiede geproduseer. Dié sukses kan toegeskryf word aan die plaaslike ontwikkeling van asook inbring van aangepaste genetika. Hierdie en nuwe kultivars kan nou en in die toekoms, met die nuutste biotegnologie ingesluit, beskikbaar gestel word.

Die teling-en-tegnologieheffing het tydens die 2019/2020- en die 2020/2021-graanbemarkingseisoene onderskeidelik ’n bedrag van R65/ton en R80/ton beloop. Die aansoek vir die voortsetting van die heffing behels ’n bedrag van R57/ton vir die 2021/2022-graanbemarkingseisoen en R55/ton vir die 2022/2023-graanbemarkingseisoen. Die vraag kan gevra word waarom die heffing van seisoen tot seisoen wissel. Die heffingsbedrag wissel vanweë die feit dat die gemiddelde graanprys van die voorafgaande seisoene gebruik word as basis en ’n vaste persentasie daarvan as heffingsbedrag bereken word. Die styging of daling in die huidige graanprys sal dus ’n effek op die toekomstige heffingsbedrag hê.

Om die onderskeie saadmaatskappye se markaandeel te bereken, word gebruik gemaak van inligting betreffende saadverkope, graanlewerings en marknavorsing. Dit is veral met graanlewerings waar produsente ’n belangrike bydrae kan maak tot die sukses van die stelsel en om te verseker dat saadmaatskappye hul regmatige aandeel van die heffing kry. Die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) vra produsente om tydens graanlewering te verklaar watter maatskappy se saad gebruik is om die graan wat gelewer word, te produseer – selfs al sou dit van terughougraan kom. Produsente moet daarop aandring dat dit wel aangeteken word tydens lewering en seker maak dat dit korrek aangeteken is. Hierdeur word die geloofwaardigheid en integriteit van die stelsel, wat moet verseker dat Suid-Afrika in die toekoms mededingende genetika in die sojaboonbedryf het, versterk.

Die ontwikkeling en instelling van ’n heffingstelsel met die uitsluitlike doel om teling en nuwe tegnologie te bevorder, het die ingesteldheid van saad- en tegnologiemaatskappye jeens die Suid-Afrikaanse sojaboonsaadmark – wat gekenmerk word deur ’n hoë persentasie terughougraan wat as saad gebruik word – totaal verander.

Hierdie heffingstelsel sal heel moontlik in die toekoms verfyn en aangepas word, maar moet gesien word as ’n belangrike langtermyninvestering in die sojaboonbedryf om te verseker dat sojaboonproduksie in Suid-Afrika winsgewend, optimaal en volhoubaar kan plaasvind.